‘n Wêreldreis tussen stedelinge

  • 0

As jy my sou uitvra oor New York, sal ek jou vertel dat die aantog na die stad toe deur die lug terwyl die vliegtuig geleidelik daal, ’n onvergeetlike ervaring is. Om Manhattan tussen die Hudson en die Eastrivier te sien rys, laat jou ademloos.

Terwyl ons laag vlieg oor golfies waarop wit perde galop, tuur ons verwonderd saam met ons medereisigers na die beroemd-berugte stad wat in mis en rook gehul is. Die namiddagson gooi diep skaduwees tussen die wolkekrabbers. Ons herken die Empire State-gebou, en kyk, hier skuins onder ons op ’n grasgroen eiland staan die Liberty-standbeeld sowaar met haar goue fakkel omhoog.  

Ons neem die bus vanaf die JF Kennedy-lughawe stad toe. Die busbestuurder laai ons bagasie in die bus se ingewande en hang gemoedelik oor die stuurwiel terwyl reisigers een ná die ander in die logge bus klim. “Oh man, I love this job,” sê hy.

Oor die radio’tjie speel sixties-musiek. Ons busbestuurder is ’n cool dude met ’n grys poniestert. Terwyl ons verby armoedige klaphuisies deur Queens rammel, sing ’n blommekind oor die radio: “Let’s go, let’s go, to San Francisco-o-o!” Die bestuurder hou ritme met sy blas vingers.

Die grense van die tyd val weg en ek voel asof ek weer tuisgekom het in die tydvak van my jeug. Niks is meer vreemd vir my aan hierdie grootse stad nie, al is dit my heel eerste besoek aan die Noord-Amerikaanse vasteland. En ek is vir niks meer bang nie.

Niksvermoedend beland ons laatmiddag in die gewoel van spitstyd in die middestad wanneer die meeste stadswerkers huiswaarts keer. Ons voel verward en is onseker oor watter subway-lyn om te neem om by ons oornagplek uit te kom. ’n Onbekende Amerikaner snel ons te hulp en talm besorg: “Are you guys okay?” Ons vertel hom waarheen ons moet gaan, waarop hy sê: “Follow me! I am going in the same direction.” Ons twee meisies haas ons gedwee saam met ’n wildvreemde man tussen massas stadswerkers in die bedompige gange van Central Station deur.

Wanneer ons saam met ons Samaritaan binne die stampvol subwaytrein staanplek vind en noordwaarts na Upper West se 103rd Street snel, neem hy die subwaykaart en wys knap die twee hooflyne uit, en verduidelik wanneer jy watter lyn gebruik. Hierdie ene is ’n snellyn, daardie ene stop by stasies tussenin. Saam hang ons aan die swaaiende handvatsels van die trein en ruil staande wedersyds inligting uit.

Ons reisgenoot haal vertroulik sy identiteitskaart uit sy hempsak en wys vir ons sy sekuriteitsnommer en sy Pools-klinkende naam. Hy som sy lewe in ’n neutedop op: waar hy werk, dat hy die volgende dag veertig word, getroud is met ’n beroepsvrou en ’n tweejarige seuntjie het. Lakonies voeg hy by dat sy vrou nou weer swanger is met ’n tweeling – totaal ongeleë. Ek troos hom dat ’n mens met onvoorsiene kinders die meeste pret het op die ou end – my eersteling was nie beplan nie, en nou deel ons soveel dinge saam, soos hierdie reis byvoorbeeld. Hy kyk glimlaggend na die jong meisie aan my sy. Ons voel soos ou vriende.

By ons afklimstasie, neem ons afskeid van ons vriendelike vreemdeling wanneer hy vir oulaas vir ons wys in watter gebou hy woon, en daar, punt hy sy wysvinger, is die uithangbord van julle oornagplek, geniet julle verblyf! Ons twee voel sommer tuis in die hartjie van kosmopolitaanse New York.

Ons hostel is tussen ander bruinsteengeboue met brandtrappe wat vloer ná vloer ondertoe sig-sag. Ons stap op die sypaadjie verby African-American-gesinne wat vir lafenis tafeltjies uitgesleep het buitentoe. Daar is die klanke van transistorradio’s en manne wat oor dambordspeletjies vrolik raak. Ons besef ons lê digby die grens van Haarlem maar op die ou end het ons nêrens veiliger gevoel as juis daar nie.

Daardie nag om twee kruip ’n vulliswa in die nou straatjies af. Net die ritmiese klanke van vullishouers wat outomaties een ná die ander meganies omgedop word, verklap die roetine van die stad wat nooit slaap nie.
 
Vroegoggend maak ek die hortjies van ons venster oop en kyk buitentoe in die grys oggendlig. Iemand skarrel in die gebou oorkant in een van die blindinglose vensters ’n verdieping ondertoe rond totdat die lig afgeknip word; waarskynlik ’n stedeling op pad werk toe.

