Niks is die eerste keer perfek nie

  • 0

Dis warm in Puerto Princesa. Die lughawe is beknop en bedompig en ons almal probeer so na as moontlik aan die aircon sit. Voor in die wagsaal maak ’n groep blinde mans musiek, daar is ’n kitaar en ’n saksofoon, tromme en ’n sanger, en af en toe kom daar ’n mandjie verby vir donasies.

Sean noem my “airport Annetjie” wanneer ek gespanne raak. Tydens ons twee jaar in Asië het ek beslis dié naam verdien. Ons is nie seker wanneer ons vliegtuig kom nie, ons is nie seker of ons vroeg of laat is nie. Ons is honger en moeg en die geld wat ons so mooi gespaar het, is besig om vinnig uit ons beursies te verdwyn. Ja, die Fillipyne en oral in Suidoos-Asië is spotgoedkoop. Maar ons het vliegkaartjies om op 1 Mei vanuit Singapoer terug te vlieg Suid-Afrika toe en drie maande om daar uit te kom. Die plan is om soveel lande as moontlik te besoek waarvan die land van heerlike mango’s eerste is.

En ons is al klaar gatvol, meestal vir mekaar.

Terwyl ek in die lughawe rondloop en probeer uitvind waar, wat, wanneer en hoe, sit Sean terug en vang ’n siesta. Drie ure later kom die vliegtuig tog aangedwarrel en staan ons in ’n lang ry tussen mans en vrouens en ’n swetterjoel swetende kinders om op te klim.

Sean sê ek moet leer om te chill. Dis ’n refrein wat dikwels herhaal word in ons twee jaar in die Noordelike halfrond en hel, ons sewe jaar as ’n paartjie. Ek worry te veel en hy te min, maar tussen die twee van ons kom ons darem iewers uit.

Al weet ons nie altyd waar nie.

Die eintlike storie is in die begroting, tussen die noukeurige syfers wat ek elke aand neerskryf: Dag 18 – 345 pesos vir ’n kamer, 590 pesos vir ’n motorfiets, 50 pesos vir ontbyt, en so gaan dit aan. Aan die einde van elke dag tel ek op hoeveel ons spandeer het en hoeveel ons oor het om verder te gaan. Ek skryf alles neer, name, nommers, plekname, aanhalings in lughawens terwyl ons sit en wag vir vliegtuie wat Suid-Afrika se busdienste vervelig en voorspelbaar laat lyk.

Dit irriteer Sean grensloos. Hy sê ek verbeel my my lewe is ’n grênd narrative. Ek hou my notaboekies sorgvuldig in my rugsak langs my kopie van On the road. Hel, as iemand die begeerte om alles te onthou verstaan is dit Jack Kerouac.

Vanaf Puerto Princesa vlieg ons Cebu toe waar ons op ’n boot klim vir Bohol. Na ’n aand deur die onstuimige Cebu Straight arriveer ons in die piknagdonker in Tagbilaran, Bohol se hawestad, waar mans op tuk-tuk’s sit en wag om ons na ons wonings te neem. Na vorige toerprobeerslae waar ons soms letterlik die agteros se stert gesien het, het ek ons les geleer. Ek het lank voor die tyd plek bespreek by Nuts Huts iewers in Bohol.

So kry ons ’n tuk-tuk wat ons te veel geld vra maar tyd vir kla is min, dis al piknagdonker en Nuts Huts is ’n goeie uur se ry weg, dalk meer op ’n motorfiets met ’n sidecar.

Na ‘n lang ruk waartydens dit gevoel het asof al my binnegoed op die stofpas uitgeskud het stop ons chauffeur en sê ons is hier. Waar is hier? Nee dis so ver as wat hy kan gaan, ons moet die res loop.

Gelukkig het Sean ’n slimfoon en ek kan die vrou, ’n Vlaamse tannie by Nuts Huts bel. Sy weet dadelik waar ons is en is min gepla, ons moet net af in die pad stap tot ons aan die bopunt van die trappe kom.

Die bopunt? Seker tog die voet? Sy’t gesê stairs maar ons het aangeneem sy bedoel steps.

Sy het toe bedoel stairs.

Ons loop en loop maar ons kry nie die verdomde trappies nie. Hier en daar is ’n sinkdakhuisie en met ons geskarrel en later gebakleiery maak ons honde en kinders wakker.

Ek bel haar weer, maar sy’s nie gegooi deur die paniek in my stem nie. Nee, sê sy gerusstellend, julle sal dit sien, dis ’n groot stel trappe.

Ons begin van die pad afdwaal want dalk is die trappe tussen die bome. Maar dis ook nie daar nie en nou is ons lelik die moer in vir mekaar, want ons rugsakke is swaar en ons het lanklaas gesit.

Uiteindelik kom ons by die einde van die pad en daar, sowaar, is ’n moerse stel trappe wat lei na wat in die donker net soos Nietzsche se afgrond lyk.

Bel haar weer. Ja, julle is hier. Kom af na die restaurant toe en iemand sal julle na julle kamer toe neem.

Toe het ons nog niks geëet sedert ontbyt nie, maar ons begin trappe klim. Na wat soos ure voel kom ons in die kombuis aan waar ons ons rugsakke neersit en ons skoene uittrek. Kombuis is toe, ons sal die volgende oggend moet eet. Ons is te pootuit om om te gee, ons wil net gaan slaap.

Nog ’n lang stel trappe later (ek kon sweer hoe nader ek aan huil kom, hoe langer word die pad) stop ons gids voor ’n boom en lig ons is ons woon nou in The Color Purple. Ja, ja, maar toe ons opkyk sien ons, ’n boomhuis! En ons klim toe maar weer.

Volgende oggend is ons vroeg uit die kooi en toe ons by ons boomhuis uitklim sien ons die hele wêreld. Elke hut (Nuts Huts onthou!) is ’n ander kleur geverf en spog met ’n beroemde fliek se naam. Voor ons strek die vallei groen en vrugbaar en eindeloos ver, en agter ons is die grootste stel trappe, werklik stairs toe, wat na die hemel toe strek.

Wie sou kon raai, die hemel is toe al die tyd bo én onder ons.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top