
Foto: Canva
Nagmaal
Ek slaan my oë vas teen die berge
ver agter die baksteenkerkmuur.
Met jou skaamte skaars toe in gips teen die kruis,
grys oë sag toe in gebed.
Sien Jy my?
Soos ek staan en sielsdood sukkel-sukkel-snak,
sonder sagte geloofsgeskenke van bo.
Alleen.
Met my gawe van oë wat
monsters
sien in Sondagkerktee en net
menswees agter die voorhangsel.
Sien Jy my?
In die streel-sagte skaamsonde,
op my knieë vir amper-liefde van bo-genoeg,
sielsiek volgens my pa se geloof, kleingemaak.
Geloof en glo is mos geskenke van bo,
gegee uit Godsgoedhartigheid,
soos my oë: skepties, sag-sukkel-soekend
na die mooi, die beste, in almal, altyd –
dit wat ek net nêrens anders vind
buite die breë mans van Godsgroen aarde.
Sien hy my

