Kreasioniste is erg lief daarvoor om tegniese jargon te gebruik in hulle skrywes. Hulle dink so sal hulle akademiese geloofwaardigheid bekom. By nadere ontleding blyk dit dat hulle nie ʼn snars verstaan, selfs wat hulle self skrywe nie.
Hulle verstaan bv die term “natuurwet” geheel en al nie. Hulle dink dis ʼn wet neergelê deur een of ander bonatuurlike wese daar bo anderkant die wolke.
Eenvoudig gestel, ʼn wetenskaplike, of natuurwet is ʼn beskrywing deur ʼn mens of mense van dit wat hulle bestudeer het en waargeneem het in die natuur en die heelal. Isaac Newton het bv die beweging van hemelliggame bestudeer en in ʼn swaartekragwet beskryf, waarin hy met wiskundige presiesheid die bane van die planete voorspel. Dit staan bekend as die Kepler-Newton swaartekragwet. As ʼn bal in die lug opgegooi word, val dit terug aarde toe a g v die aantrekkingskrag van die aarde. Dis mos nou onsinnig om te beweer dat dit Newton se swaartekragwet is wat dit laat gebeur. Dis net so onsinnig as om te beweer dat ʼn sportverslaggewer se verslag oor ʼn rugbywedstryd bepaal het hoe die spel verloop het.
So ʼn maklike begrip verstaan iemand soos Kobus glad nie, want nadat ek dit aan hom verduidelik het, gorrel hy nog: “Jy begryp nie eens die strekking van die taal nie … wat nog te sê die res. As jy reg moes wees, sou dit beteken dat niks in die natuur sou plaasvind totdat dit deur een of ander knaap geformuleer of beskrywe is nie, want dan eers verkry dit krag van 'n natuurwet en word dit 'n vaste werkswyse.”
Die bewering dat natuurwette die heelal beheer, bewys dat die kreasionis nie die vaagste benul het wat in die wetenskap aangaan nie. Hulle haat die idee dat natuurwette ʼn beskrywing is van wat in die natuur plaasvind en daarom mensgemaak is. Hulle beweer dat hierdie wette onafhanklik van die mens is en gemaak is deur ʼn goddelike wetgewer. Dis vir hulle ononderhandelbaar, want as natuurwette mensgemaak is, dan is die goddelike wetgewer mos onnodig. Nou wonder ek maar net wat die goddelike wetgewer gemaak het toe Einstein begin byvoeg en verander het aan die swaartekragwet. Dan moet ook onthou word, Einstein het gewerk met fisika op ʼn groot skaal. Kwantumfisika werk op uiters klein skaal. Nou lyk die swaartekragwet heel anders.
Die kreasionis is net so gaande oor oorsaak en gevolg. FC Boot sleep dit by alle onderwerpe aan die hare by, en Kobus spring ook op die waentjie en ry saam. Alle gevolge het ʼn oorsaak, maar vra wat God veroorsaak het, dan draai hulle net daar nek-om en beweer dat hy die enigste ding is wat nie ontstaan het nie. Hy was glo altyd daar.
Eintlik is oorsaak-gevolg-wet ʼn speeldingetjie vir filosowe en teoloë, eerder as wat dit ʼn gevestigde wetenskaplike wet is. Dit verskaf geen antwoord, oplossing of verduideliking vir enige wetenskaplike probleem nie. As iemand ʼn vuurhoutjie trek en gas aan die brand steek, help dit nie om vir my te vertel dis die wet van oorsaak en gevolg nie. Dis beter om vir my te verduidelik dat die gas brandbaar is in vergelyking met gas wat nie brandbaar is nie. Verduidelik vir my die verskil tussen die twee gasse, en wat gebeur as ʼn vuurhoutjie getrek word.
In die wetenskap word die woord wet of teorie of model sinoniem gebruik. Dis ʼn swaartekragwet, of -teorie, of -model. So kan ons ook praat van ʼn evolusiewet, of -model of -teorie.
(Sjoe! Nou is ek jammer ek het dit gesê, want sowaar as parra manel dra, die Kreasioniste gaan evolusie ook nou hijack soos hulle met al die mensgemaakte natuurwette gemaak het.)


Kommentaar
Angus, jy het 'n moeilike opvoedingstaak. Ten spyte van betowerende verbeeldingsvlugte, is 'n mens net nog 'n soogdier.
Ja, julle het omtrent 'n moeilike taak - om mense te probeer leer om dit wat hulle ervaar en as feite weet en beleef omtrent die realiteit van God en SY skepping te vergeet en agter julle onkunde aan te strompel. Kortom, julle gaan nie regkom nie. Jy sien, julle, die strompelendes is blindes in daardie opsig wat probeer om siende mense blind te probeer maak sodat hulle ook strompel (soos blindes).
Ek wil darem 'n regstelling maak voordat die rêrige slim manne my daarop aanvat. Die meeste verskynsels soos bv magnetisme en elektrisiteit pas binne die raamwerk van die kwantumteorie. Dit lyk my gravitasie en die kwantumteorie wil nie eintlik maats wees nie, en ons hou maar by Einstein se teorie.
Gorrel, gorrel is jou spulletjie hierbo Angus. Help nie jy probeer op so 'n manier jou eie onvermoë om terminologie en taal in die volle konsekwensie daarvan te begryp, op ander mense te probeer afskram nie.
