Nag van die Zombies

  • 5

It’s astounding
Time is fleeting
Madness takes its toll ...

 Hoe het dit skielik weer nag geword?

Vir die afgelope paar dekades veg en worstel ons om vry te breek van die verstikkende duisternis waarin ons grootgeword het.

Was dit regtig so erg?

Ja, dit was regtig so erg. En erger.

Hoe kon ons so gou vergeet het van daardie nag? Die Nag van die Zombies?

Afrikanerdom in die sewentigs was ’n verstikkende donker gat van paranoia en onderdrukking. Alle dinge wat in die res van die wêreld as normaal beskou word, is boos in die oë van ons ouers en onderwysers: seks, swart mense, progressiewe letterkunde, moderne kuns, rockmusiek, you name it.

Dit is waar ons vandaan kom. Dit is die letsels wat ons nou nog dra.

Dit is die letsels wat almal dra.

Dit was my generasie. Dit is hoe ons behandel is. Dit is waar ons gevange gehou is: in die geslote en beklemmende Tupperware-houer van Afrikanernasionalisme.

Geen vars lug is daar toegelaat nie. Daar was geen debat moontlik nie. Iets soos die uitruil van individuele opinies is nie toegelaat nie. In plaas daarvan om ons jeug- en tienerjare te geniet, soos wat ons veronderstel was om te doen, is ons eenvoudig versmoor deur die alomteenwoordige liefde van die Af-God.

Die liefde van die Af-God; hoe bitter moeilik was dit om te ontsnap van daardie liefde! Hoe byna onmoontlik was dit om weg te breek van die verdoemende houvas van daardie eindelose genade, daardie onuithoudbare angs van erfsonde, verbete skuldgevoelens en didaktiese verlossing!

Dit was ’n verskriklike tyd.

Dit was ’n tyd toe ons skuiling en troos by mekaar moes soek. Toe ons gesmag het na vryheid in die teug van marijuana-bottelnekke. Toe ons onsself probeer bevry het van vreesaanjaende herinneringe in die gulsige slurp van goedkoop rooiwyn en desperate gesmul aan die versnaperinge van die vlees.

In ons wanhopige pogings om weg te kom van HULLE, van die zombies, het ons verander in nuwe zombies.

Die dag toe ons eindelik wen, toe HULLE tot ’n val kom, is ons meteens losgelaat in ’n vakuum van byna ondraaglike vryheid.

Die dag toe ons eindelik wen, is ons weliswaar nog steeds gekniehalter deur ’n knellende hoofpyn en opgesaal met swartgestookte longe wat pyn en hyg as gevolg van jarelange verslawings.

En tog. Ons het gewen. Al was ons die nuwe zombies.

Die dag toe ons gewen het, was, ten spyte van die onvolmaaktheid van die oomblik, tog ’n goeie dag. Dit was die dag toe rede eindelik begin seëvier het.

Dit was, soos ek reeds gesuggereer het, nie ’n perfekte oorwinning nie; die nuwe bedeling waarvoor ons geveg het, was vol nuwe bedreigings en delusies. Natuurlik. Natuurlik was daar gebreke. Natuurlik was daar nog steeds onreg, natuurlik was daar ’n goeie dosis skynheiligheid en natuurlik was daar, bo alles, onsekerheid oor die toekoms.

Ons was meteens die nuwe, vrygemaakte zombies. Zombies met stink onderbroeke en bedompige asems. Ons was die liberale zombies, met al ons eiesoortige delusies en wanopvattings. Maar ten minste was ons vry.

En hoe onseker die nuwe bedeling ook al was, hoe verwoestend die anargie ook al deur ons vrygemaakte landskap gewoed het, hoe bomskok en babelaas ons ook al was, het ons ons bes probeer om hierdie geleentheid met albei hande aan te gryp, het ons ons verlustig in die feit dat ons feitlik oornag die nuwe elite geword het, die nuwe establishment, die Mainstream Alternatiewes.

Om ons was dit chaos, maar ten minste het die son geskyn.

Tot nou die dag.

Totdat ek een oggend verlede week wakker word en my afvra: Hoekom is dit skielik weer so donker?

Dis toe dat ek besef: My ma-hulle is terug.

My ma-hulle is terug, want in Amerika het hulle vir Donald Trump gestem.