Ons dae is volgepak met stap, subway ry, kunsmuseums besoek en winkelvensters kyk. Ons leer fluks Amerikaans: “kerb” vir sypaadjie, “jacket” vir trui, “dental stick” vir tandestokkie. Ons neem die ferrie na Staten Island en loop oor Brooklynbrug. Ons eet soos New Yorkers: bagels met roomkaas, reuse-muffins en Starbucks se koffie. Ons gaan eet tot ontbyt in ’n diner met suikerpienk kunsleersitplekke.

In Chinatown spring ons oor watervoortjies verby gerookte eende wat bo straatstalletjies oor eksotiese groentes swaai. Ons luier in Little Italy waar ons ons ten duurste met ’n bord eg-Italiaanse spaghetti bolognaise en ’n glas rooiwyn op ’n kraakwit tafeldoek trakteer.

Ons soek veelkleurige poskaarte uit en skryf huis toe. Ons het baie om te vertel. In die poskantoor staan ons in ’n tou en bespreek onderlangs in Afrikaans wat ons nog wil koop of doen. My oog vang die middeljarige man agter ons se geamuseerde gesig. Sy kop is sywaarts gedraai en hy blyk ons gesprek af te luister.

Totdat hy sy nuuskierigheid nie meer kan bedwing nie en ons trompop vra of ons van Switserland af kom. Hy is ’n Duitser en dit klink vir hom asof ons ’n Switserse dialek praat. Ons gesels met hom in Duits en die tyd in die lang tou mense vlieg te vinnig om. Buite kuier ons drie nog lank op die trap van die poskantoorgebou. Ons metgesel wys vir ons die sentrale biblioteekgebou tussen die ander geboue uit en beveel ’n hartroerende uitstalling aan van die 9/11-insident wat op daardie tydstip daar aangebied word.

Ons nuutgevonde vriend vertel ons van die verwarring wat hulle tydens die 9/11-voorval beleef het; hoe die stad inderhaas ontruim is en inwoners hulle apartments vir ’n paar dae moes verlaat terwyl die rook en roet van die aanval neersif oor alles; hoe hulle daarna professionele skoonmakers moes gebruik om die woonplekke weer leefbaar te maak; van die berookte inhoud van klerekaste wat vir weke lank skoongemaak moes word. Hy verlaat ons met ’n laaste paar wenke vir ons besoek. Ons voel welkom en tuis in die metropool wat sy vriendelike gesig na ons toe gedraai het.

Ons sien Yoko Ono nie met ’n oog nie, maar verpoos woordeloos by die Dakota-gebou waar John Lennon binne ’n oogwink aan die einde van sy lewe gekom het. Ook in Strawberry Fields daar naby, die gedenktuin vir Lennon in Central Park, kom ons geen beroemde Beatle persoonlik teë nie.

Ons vind hierdie vierstuks wel tussen die mense wat die enigmatiese popgroep getrou kom gedenk; in die kitaarspeler op ’n parkbank, singende aan ’n Beatles-liedjie terwyl ons ander rondluier. Iemand rangskik vars blomme op die mosaïekteken in die gedenkblad waaroor ’n mens kan stap. Dit bevat die titel van die lied “Imagine”. Almal kyk saam toe, as een groot familie van die mensdom, en herken mekaar in ’n stil oomblik.

Ons twee wandel deur die groen long van die stad waarvoor Central Park bekend is en bewonder die bome, brûe en vywers. In hierdie park te midde van ’n wêreldstad word nog verdwaalde jakkalse en wasbeertjies (raccoons) gevind. Hulle kom al met die riviertjies langs vanuit die buitewyke van die stad hiernatoe.

Voetseer verkyk ons ons vanaf ’n parkbank aan die stedelinge wat hulle daaglikse oefening hier kom kry. Daar is fietsryers, skaatsplankryers en rolskaatsryers, almal deel van die tollende massa al om die reservoir.

Soggens soek ek rooibostee, maar is skrikkerig vir die antieke gasplaat in die openbare kombuisie en huiwer om dit aan te steek. Ek vra die helper wat ons altyd in die portaal teëkom om hulp. “No fear when Nelson’s near, my lady,” verseker hy my. “Let me give you a hand, dear.”

Hy wys my hoe om die ouderwetse gaskraantjie oop te draai en met die aansteker te mik na die plaat totdat die blou vlam met ’n sug versprei; hoe om dit toe te draai daarna.

“See, if you are a friend of gas, he will be your friend forever.” Hy hou ’n drinkglas wat hy in sy hande gehad het, uit na my toe: “Would you fancy this?” Dis ’n groot dik glas met ’n groen brouery-logo op. Seker agtergebly in ’n kamer? Ek neem dit: “Certainly,” antwoord ek hom; “it could be a memento to this beautiful town of yours.” Hy beloon my met ’n uittand-glimlag.

Nelson Brown help my die laaste dag met my koffer teen die nou houttrap af, drie vloere ondertoe. Ek verstaan nou hoekom daar buite elke gebou ’n brandtrap na veiligheid is, want hierdie geboue van ’n paar honderd jaar oud se interieurs bestaan hoofsaaklik uit hout.

Op die sypaadjie gee ek vir hom my laaste groot blink dollar en ons groet mekaar. “Now you get home safely, lady,” roep hy agterna met ’n wuif.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top