Weereens, met die lepel vir jou gevoer - 'n natuurwet is 'n vaste fenomeen met sy enkele uitsonderings waarvolgens die natuur funksioneer. Die mens kom en neem dit gewoon waar, en boekstaaf gewoon sy waarnemings. Dus, die mens het die reeds bestaande natuurwet ontdek en dit bloot skriftelik op rekord gestel. Dit is hoe dit is en jy kan nie daarmee stry sonder om 'n krater van jouself te maak nie.
En natuurlik is die oorspronklike natuurwet (in sy volledige, perfekte formaat) van God afkomstig want God het die skepping eers haarfyn beplan en toe in werking gestel daarvolgens.
Kan jy dit bestry met feite (nie jou eie versinsels nie)? Kan jy bewys dat die natuurwet nie reeds bestaan (met ander woorde, die natuur daarvolgens funksioneer) het voor een of ander mens dit op rekord gestel het nie? Kan jy bewys hoe so 'n natuurlike fenomeen wat ons natuurwette noem, ontstaan het sonder God (feite, nie bespiegelinge ens nie)?
Natuurlik nie.
Jy gorrel.
Einstein en ander soos hy het verander aan hul eie voorlopige waarnemings - in 'n poging om hul voorlopige waarnemings en gevolgtrekkings van die die reeds bestaande natuurwet in lyn te kry met daardie natuurwet. Niks meer, niks minder. Tag, jy sukkel verskriklik met insig ...
Angus,
Dis nou duidelik hoekom jy jou fisika (1) as verweer aanbied. Sowat van onsamehangende stront het ek lanklaas van jou hier gelees.
Dr Niels Bohr en Dr Albert Einstein het in die jare 1930's ernstig verskil oor die "quantum mechanics entanglement" teorie. Kortliks en lekerig:
Fotone is permanent in pare met mekaar verbind, Wat met een gebeur, die een waarna jy kyk, gebeur onmiddellik met die ander. Die verandering transendeer (transcend) die spoed van lig (in teenstelling met Dr Einstein se befaamde teorie). Al is hulle biljoene ligjare van mekaar geskei, geskied die verandering in die ander een dienooreenkomstig oombliklik.
Dr Einstein het dit betwis en was van mening dat die verandering in albei voor skeiding geskied. Empiriese eksperimente redelik onlangs het Dr Bohr korrek bewys.
Die twee fotone is ook positief en die ander negatief. En hulle ruil om. Ontelbare kere per sekonde. Die negatiewe een verskyn uit die bloute en die positiewe een verdwyn. Voeg hierby die massalose Higgs-boson wat uit die niet uit verskyn en massa aan deeltjies verleen. Nou het jy 'n "singularity" wat verbind is met iets buite homself.
Die kanse dat lewe uit primordiale soppe, souse en wat nog ontstaan het en tot ewolusie gelei het word deur wetenskaplikes bereken op 1-10¹³°°°°. Soos jy seker kan waardeer, algeheel onmoontlik.
En hiermee stem Dr Martin Rees, die hoof van die Britse Sterrewag, 'n ateïs saam. Dinge kon nie maar net gebeur het nie.
Groetnis
Raed-na-Gael
Beste Angus.
Jy sluit af met “(Sjoe! Nou is ek jammer ek het dit gesê, want sowaar as parra manel dra, die Kreasioniste gaan evolusie ook nou hijack soos hulle met al die mensgemaakte natuurwette gemaak het.)
Jy is reg om te sê Sjoe maar dan met ander betekenis. Kom ons kyk wat sê Nasa wat ‘Gravity’ is. Ek los maar die prentjies uit asook die animasie.
http://spaceplace.nasa.gov/what-is-gravity/en/
Nou uit die beskrywing is dit duidelik dat ‘Gravity’ ’n werklikheid en nie ’n teorie nie. Die werklikheid kom dus voor en nie na ‘mensgemaakte wette’ nie. ’n Mensgemaakte wet is dus niks meer as ’n opskrifstelling van die werklikheid.
Maar waar kom ‘Gravity’ nou eintlik vandaan? In http://www.universetoday.com/75705/where-does-gravity-come-from/
Daar is ook voorstelling van die ‘Universal law of gravitation’.
Dan Angus, maak jy in die begin die volgende arrogante stelling “Hulle verstaan bv die term “natuurwet” geheel en al nie. Hulle dink dis ʼn wet neergelê deur een of ander bonatuurlike wese daar bo anderkant die wolke.”
Dit lyk my jy gee hiermee te kenne dat ’n mens eers ’n ateïs moet word om te verstaan oor iets waar self die slimste wetenskaplikes nie weet waarvandaan dit kom nie. Uit die beskrywing hierbo is dit duidelik dat die mens wat self aan die natuurwet onderhewig is, weet hoe dit werk en die werking daarvan op skrif kan stel in ’n vorm wat jy ’n wet noem, maar dit is hoe ver dit gaan.
Laat dit met jou goed gaan.
So met al die slegsêery om te probeer te kenne gee hoe onnosel ek is, van Kobus, FC Boot en Raed-Na -Gael, is dit duidelik dat die menere nie 'n snars verstaan het wat ek geskryf het nie.