In Amerika het hulle vir Donald Trump gestem, en meteens is daar ’n nuwe vlaag regsgesindheid losgelaat op die planeet, ’n nuwe sogenaamde revolusie wat ongetwyfeld gaan oorspoel na ons toe, wat alreeds begin oorspoel het na Europa, wat gaan veroorsaak dat rubriekskrywers oornag hulle deuntjies verander en wat gaan maak dat al die Steve Hofmeyr-fans weer uit die kas uit donner, soos wat reeds verlede week gebeur het toe regsgesinde Afrikaners die Bela-protes gekaap het en in effek van voor af weer die stem van redelikheid, die nuanses van volwasse protes en die gee en neem van idees vertroebel en doodgesmoor het in ’n magtige nuwe oranje spookasem van etniese mobilisasie.

Handhaaf en Bou, van voor af. Handhaaf en Bou, van nou af tot in Ewigheid.

Dit is die nuwe realiteit. Dit is die nuwe domheid waarin die mensdom, waarin die Verenigde State, die wêreld, ons land en ons sogenaamde volk van voor af verval het.

Ag, fok.

Die drol lê al so lank daar voor in die wapad; waarom kon ons nie maar om dit stap nie? Waarom moes ons waaragtig daarin trap, dit van voor af versprei totdat die reuk van daardie waansin, die waansin waarvan ons sopas bevry is, weer van nuuts af aan alles begin kleef, soos ’n bose suurdeeg die hele oneetbare brood laat rys in die oond?

Die woedende brood. Die brood wat nooit ons honger kan stil nie.

The return of the zombies.

Wees bang.

Wees baie bang.

Ons woon meteens in ’n Nuwe Orde. ’n Veranderde wêreld.

’n Wêreld wat kleiner geword het pleks van groter en ruimer.

I remember doing the Time Warp
Drinking those moments when
The blackness would hit me
And the void would be calling ...

Uit “Time Warp” deur Campbell, Quinn en O’Brien

 Just a step to the right ...

 Dit is weer nag op Planeet Aarde.

Dit is weer nag in Suid-Afrika.

Ons is terug in 1948.

Lees ook:

Elders gesien: Oranje het hierdie week ’n slegte naam gekry

The Taliban’s new laws: Is this Shariah?

Een week later

  • 5

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Dankie vir 'n oudergewoonte, puik skrywe, Koos. Ek het iewers gelees daar is mense wat vermoed dat Elon Musk die verkiesingsproses gamanipuleer het deur sy Star Link en dat hy die uitslag "gekoop" het. Waarskynlik samesweringsteorieë, maar vir my is die kommerwekkendste dat 'n mens glad nie meer weet wie en wat jy kan glo nie. Dit het alles net 'n Groot Leuen en Groot Verdomming geword wat die kapitaliste inspan om net ryker en magtiger te word.

  • Koos Kombuis se "Nag van die Zombies" bied 'n rou en emosioneel gelaaide kritiek op Afrikaans, maar die artikel toon verskeie tekortkominge wat dit minder oortuigend maak. Hoewel sy metaforiese beskrywing van Afrikaans as 'n "zombietaal" dramaties en treffend is, skiet dit te kort in diepte. Kombuis se bewerings oor die stagnasie en regressie van die taal word nie ondersteun deur konkrete voorbeelde of wyer navorsing nie, wat die argument oppervlakkig en subjektief laat voorkom.
    Daarby is Kombuis se kritiek op die Afrikaanse gemeenskap oorvereenvoudig. Hy maak groot aannames oor die motiewe van mense wat Afrikaans wil bewaar, en stel dit asof nostalgie en eksklusiwiteit die enigste dryfvere is. Hierdie veralgemenings misken die diverse redes waarom mense aan Afrikaans vashou, insluitend 'n liefde vir die taal se uniekheid en kultuur, sowel as die stryd om 'n minderheidstaal se voortbestaan.
    Sy beskuldiging van die kommersialisering van Afrikaans en die vervlakking van Afrikaanse kuns is ook problematies. Hoewel daar tereg kommer is oor oppervlakkige inhoud in sommige kulturele uitings, ignoreer Kombuis die talle vernuwende en kwalitatiewe bydraes wat steeds binne Afrikaanse literatuur, musiek, en teater gemaak word. Sy veralgemenings skep 'n verdraaide beeld en gee geen erkenning aan diegene wat met opregte passie en kreatiwiteit werk nie.
    Laastens laat die artikel 'n gevoel van sinisme en hopeloosheid agter sonder om enige konstruktiewe oplossings te bied. Hoewel kritiek noodsaaklik is, ontbreek daar by Kombuis 'n gebalanseerde of hoopvolle blik op hoe Afrikaans kan groei en aanpas. Sy benadering skep die indruk van iemand wat eerder kla as bydra, en dit maak die artikel polities en kultureel onproduktief. Afrikaans het immers lank reeds verby 'n kombuistaal gegroei tot 'n taal van prestasie en toekoms.

