Nag deur Meiringspoort

  • 0

Ek is reeds van kleins af ‘n entoesiastiese David Kramer aanhanger. In my jonger dae was dit veral die humor in sy liedjies wat my aangetrek het, maar het ek later ook ‘n diep bewondering ontwikkel vir die skerper kant van sy werk. Aan die humoristiese kant lê sy liedjie oor Stanley de Witt, die koei en die nagmerrie-rit, weens ‘n soortgelyke ervaring wat ek gehad het, my nogal na aan die hart. Hoewel my storie effens anders verloop het, laat dit my tog altyd aan daardie liedjie dink.

Dit het gebeur hier iewers in die vroeë negentigs toe ek een Vrydagmiddag in Junie met ‘n voorafgereëlde saamrygeleentheid vanaf Bloemfontein vir my meisie (nou my vrou) op Oudtshoorn gaan kuier het. My weldoeners was so ‘n skralerige motorwerktuigkundige met ‘n mullet-haarstyl, sy senuagtige vroutjie en ‘n rooi Colt Sedan wat my, vandat ek my oë die eerste keer daarop gelê het, nie met hope vertroue vervul het nie.

Dit was reeds ysig koud toe ons so teen twee-uur uit Bloemfontein vertrek, met ‘n nat koue front wat vir die hele land voorspel is. Ek het my op die agterste sitplek van die Colt tuisgemaak met ‘n warm kombers oor my bene. Na die aanvanklike verkennende gesprek met wedersydse vrae en antwoorde, is ek alleen gelaat met my gedagtes en het die paartjie voor maar verder hul eie gesprek gevoer.

Die rit het glad verloop tot so ongeveer 80 kilometer anderkant Richmond. In die skemerdonker, met ‘n ysreëntjie wat snerpend buite neergesif het, het die Colt se enjin skielik in die ry eenvoudig uitgesny. So dood soos ‘n klip. Die mullet-man het als probeer, maar die Colt wou niks verder weet nie. Die enigste uitweg was om ingesleep te word dorp toe en kon hy, na vele hartroerende pleidooie aan verbygaande motoriste, uiteindelik twee mans met ‘n kleinerige lorrietjie oorreed om ons te sleep. Die behulpsame twee het selfs aangebied om ons sommer tot in Oudtshoorn te sleep.

Die vordering was maar stadig tot in Beaufort-Wes en die twee ouens in die lorrietjie het seker gesien dat hul Oudtshoorn-aanbod dalk ‘n bietjie oorhaastig was. Gevolglik het hul, nadat ons by die BP-vulstasie in Beaufort gestop het, ons meegedeel dat hulle intussen besluit het om direk Kaap toe te ry en ons ongelukkig nie verder kon help nie. Ek is seker dit was ‘n leuen, maar was maar te dankbaar dat ons nie meer êrens langs die pad gestrand was nie.

Die mullet-man was egter ‘n vasbeslote soort van kêrel en het sonder ophou mense wat by die vulstasie gestop het probeer oorreed om ons tog asseblief tot in Oudtshoorn te sleep. Dit was al sterk na twaalf die aand toe hy sukses behaal het. Die gewillige samaritaan was ‘n swartman wat vir ’n koerierdiens gewerk het en op pad George toe was. Ek kan nie onthou wat die maak of grootte van sy bakkie was nie, maar kan in nabetragting eerlik sê dat dit die sterkste en vinnigste bakkie is wat ek ooit teëgekom het. Dankbaar en yskoud is ons toe in die gehaakte Colt uit Beaufort weg.

Die rit het goed begin en die drywer van die bakkie het kort buite die dorp selfs gestop om te kyk of ons orraait was en of hy die regte spoed handhaaf. Dit was egter nie lank daarna nie wat die drywer, so vermoed ek, se oog seker sy horlosie gevang het en hy gesien het dat hy waarskynlik ver agter sy skedule is. Die gevolg hiervan was dat die bakkie algaande spoed vermeerder het totdat ons later teen ‘n ysingwekkende spoed agter die bakkie aangesleep is in vlae gietende reën oor donker Karoo-vlaktes.

Die uitwerking hiervan op my reisgenote bly my steeds in helder prentjies by. Mullet-man wat krampagtig aan die stuurwiel vasklou en aanhoudend die ligte flits. By tye het dit voorgekom of die flitsende ligte die bestuurder voor aangevuur het om selfs nog vinniger te ry. Die vroutjie wat gereeld en angsbevange om die beurt gil “O Here, vanaand is ons almal dood!” en “Stop hom, asseblief stop hom!”. Een keer kon mullet-man met die flitsende ligte dit regkry om die bestuurder te stop. Dit was nog voor ons die draaie en klowe van Meiringspoort bereik het. Ek het later besef dat sy aanslag tog weldeurdag was toe hy in ‘n redelik kalm stem en met ‘n aangeplakte glimlag die drywer versoek het om “te kyk of hy ‘n bietjie stadiger kan ry, want ek sukkel om in die reën die Colt te beheer”. ’n Verergde drywer kon ons dalk net daar gelos het.

Die drywer het vriendelik ingestem om wel stadiger te ry. Maar ek dink hy het kort na ons wegtrek weer op sy horlosie gekyk en gesien hy is nou eers ver agter sy skedule. Die bakkie se spoed het vermeerder na vinniger as tevore, die mullet-man moes meer aan die stuurwiel klou en ligte flits as tevore, en die vroutjie se gille was hoër en benouder as tevore. Teen daardie tyd het ‘n vreemde kalmte reeds oor my gekom en het ek het myself eenvoudig op die agterste sitplek neergetrek met die kombers oor my kop en gedink dat, as dit die einde is, dan is dit maar goed so.

Ek twyfel of enige motor, met of sonder iets wat hy sleep, al vinniger en in meer gevaarlike omstandighede deur Meiringspoort is. Daardie nag het ek besef dat as jou streep nog nie getrek is nie, dan is hy nie getrek nie. Ons het in die vroeë oggendure ongedeerd Oudtshoorn binnegejaag. My meisie het gedink ek het ‘n verhouding met iemand anders omdat ek so stil was die eerste paar dae nadat ek daar aangekom het. Maar dit was eerder stille dankbaarheid. Ek sal nooit die breë glimlag van die drywer vergeet toe ons hom bewerig bedank het vir sy hulp nie. Ek weet nou nog nie of hy saam of vir ons gelag het nie.

 Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top