Kom ek verduidelik dit so aan die hand van gravitasie (dit kan enige ander natuurverskynsel ook wees): 'n wetenskaplike (Keppler, Newton, Einstein) neem dit waar in die natuur. Twee voorwerpe met massas trek mekaar aan. Hulle ondersoek hierdie aantrekkingskrag, beskryf dit dmv taal en wiskunde. Hierdie beskrywing word in wetenskaplike taal 'n wet genoem. Dis die Keppler-Newton-wet vir gravitasie. Hierdie wet is 'n teorie wat wetenskaplikes gebruik, sê nou maar, om maan toe te vlieg. (Hel! ek kan dit nie eenvoudiger as dit verduidelik nie.)
Kom ons gaan verder. Nou volg Einstein se relatiwiteitsteorie wat 'n verdere byvoeging is tot die gravitasieteorie. Net soos die relatiwiteitsteorie die vorige swaartekragteorieë gevolg het, so volg die Kwantumteorie nou die Relatiwiteitsteorie. Hierdie teorie bepaal dat gravitasie voortgeplant word deur 'n sekere partikel, genoem die graviton. (Nou moet ek weer eenvoudig verduidelik.) 'n Graviton is soos Kobus, en FC Boot ( en Raed-Na-Gael ook) in hulle sitkamers kan maak. Kom ons noem dit sommer 'n tapyton. As 'n mens 'n tapyt aan die een kant so effe lig, dan veroorsaak dit 'n golfie. As jy nou hierdie golfie vryf, dan gly hy verder weg oor die kamer, verskuif jou speelgoedjies; as jy nou met jou speelgoegkarretjie daaroor ry, dan spring hy sommer van koers af. 'n Tapyton is die kleinste rimpeltjie wat jy kan maak, maar baie van hulle kan selfs jou koffietafel en ander meubels versteur. Net so veroorsaak die gravitasieveld van 'n voorwerp gravitasiegolwe wat versprei deur die tydruimte en dit hervorm. In Kwantumteorie bestaan hierdie golf uit biljoene der biljoene gravitons en dit het die effek van gravitasie. Hier moet eers staak en sal volgende keer die verskil aandui tussen prekwantumteorieë en Kwantumteorie.
Beste Kobus,
Soos jy dit sien, is presies hoe kreasioniste dit sien. Dis mos soos ek gesê het. Dis vir julle te veel om te verstaan dat die beskrywing van 'n natuurverskynsel, die natuurwet genoem word. Die natuurverskynsel verander nooit, maar die natuurwet kan verander, bygevoeg, of heeltemal geskrap word. Vanaf die ontstaan van alles was daar aantrekkingskrag. Ons planetestelsel berus op aantrekkingskrag. Die son en die planete trek mekaar aan, lank voor daar lewe op aarde was. Mense bestudeer dit en beskryf dit en hierdie beskrywings word wette genoem. Die swaartekrag wet of swaartekragteorie van Newton. As daar 'n God sou gewees het, dan kon hy dit so geskep het dat liggame mekaar aantrek, maar die wiskunde en beskrywing het hy beslis nie gemaak nie.
Dis jy wat nie insig het nie. Keppler se wet het die beweging van die planete beskryf, Newton se byvoeging het dit nog beter beskryf, Einstein het nog verder verbeter daarop. Kwantum en String-teorie het weer 'n heeltemal ander benadering vir die gravitasiewet. Natuurlik sal julle Christene dit nooit eers snap nie, wat nog te sê, aanvaar.
Groete,
Angus
Beste FC Boot,
Jou skrywe demonstreer presies wat ek gesê het. Julle soek uiteindelik 'n oplossing in die bonatuurlike, by God. Hy, sê julle, het dit alles so geskep.
Lees weer. Ek het nie gesê gravitasie is 'n wet nie (Kobus sê so). Ek het gesê die beskrywing van gravitasie is 'n wet.
Ek gee niks te kenne nie. Wat ek sê, sê ek. Kreasioniste (almal wat glo dat God alles geskep het) sê gravitasie is sommer ook die wet, finish en klaar. Dit wat Keppler en Newton en Einstein gedoen het, is nie wet nie, dis sommer beskrywing van die wet. (So glo hulle.)
Groete,
Angus
Beste Raed-na-Gael,
As ek onsamehangende stront geskryf het, wat noem jy jou skrywe dan?
Die werkswyse in die fisika was eers prekwantum-teorieë (tot en met Einstein). Ek het nie gesê wanneer daar vir die eerste keer melding gemaak is van Kwantumteorie nie. Nou is die werkswyse kwantumteorie, stringteorie, ens. Die verskil tussen Bohr en Einstein het niks met die prys van eiers te make nie.
Jy het absoluut geen begrip van wat evolusie is nie of hoe kans werk nie.
Die kans dat evolusie sou plaasvind as daar eers lewe is, is groot. Lewe verander en pas aan by omstandighede. As omstandighede verander moet verandering plaasvind.
Die kans dat evolusie plaasvind soos dit hier op aarde plaasvind, is uiters klein, amper onmoontlik, amper, want dit het tog gebeur.
Beantwoord tog vir my, groot asseblief die volgende vraag: Wat is die kans dat skepping kon plaasvind soos in die Bybel beskryf? Ek bedoel nou oa die hopie grond waaruit Adam geskep is, en die ribbebeen waaruit Eva geskep is).
