… jy raak alweer kreatief, glibberig wil ek my verstout om te sê. Ek het nooit gesê dat taal nie verander nie en nou, volgens jou laaste brief, het jy my kamtig oorreed dat Afrikaans wel verander. Ek het jou mos lankal gesê dat Afrikaans, soos Duits of Engels, nie meer soos 'n eeu of twee gelede gepraat word nie.
Ons is terug waar ons begin het. Ek het vir jou gesê verandering is nie noodwendig groei nie; dit kan gestadigde dood ook beteken. Verder het ek jou op jou sirkelargument gewys, naamlik dat as Afrikaans nie aanpas nie (volgens jou die opneem van Engelse woorde) gaan hy sterf (oorgeneem word deur Engels), dus, as Afrikaans nie die verengelsing aanvaar nie gaan die taal verengels.
Ek het vir jou gesê die lukrake ingooi van Engelse woorde is nie verandering (of aanpassing dan) nie; dit is slordige taalgebruik maar jy hou vol dis aanpassing. Om die 'is-issie'-redenasie stop te sit het ek jou probeer wys dat so 'n sin soos "usually as ek my goals geset het achieve ek hulle" is nie Afrikaans nie want 'n Afrikaanssprekende wat nie Engels ken nie sal dit nie verstaan nie. Dit is nie kommunikasie deur middel van Afrikaans nie.
Jy sal ook nooit so iets kan vertaal in 'n ander taal nie (sê taal X) want jy sal nou 'n taal Y moet soek wat deur X-sprekers as superieur beskou word; X-sprekers se tweede taal wat hulle eintlik graag, om sosiale redes, ten volle wil bemeester. Waar gaan jy so-iets kry? So, as 'n stuk teks in geen ander taal vertaal kan word nie is daardie teks nie 'n taal nie.
Jy gaan ook heel kreatief om met die geskiedenis. Die borde wat om die kinders se nekke gehang was, was 'n onlangse anti-Afrikaanse aksie; dit het met my skoonma gebeur wat in die 20's gebore was. Dit moes dus in die laat 20's tot vroeë 30's gebeur het en toe was Afrikaans al heel gevestig. Dit was dus nie 'n praktyk toegepas teenoor swak Afrikaans nie maar teen Afrikaans per se.
Ek weet nie of ek die ou is wat eerste van verbastering gepraat het nie; indien wel was dit 'n fout want verbastering is 'n groot bydraende faktor by Engels (en miskien Romeens ook, en Yiddish en miskien nog 'n klomp tale). Definitief het verbastering ook 'n groot rol in die ontstaan van Afrikaans gespeel.
Jy moet egter nie verbastering, aanpassing en groei verwar met versmoring deur Engels nie. Die ou wat die gewraakte sin ge-uiter het is die gevolg van (regeringsgedwonge) Engels in die werkplek en hy is nie meer geoefen in sy eie taal nie; om te kommunikeer gryp hy na die woorde wat eerste sy gedagte te binne skiet en dit is die Engelse woorde wat hy daagliks gebruik. 'n Afrikaanssprekende wat min kontak met Engels het sal hom nie verstaan nie.
Jy sê ek sê ek is 'n ' ... voorstander vir die verandering van Afrikaans.' Sover ek kan onthou het ek nooit so-iets gesê nie want, of ek nou 'n voorstander is of nie Afrikaans, soos Duits of Frans, sal verander. Wat ek wel gesê het is dat die feit dat tale gedurig aan die verander is, geen regverdiging vir kontaminasie van Afrikaans deur Engels is nie. Om kontaminasie te identifiseer is eenvoudig; jy vra jouself die vraag af of 'n Afrikaansspreker wat nie Engels magtig is nie dit sal verstaan.
Jy vra steeds ek moet daardie sin in Afrikaans vertaal. Ek het dit mos gedoen maar hier's hy weer: Gewoonlik, as ek vir my 'n doelwit gestel het, sal ek dit bereik of, gewoonlik, as ek vir myself doelwitte gestel het, bereik ek hulle of ek bereik gewoonlik die doelwitte wat ek vir myself gestel het of so-iets of so iets (kan nie meer onthou hoe jy my hier reggehelp het nie).
So, om op te som: Daar is 'n verskil tussen kontaminasie en groei en ons moet kontaminasie vermy soos varkstr#nt op toebroodjies.
Laat dit juig daar by jou
Jan Rap
NS Om jou laaste vraag te antwoord, naamlik of verandering in Afrikaans tot 'n nuwe taal sal ek sê dit hang af. As daar 'n taalbeweging ontstaan met 'n koerant soos Die Patriot en die ouens maak 'n woordeboek en spelreëls en produseer 'n letterkunde dan sal ek sê ja dit is moontlik want kyk wat het met Hollands hier gebeur.


Kommentaar
Jy praat van 'kontaminasie'. Waar kry jy so 'n Afrikaanse woord? Al is dit moontlik in die HAT, dit bly 'n aakilige woord. Wat het geword van besmetting of beteken dit iets anders? Is besmetting nie juis wat hier plaasvind nie? Jou verduideliking van kontaminasie is nie so eenvoudig nie. 'n Anglisisme (kontaminasie) is wanneer 'n Afrikaanse woord bestaan maar jy gebruik dit nie.
Ek weet nie hoe lank jy al hier lees nie maar ek het in die begin 'besmetting' gebruik. Op 'n stadium het ek gevoel dat dit 'n meer biologiese betekenis het en ek het toe oorgeslaan en 'kontaminasie' gebruik. Maar jy het gelyk, besmetting is dalk hier meer gepas want dit lei tot verrotting en dood. So, dankie vir die uitwys van daardie fout; ek sal liewer weer besmet gebruik.
'n Anglisisme is meestal Engelse sintaks wat inkruip soos 'ons hardloop 'n program', 'as jy bietjie wil inlê' (in plaas van laat slaap), 'die tyd hardloop uit', 'dit doen' as antwoord op die vraag of dit reën ens ens.
Dan ook woorde soos kontaminasie, eventueel, intensie, seleksie, informasie ens ens.
Engelse woorde wat net so gebruik word, woorde soos introduce, goals, achieve, simmer, usually, even, amazing, stunning, awesome, government, council ens is nie anglisismes nie, dis 'n gemors, smetwoorde, slordige spraak.
'Kontaminasie', word gebruik as ons te make het met taalkunde. Besmetting wanneer kos bv besmet word met kieme. HAT dui die twee gebruiksmomente duidelik aan.
Beste Jan,