  • Carel Boshoff

    Ek is bevrees Koos se tirade bevat nie veel van 'n argument nie, daarvoor is dit te eendimensioneel. Meer zombie, minder zombie, eers slegter, toe beter, nou weer slegter … My antwoord sou eenvoudig wees: Ons is nie almal só nie. Ons ma’s was ook nie almal so nie. En hoewel daar genoeg dogma en eendimensionaliteit was en is, is en was daar ook nuanse en nadenke in die wêreld, ook in ons wêreld. Maar, en dit is dalk die een ding wat ons van Koos kan leer: Solank ons verlede aan die zombies behoort – en dit is ons wat dit aan hulle gee, só lank sal ons toekoms ook aan die zombies behoort, want dan het ons niks om van te leer nie.

  • Willem Sterrenberg

    Dankie Koos vir ‘n baie treffende en kennelik emosionele stuk. Dit is die mening van 'n groot kunstenaar in die Afrikaanse musiekbeweging, wat ‘n blywende indruk op baie se gemoed gemaak het, myne inkluis. Ek moet myself egter afvra wat hy met hierdie stuk bedoel? Hy praat van die zombiefisering van die politiek, maar wat is dit eintlik? Is dit nie om wilde stereotipes aan te voer en kant te kies en blindelings te veg nie? Word hy dan nie in die proses die voorste zombie nie? Wie is Koos Kombuis, wat soveel waarde heg aan ons 1994-verkiesing, om 'n ander samelewing se demokratiese besluit so te verwerp? As die teenoorgestelde van zombie-politiek uit redelike argumentering en oorwoë oordeel bestaan, is dit 'n vraag of sy harde en sagte kritiek op NP- en ANC-Apartheid daaraan voldoen. Dieselfde geld vir die spoke wat opgejaag word oor Trump se huidige en vorige verkiesings en die konserwatiewe wending in Europese politiek. Dit is ook nie die nuwe generasie kiesers wat die liberale ideale in die steek laat nie, maar die liberaliste wat die nuwe generasie gefaal het. Die liberale ekstremiste het 'n totalitêre wending gemaak en hulle aanspraak op vryheid en openheid verloon. Wanneer 'n bestaande stelsel nie werk nie, vind verandering plaas, soms by wyse van herstel. Dit is wat ons vandag waarneem. Die verandering.

  • Ek hou van die sin: "Hoe byna onmoontlik was dit om weg te breek van die verdoemende houvas van daardie eindelose genade, daardie onuithoudbare angs van erfsonde, verbete skuldgevoelens en didaktiese verlossing!"

    En Koos is reg, die zombies is op ons, want mens kan nie met mense redeneer wat nie tot logika in staat nie.

    Maar syfers lieg nie. Trump het gewen, want die grootste groep wat kon saamstaan om ’n punt te maak, het erken: 'n verkragter, leuenaar, krimineel is nog steeds beter as 'n vrou.

    Dis nie logika nie, dis realiteit: die zombies het gewen.

    Gelukkig is die krag van die rassistiese wit populasie hier so bietjie in die wiele gery deur die realiteit: hulle is te min om relevant te wees hiersô.

    Die lekkerste ding van die rassistiese wit Afrikaner is dat hulle saam kloek by groot samekomste; jy kan hulle almal saam op een slag vermy.

    Dank vader ons is in Afrika, dis nie dat dinge hier meer of minder logies sin maak nie, dis net dat dit onmoontlik is vir een groep wat nie met die ander groepe kan of wil klaarkom nie, om beheer te neem. Daarom is daar vir ons meer vryheid teen die verdoemende genade van Christelike nasionaliteite.

    Dankie Koos,
    soos altyd
    liefde

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top