Groete
Angus
Die menere Kobus, FC Boot en Raed-na-Gael toon uit hulle skrywe dat hulle nog die grotbewonerteorie aanhang. Dit gaan min of meer so: dit wat onbekend en onmoontlik lyk word aan god toegeskrywe. Die wind, die weerlig, die donderweer, die wolke, die aantrekkingskrag van die aarde, die lewe op aarde, die son die maan, die sterre.
Tot nou toe het nog niemand, en ek bedoel niemand, bewys gelewer vir die bestaan van hierdie god nie, nog minder dat hy verantwoordelik is vir al die dinge in die natuur.
Kom, julle, dis nou tyd dat julle konkrete bewys uithaal vir hierdie god. Om net te sê die kompleksiteit van die heelal en van lewe op aarde is 'n bewys, is twak. Hoe weet jy dat God van die Bybel daarvoor verantwoordelik is? Aanhalings uit die Bybel is ook nie 'n bewys nie. Die Bybel is mitologie en ek kan dit bewys. Mitologie kan nie as bewys gebruik word nie, fiksie ook nie.
Wat weet jy van die sogenaamde 'grotbewoners', Angus? Het jy hulle nagevors? Waar is die rekords waar hulle geskiedenis en gewoontes, kultuur, ens opgeteken is deur hulle? Daar is glad nie so iets nie, dus gorrel jy weereens. Tot so 'n mate dat dit lyk of jy jouself al glo.
Angus,
In jou geskrif van 25-04, 12:18, laaste sin, sê jy "hierdie wet is 'n teorie". Hê?
Ek was onder die indruk dat jy fisika (1) het. Nou blyk dit dat jy een middag in die klas was en iets gehoor het.
'n Wetenskaplike wet is sistematies geskikte feite wat op algemeen waarneembare beginsels berus. Newton en die ander snare wat jy aanhaal, het iets waargeneem en die waarneming geformuleer. Die wetenskap het sedert daardie ouens darem baie verder ontwikkel. Wie haal hulle nog aan?
'n Teorie is 'n vermoede, 'n stel grondreëls om feite of verskynsels te verklaar, maar kan slegs 'n teorie wees indien dit 'n uitkoms voorspel wat deur navorsing en eksperimente bewys word.
'n Wet kan nie ook 'n teorie wees nie.
In jou antwoord aan my, 25/04, 14:35 sê jy "as lewe eers ontstaan het". Lewe het ontstaan, maar wat sê jy, hoe? Hoe het "koue" atome verbind om steriele chemiese verbindings te vorm wat weer verbind het om in "lewende" biologiese molekules te ontwikkel en die amoeba te gevorm het. Met die ewolusie wat hierop gevolg het, het ek vrede. Die punt is, hoe het steriele chemiese verbindings ontwikkel tot die molekules?
Dit kon nie spontaan ontwikkel het nie. Insiggewend is die woorde van Dr Einstein ('n agnostikus): "God does not play dice.”
Groetnis
Raed-na-Gael
Beste Angus
Groot denkfout aan jou kant. Christus is nie 'n bonatuurlike Wese nie, want Christus bestaan nie in ons dimensie nie, waarvan Hy volgens Christelike leer en oortuiging die Skepper is en sy skeppingskrag weerspieël.
Ons dimensie is nie tydloos nie. Christus is teenwoordig en was nog altyd 'n tydlose dimensie, 'n oneindigheid. Ons dimensie gaan eendag tot 'n einde kom, want alles wat 'n begin het het 'n einde.
Christus deur sy lewe, sterwe en opstanding is die primêre bewys van 'n entiteit
wat uit 'n tydlose dimensie tydelik in ons dimensie kom woon het 'seën val al die nasies.'
Jou probleem is dat Christus gereduseer het tot op 'n menslike vlak en dus presies redeneer soos die mense wat hom gekruisig het. Grotbewoners het 'n groter besef as jy van dit gehad want hulle het al duisende jare gelede 'n 'geestelike' belewing gehad en om wêreldwyd skeppingsverhale oor en oor van geslag tot geslag vertel.
Geen gewone mens kan ooit bonatuurlik word nie, want ons is deel van die natuur
en die gevolg van 'n natuurlike proses wat jy tot 'godstatus' verhef het terwyl jy eintlik
saam met alle ander wetenskappe beoefen wat niks meer as een groot ontdekkingsreis en manipulering van die bestaande is nie.
Het die wetenskap al enigiets ontdek waarvan die begin nie in die natuur te vinde is nie?
Hi manne
Ek sien Kosie en sy Kabouterbende is aan die gang hier op die Sê en arme Angus probeer moedig om hulle iets te leer. Amper soos om vir Zumpies te kry om DA te stem!
As wetenskaplike kan ek net sê dat Angus 100% in die kol is. Kosie en die kabouters praat loutere snert en stel hulle onkunde pragtig ten toon.
Julle tempteer my om my sleutelbord nader te trek.
Groetnis
Thomas
Thomas, jy 'n wetenskaplike? Moenie ons laat lag nie ... Jou bydraes in die verlede was in elk geval niksseggend, ongefundeerd en meestal vol - kom ons noem dit maar - foute.
Wat het intussen verander? Jou intrapslag hier wys op die ou gesegde 'old habits die hard'.
