NG Kerk, palissades

  • 0

Aandwandeling in die buurt van my jeug –
groter witstinkhoute, kleiner huise,
perspektief se groeipyn in my ledemate.
Gaan langs die NG Kerkgebou staan,
nou agter staalheining gebarrikadeer.

As kind het my oë lyne ondersoek –
spitsige ruite, driehoekige sjablone
wat dak en plafon se nate napraat.
Iewers dominee Wannenburg se vae dreunsang
wyl my boude die banke intiem bestudeer.

Vanaand voer ek  ’n ander gesprek –
ek staan buite, maar my ouer ore hoor hoe buikspreek
Frank Lloyd Wright iets van vorm wat funksie navolg,
merk hoe lig die dak op mure lê,
hoe toring tot klok boontoe beur.

Dat dié konstruksie my vanaand so bekoor.
Wie sou die planne opgetrek het? wonder ek later hardop.

My ma loop die koster raak, vra oor die argitek –
hy sal kyk, sê hy, daar’s ’n plaatjie teen die muur.
My ma sê die koster sê daar was verlede week nege begrafnisse,
die afgelope twee maande een troue
en hy kan nie onthou wanneer laas is ’n kind gedoop nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top