Hi Thomas,
As wetenskaplike behoort jy te weet dat jy "by Default" nie net al klaar jou sleutelbord nader getrek het nie, maar ook "actually" al klaar gebruik het ... en nou dreig om hom verder te gebruik.
Groete
Dolf
Beste Angus
Jy beskuldig my en ander dat ons niks van natuurwette verstaan en weet nie. Maar dit is waar jy dit pot mis sit. Want volgens die veralgemening sou geen persoon wat 'n Christen is ook 'n wetenskaplike wees en die wetenskap beoefen nie.
As jy nou mooi die Genesisverhaal gelees het moes jy opgemerk het dat na die 'val' God die natuur sy normale gang laat gaan. Christus (wat jy verwerp) het dus die proses begin en sal dit natuurlik laat ontplooi tot by die voleinding.
Nou bly die onaangename taak vir my oor om aan al die ouens in my uitgebreide familie waarin daar ingenieurs en mense met meestersgrade in toegepaste wiskunde is ens, te vertel hier is 'n outjie met die naam Angus op LitNet wat sê julle wat saam met biljoene ander gelowiges wat Jesus Christus as jul enigste Verlosser en Saligmaker aanvaar as die dryfkrag agter die Oerknal "... is dit duidelik dat die menere nie 'n snars verstaan het wat ek geskryf het nie." Julle is dus duidelik onbevoeg en moet by implikasie dadelik ophou, want julle het nie verder as grotbewoners gevorder nie.
Met die volgende familiebyeenkoms, as daar nog een gaan wees, kan julle hierdie
agtergeblewe familielid onder hande neem en na 'n bier of twee verstaan ek dalk beter en as ek dan weer iets op LitNet pos sal ek beter toegerus wees en hopelik nugter genoeg om te verstaan wat arrogante ateïste my aan die verstand probeer bring.
Nouja hier het ek nou geleer dat dit nie meer nodig is om by die begin te begin nie, halfpad is ook oukei en elke gevolg hoef nie 'n oorsaak te hê nie.
Totsiens tot 'n volgende keer
Beste FC Boot,
Ateïste is maar soos alle mense; party is arrogant, party is skelm, party is eerlik, party is nederig -- net soos Christene ook maar is. Al verskil is dat die ateïs nie aan die bonatuurlike glo soos die Christen nie. Natuurlik sal daar Christene wees wat verstaan dat 'n natuurwet is die mens se poging om iets in die natuur te beskryf. Dis nou die Christene wie se oë so stadigaan oopgaan. Die Kreasionis sien dit egter nie so in nie. Vir hom is 'n natuurwet deur God daargestel. Die Kreasionis sal ook vir jou sê dat God, of die Saligmaker, die dryfkrag agter die oerknal is. Dit wil natuurlik sê as hy wel die oerknalteorie (wat onbybels is) aanvaar as hoe die heelal ontstaan het. Daarmee het ek en alle wetenskaplikes vrede. Christene kan glo wat hulle wil. Die wetenskaplike sê hy weet nie wat voor die oerknal gebeur het nie, want hy het geen bewyse daarvoor nie. Vir hom is dit eintlik onbenullig om eers te vra wat voor die oerknal gebeur het, want tyd het eers tot stand gekom na die oerknal. Wat voor dit gebeur het, laat hy oor aan die filosowe en teoloë om daaroor te gis en te spekuleer. Wat voor die oerknal gebeur het, weet niemand nie, en teoloë kan maar net glo dat God die dryfkrag is, maar hulle het nie bewyse daarvoor nie. Hulle kan nie eers bewys dat daar 'n God is nie (behalwe natuurlik die fiktiewe karakter in die Bybel).
Die probleem kom egter as die Kreasionis die wetenskaplike se werk probeer afkraak, dan kom daar verset. Die wetenskaplike doen jarelange toegewyde navorsing en die Kreasionis, wat nie die verskil tussen 'n pipet en 'n piepiepot ken nie, sit en blaas gif vanuit sy gemakstoel op dit wat wetenskaplik verrig word.
Ek is seker jou wetenskaplike familie sal verstaan wat ek geskryf het as jy dit vir hulle lees.
Groete,
Angus
Beste FC Boot,
Jy skryf: "Groot denkfout aan jou kant. Christus is nie 'n bonatuurlike Wese nie, want Christus bestaan nie in ons dimensie nie, waarvan Hy volgens Christelike leer en oortuiging die Skepper is en sy skeppingskrag weerspieël."
Die denkfout lê beide by jou en die "Christelike leer en oortuiging."
As Christus nie binne ons dimensie bestaan nie, dan is hy mos bonatuurlik. Sou hy in ons dimensie bestaan het, dan was hy nie bonatuurlik nie. In ons dimensie is daar mos nie bonatuurlike dinge nie?
Die Christelike oortuiging is nie 'n bewys van enigiets nie. Volgens die Christelike oortuiging is daar 'n god, engele, hemel, hel, duiwel; niks wat bewys is nie. Hulle glo maar net dis daar. As jy beweer dat 'n gewone mens nie 'n engel kan word nie, moet jy oppas. Dominee en broer ouderling sal jou onder sensuur plaas.
Groete,
Angus
Beste Angus
Denkfout sê jy.
Bonatuurlik beteken nie volgens natuurwette nie. Die natuur bestaan slegs in ons heelal. Bonatuurlik is dus iets wat buite die natuurwette in ons heelal bestaan.
Christus bestaan nie in ons heelal nie. Hy bestaan in 'n ander dimensie, 'n tydlose dimensie, 'n oneindigheid.
Alles wat bonatuurlik in ons dimensie (heelal) bestaan sal vergaan en ophou bestaan wanneer ons heelal tot 'n einde kom. Denkfout lê dus duidelik an jou kant.
Christus is dus 'n buite-dimensiële Wese en bestaan oneindig in 'n oneidigheid. Ons heelal is nie oneindig nie. Enigiets wat besig is om te word, dus uitdy, groter word het grense en is besig om te word. 'n Oneidigheid word nie, dit is net, daar, grensloos.
Laat dit met jou goed gaan.
Beste Raed-na-Gael,
Wetenskaplikes is eerlike mense. Hulle sê hulle weet nie hoe lewe ontstaan het nie, maar deur navorsing werk hulle daaraan.
Die Christen sê hy weet (want hy is mos vreeslik slim); dis God se werk. Hy het lewe laat ontstaan.
Kyk, dis die maklikste antwoord wat daar is. As jy nie iets weet nie, dan sê jy net dis God. Die grotbewoner het nie geweet wat wind is nie, maar het 'n antwoord daarvoor gehad: dis god wat so asemhaal en blaas.
Die wetenskap het intussen die god al hoe verder terug gedruk sodat daar nog net een vraagstuk oorbly waaraan die Christen naarstiglik klou: hoe het lewe begin?
Whê sê die Christen dan vir die wetenskaplike, julle weet nie hoe die lewe begin het nie. Dis 'n bewys dat daar 'n god is.
Dis kreasionistiese logika wat geen regdenkende mens nog ooit kon verstaan nie.
In wetenskaplike taal is teorie nie 'n vermoede nie, dis 'n bewese feit, 'n werkswyse van die wetenskap. Die swaartekragteorie, is nie maar net 'n vermoede nie, dis jarelange studie en proefneming wat taalkundig en wiskundig juiste voorspellings maak en die werkswyse van wetenskaplikes is.
Jou kennis van chemie laat jou in die steek as jy vra hoe steriele chemiese verbindings verander het in molekules. Kan jy vir my 'n voorbeeld gee, of nog beter, wat wil jy eintlik weet, want chemiese verbindings is alreeds vol miljoene der miljoene molekules?
Groete
Angus
Ons praat van die swaartekragwet of die swaartekragteorie, of die graviasiewet of die graviasieteorie. Dis vinkel en koljander.
Groete,
Angus
Angus,
Ek verwys na "lewende biologiese" molekules. Ek is ook nie 'n kreasionis nie, maar analities-logies oopkop. (Iets is nie vir my so slegs omdat ander so sê nie.) Gravitasiekrag (die swakste krag) is 'n teorie en nie 'n wet nie, omdat wetenskaplikes (gelowig of nie) nie die 'inherente aard' daarvan ken nie. Twee afgeleë voorwerpe met massa trek mekaar aan, dít is die wet, maar hoekom? Wanneer die raaisel ontsyfer is, dan sal hulle eers daarvolgens 'n ' volledige wet ' kan formuleer. Hulle het darem onlangs 'n bietjie gevorder deurdat die teorie bewys kon word dat daar 'n gravitasie-golf bestaan.
So terloops, gravitasie in die sin van die aantrekkingskrag van die Aarde word swaartekrag genoem.
Vasopdiegrond,
Raed-na-Gael.
Beste Angus
Bonatuurlik beteken iets wat bo die natuur en bo die natuurwette bestaan. Die natuur en sy wette bestaan slegs in ons dimensie, want hul het voortgevloei uit die Oerknal.
Christus is nie deel van ons dimensie nie. Hy was soos die oneindigheid altyd daar in die oneindigheid. 'n Oneindigheid word nie, dit is net. Nee die Oerknalteorie is nie teenstrydig met die Bybel nie, want die Bybel laat sig nie uit oer die hoe nie maar wel oor die Wie.
Christus wat jy verwerp, het lig op die onderwerp gegooi. 'Hemel' met Christus en 'hel'
sonder Christus is dus nie in ons heelal te vinde nie. As dit was sou dit saam met ons heelal vergaan het.
Moenie vasgevang raak in die tydelike nie. Dit vergaan, maar die 'iets' van God wat in elke mens is vergaan nie. Dit gaan dus nie om die redding van die tydelike maar om die ewige, want wat help dit as jy alles wetenskaplik ondersoek en verklaar maar jou siel ly skade?
Beste Raed-na-Gael,
Jammer om jou so aanhoudend te probeer reghelp. Gravitasie, of gravitasiekrag, soos jy dit noem, is nie 'n teorie of 'n wet nie. Dis iets wat ons waarneem in die natuur. As twee voorwerpe mekaar aantrek, soos Cavedish se eksperiment bewys wat die eerste op aarde was om die meting daarvan te doen, dan is dit nie 'n teorie of 'n wet nie. As 'n appel uit die boom val, is dit agv swaartekrag en het dit niks met teorie of wet te make nie. Dit is nie die swaartekragteorie wat die appel laat val nie, dis die swaartekrag. Dis eers as Keppler of Newton of Einstein dit bestudeer, dit beskryf en formuleer dat ons kan praat van Newton se swaartekragwet, of Keppler se swaartekragteorie of Einstein se relatiwiteitsteorie, of die gravitasieteorie, of die swaartekragwet. Hierdie teorieë en wette is slegs modelle. Die gravitasiekrag verander nooit; die teorieë en wette verander, word bygevoeg en selfs geskrap. So het die wetenskap die Skeppingsleer geskrap, want dit beantwoord nie meer aan die doel nie. In die plek daarvan is die evolusieteorie, wat 'n werkbare model vir die wetenskaplike is.
Groete,
Angus
Beste FC Boot,
Die oerknal is 'n teorie, 'n model waarvolgens weteskaplikes werk om die heelal te verstaan. Daar is ook ander modelle; een wat sê daar was nie 'n oerknal nie. Die heelal het vir ewig bestaan. Dit het nie 'n begin gehad nie.
Bonatuurlik bestaan slegs in die verbeeldingrykheid van die mens. Jy kan jou slegs verbeel daar is 'n bonatuurlikheid. Dis mos wat jy nou hierbo doen as jy sê Christus is soos die oneindigheid. Dis iets wat jy uitdink en dit dan as waarheid voorhou. Daardie "iets" in jou wat nooit vergaan nie, is ook wat jy uitdink. Daar is 'n rede voor waarom jy dit so sien. Die mens wil vir ewig lewe, en daarom is daar biljoene der biljoene gelowiges wat gryp na hierdie strooihalmpie. Dis waarom Jesus so uiters gewild is. Hy bied die ewige lewe aan vir die mens.
Groete,
Angus
Beste Angus
Jou argument sou gewig gedra het as Christus nie gelewe, gesterwe en opgestaan het nie. Net soos 'n mens jou geboorte nie kan losmaak van jou biologiese ouers nie, net so kan 'n Christen hom/haarself nie losmaak van Christus nie, deur wie se versoeningswerk ons aangenome kinders van God geword het.
Jou probleem is die verwerping van Christus. Onthou dat ons niks meer as wandelende en handelende inligtingstelsels is nie en 'inligting' vergaan nooit nie, nie eers in ’n swart gat of gate nie.
Daarom leer die Bybel ons dat in die 'wederopstanding' daar 'n skeiding sal wees gegrond op ons geloof en ongeloof, soos dit in ons lewe hier op aarde tot uiting gekom het. Jy self weet aan watter kant jy jouself sal bevind.
As 'n mens van die heelal (universe) praat is dit die heelal waarin ons ons bevind, die heelal waarin natuurkragte werksaam is en daar hoogte, breedte ensvoorts is. Ons heelal is meetbaar.
Enigiets wat tot stand gekom het soos ons heelal het 'n begin en 'n einde. Iets wat 'n begin en 'n einde het is nooit oneindig nie. Ons heelal word groter; dit is dus in wording en snel na sy einde. Omdat ons heelal in 'n oneindigheid bestaan kan dit uitdy en dus groter word.
'n Oneindigheid word nie. Dit is net tydloos. Wanneer ek as Christen dus bely dat ons heelal deur die Christus tot stand gekom het, dan sê en bely ek daarmee dat Christus voor die begin bestaan het, ongeag hoe die begin ontstaan het.
Christus het dus oneindig in die oneindigheid bestaan. Tydloos, ewig.
Mag dit met jou goed gaan.
FC
Jy sê hierbo: "Wanneer ek as Christen dus bely dat ons heelal deur die Christus tot stand gekom het, dan sê en bely ek daarmee dat Christus voor die begin bestaan het, ongeag hoe die begin ontstaan het".
Wat is jou gesaghebbende en goddelike bron vir hierdie stelling?
Beste FC Boot,
Van watter argument praat jy wat glo my argument is?
Die enigste argument van my is dat onnatuurlikheid slegs in die verbeeldingrykheid van die mens bestaan. Ek kan om die dood nie insien wat die bestaan van Jesus al dan nie daarmee te make het nie . Kan jy asseblief dit aan my verduidelik?
Nêrens, maar nêrens het ek al ooit Jesus Christus verwerp nie. (Miskien verstaan jy nie die betekenis van verwerp nie.) Wat ek gesê het, is dat Jesus Christus 'n karakter in 'n mitiese verhaal is. Nêrens is nog ooit bewyse gekry dat hy histories bestaan het nie. Dis pure twak om te sê ek verwerp hom. Bring die bewyse dat hy buite die Bybel bestaan het, en ek is die eerste ateïs wat bekeerd raak en saam met die blourokkies op die vloere rondkruip.
Jy beweer dat inligting nie vergaan nie. Wat van as ek iets op 'n stukkie papier skryf en ek verbrand dit? Of wat van as die wêreld vergaan, dan is die wêreldse inligting daarmee heen?
Wat het jou preek oor die heelal en oneindigheid nou met die prys van eiers te doen?
Groete,
Angus
Beste Angus
Jy skryf 'Wat van as ek iets op 'n stukkie papier skryf en ek verbrand dit? Of wat van as die wêreld vergaan, dan is die wêreldse inligting daarmee heen?' Nie waar nie, net moeilik herwinbaar.
Maal jou harde skyf op en strooi dit in die wind. Die inligting daarop is net nie herwinbaar nie.
Probeer vir Richard Dawkins te oortuig dat Jesus nie bestaan het nie. Christene kruip nie op die grond rond nie. Ek preek nie. As ek sê dat iets wat 'n begin en einde het nie oneindig kan wees nie, is dit mos nie 'n preek nie.
Hi Jaco hoekom probeer jy nie die vraag wat ek jou elders gevra het beantwoord nie?
Verstaan jy nie wat Jesus bedoel as hy sê dat:
Johannes 8 vers 14: "Al praat ek ook oor Myself kan julle maar glo wat ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets 'n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie belangriker om liewers te vra of 'n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie 'n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter."
Angus
Jy hou jou sommer net moedswillig dom. Jy weet die prys van eiers beteken iemand maak geld met die verkoop van eiers. En dit verskaf werk aan baie mense.
Jesus is God. God is ook Jesus. En die Heilige Gees het gehelp dat die maagd Maria geboorte skenk aan Jesus sodat Hy 'n werklike mens kan wees. Dis nie 'n wet of 'n teorie of mite nie. Lees enige Bybel en jy sal weet dis feite wat bewys is en meegedeel is deur mense wat dit óf gesien het óf deur die kragtige werking van die Heilige Gees hierdie gebeure en feite kon neerskryf en oorvertel. Jesus het deur die bitterste pyn gegaan om vir al ons mense se sondes te betaal aan God. Alhoewel Hy self God is en geweet het Sy dood gaan van korte duur wees is dit anders as gewone mense se dood wat permanent is tot hulle hel toe gaan, behalwe as jy in God glo. Dan gaan jy hemel toe en vir ewig lewe. Net soos God vir ewig is.
As jy nie die feite kan verstaan nie is jy geen wetenskaplike nie.
Die prys van eiers het baie hiermee te doen!
Beste Nicea,
Jy klink na F C Boot se alter ego (dalk miskien sy alter eggo.) As dit is, het jy nie saam met hom geloop toe hy skoolgegaan het nie, anders sou jy geweet het dat die prys van eiers niks te make het met eiers of hulle prys nie. Dis 'n idioom en beteken jy ry op heeltemal 'n ander trollie.
Net soos F C Boot, preek jy ook vir my uit die Bybel, en die Bybel is onwetenskaplik. Daar is geen feite in wat bewys kan word nie, behalwe soms die milieu en geskiedenisagtergrond. Verder is dit alles pure fiksie. Of God nou Jesus is of Jesus God, dis alles fiksie en 'n skepping van die mens se verbeelding. Die mens het dit uitgedink. As jy dalk anders dink, moet jy dit vir my bewys, as jy dan so danig wetenskaplik wil wees.
Groete,
Angus
Beste FC Boot,
Ha, jy laat my lag. Eers beweer jy dat jy nie preek nie, en dan amper in dieselfde asem, preek jy vir Jaco uit die Bybel.
Ek is nou nie lus om dit na te slaan nie, maar jou aanhaling uit Johannes 8:14 lyk vir my kom uit jou eie Bybel wat jy seker besig is om te skryf. Of dalk is dit die blourokke se Bybel wat jy kwoteer. Kry die nuwe vertaling en lees weer.
Jy sê Christene kruip nie op die grond rond nie? In my studentedae het ons soms, as ons kerk te vervelig is, een van hierdie kerke besoek en saam op die vloer rondgekruip. My vriend, Doepie, kon ook so mooi in ander tale spreek. Ek het self 'n mooi jong meisietjie aan die boud geknyp. Na die diens het sy my voorgekeer en gesê ek moet weer kom, dan sal ek die heilige gees ontmoet.
Groete
Angus
Beste Angus
Ly jy aan 'n gesplete persoonlikheid dat jy jouself en Jaco as een mens beskou?
Nee ou ek gebruik deurgaans, waar moontlik Die Boodskap - die Bybel in hedendaagse Afrikaans.
Jy sê jy moes op die grond rondkruip om 'n mooi meisie te ontmoet. Jammer om daarvan te hoor want die probleem het ek nooit in my lewe gehad nie. Is jy seker dat sy mooi was want die stof het seker tog jou ogies laat traan of hoe?
Groete
Beste FC Boot,
Voordat jy my beledig, gaan lees eers wat jy self geskryf het. Jy begin jou brief van 2016-05-06 at 15:15 met Beste Angus. Dan vertel jy my jy preek nie. Net daarna spreek jy Jaco aan met Hi Jaco, en jy preek oor wat Jesus gesê het.
As ek dit aan jou uitwys, dan wil jy kastig weet of ek aan 'n gesplete persoonlikheid ly. Dit lyk my, jy raak so 'n bietjie deurmekaar.
As jy die Blye Boodskap lees, in plek van die Afrikaanse Bybel, dan verstaan ek nou waarom jy alles so krom raaksien in die Christelike filosofie. Dis mos die heilige boek van die heppie kleppies, nie waar nie?
Groete,
Angus
Beste FC Boot,
O, ek het vergeet om te sê; ek het die jong dame se uitnodiging toe aanvaar. Sy was werklik beeldskoon, en ek het ook toe die heilige gees ontmoet, soos sy belowe het.
Groete
Angus