As jou kinders klein is, is daar mos ‘n paar goed waarvan jy vir eers maar vergeet, soos staptoere. Iets wat jy in die tyd VK (voor kinders) gereeld aangepak het, maar dan word hulle groot en jy dink dis nou die kans om hulle ook van hierdie vreugde te leer.
So word Joshua tien. Sy ousus, Helen, is reeds twaalf en ons (ek meestal) besluit dis tyd om as gesin ‘n staptoer te doen. Daar is bepaalde risiko’s want gedurende VK het ek vroulief Heidi probeer blootstel aan stap, sonder veel sukses. My hoop is nou dat as sy dit destyds nie ter wille van my wou doen nie; dan nou dalk vir die kinders?
Ek probeer by Jacana (die besprekingsowerheid) vir ons bespreek by Sphinx, ‘n roete wat ek al vantevore gestap het en ‘n goeie keuse vir beginners sal wees. Sphinx, naby Ficksburg is egter nog nie oop vir die seisoen nie en die vriendelike dame beveel Sporekrans naby Bethlehem aan. ‘n Paar weke later tydens die langnaweek in September daag ons op die Saterdagaand op om Sondag en Maandag die tweedag-roete te stap.
Die basiskamp is ‘n plek met ‘n soort sjarme maar heeltemal te skaduryk van boom en berg na my sin. Ons oornag in ‘n basiese stappershut sonder veel voorval behalwe vir ‘n kat wat die oorskiet braaibroodjies wat ons vir ontbyt gelos het opvreet en ‘n muis wat my neusdruppels onder die stapelbed wegdra maar darem die Lip-ice los toe ek hom op heterdaad betrap.
Sondagoggend begin ons tog met ‘n stewige klim in ‘n kloof op. Ons styg met ongeveer vierhonderd meter. Met die ergste klim gedoen volg ons die roete op die rand van die berg langs. Vroeg tydens hierdie fase moet ons, met minder as ‘n halwe meter spasie langs ‘n grensdraad, bewe-been teen ‘n holkrans verby stap. Ek besef dat die roete dalk nie heeltemal beginnersvriendelik is nie en waarskynlik meer geskik is vir adrenalienvrate.
Ons stap vir ure op die rand van die krans, net ‘n struikel weg van vrek val. Joshua verloor motivering en ons moet aanmoedig, mooipraat en gatlek. Teen eenuur is ons uiteindelik vir ‘n rukkie weg van groot afgronde. Ons laat ons uitgerafelde senuwees rus en eet middagete van kaaswiggies en Pro-vitas onder ‘n oënskynlik verdwaalde Kareeboom.
Na middagete is ons, Joshua ook, verfris en lus vir die ding. Na ‘n uur of so span ons lekker uit en koel ons voete af in ‘n rotspoel. Ek kan die knaende gevoel dat hef-aan nog voorlê egter nie afskud nie. Ook met reg want kort na die verposing vou die diepste ravyn wat ek nog gesien het, voor ons oop. ‘Oopvou’ is dalk nie die beste beskrywing nie want die ruimte is oorvloedig vertikaal, dog horisontaal onbeduidend.
‘n Vaste staalleer wag op ons, sekerlik lank genoeg vir Jacob om tot in die hemel te klim, maar met die verskil dat ons moet áf. Die teenoorgestelde rigting as Jacob. Synde die pa, die toerorganiseerder en -leier moet ek maar maak asof dit niks is nie. Versigtig, klou-klou daal ek ter helle neer met Helen ‘n paar sporte bo my. Sy is ook eintlik glad nie lief vir hoogtes nie maar hanteer dit heel goed.
Dit bring ons tot op ‘n staalplatvorm omtrent so groot soos ‘n doodskis. Ja, ek weet dis ‘n slegte vergelyking maar ‘n goeie refleksie van my gedagtegang. Ons kyk op om te sien hoe die ander twee vorder, maar helaas is hulle nog heel bo. Joshua weier om af te klim. Hy wil hê ons moet omdraai maar dis drieuur die middag. Terugdraai is nie ‘n opsie nie; die donker sal ons teen die berg vang. Die leer is so lank dat ons moet skree om mekaar te hoor. Wat tussen ma en seun gesê word kan ek nie hoor nie. Hy steek vas soos ‘n steeks donkie met sy voet op die boonste sport van die leer.
Ek sidder by die gedagte aan die koste van X-box en Playstation verwante beloftes wat Heidi moet maak om hom aan die beweeg te kry. Vyf minute word tien, tien twintig en twintig ‘n halfuur. Hulle wil by ons weet hoe lyk dit verder. “Goed,” lieg ons. Daar is nog ‘n paar lere en klein platvormpies maar niks vergelykbaar met die eerste een nie.
Einde ten laaste begin hy klim. Stadig, uiters stadig maar mettertyd beter. Teen die tyd dat ons almal op die doodskis-platvorm staan en die werklikheid van wat nog voorlê ons tref lyk omdraai al meer aanloklik. Die realiteit van daardie plan laat ons egter voortkruip die dieptes in.
Met die daling afgehandel is die beproewing nog nie verby nie. Ons steek die ravyn talle kere oor op ‘bruggies’ wat beter beskryf kan word as horisontale lere. Ons skuif letterlik op ons boude oor. Dis geen maklike taak met ‘n groot rugsak nie. Telkens moet jy aan die begin of einde van so ‘n bruggie klou aan ‘n rotswand terwyl jy balanseer op ‘n smal lysie. Soos vir ‘n groot deel van die oggend is vrek val net een klein foutjie ver. Die moeilikheidsgraad is nou net veel hoër en die kragte heelwat minder.
Uiteindelik stap ons op gelyke grond onder in die vallei. Na ‘n halfuur of wat kry ons weer ‘n matige klim na die holkrans wat ons huisvesting bied vir die aand. Vuurmaak, beddens gereed kry, koue ‘stort’ met ‘n kastrol by die kraan (daar is ‘n tenk iewers) en dan ‘n heerlike aand met braaivleis en kaartspeel. Telkens herleef ons die dag se uitdagings, dankbaar dat dit môre net ‘n kort stappie van vier kilometer basiskamp toe is, vergeleke met vandag se veertien.
Heelaand is daar ‘n klein mannetjie wat my help beddens en rugsakke organiseer, braai en daarna die atmosfeer-vuur aan die gang hou. ‘n Klein mannetjie wat vroegmiddag nog ‘n seuntjie was maar toe ‘n groot vrees in die oë gekyk het en nou ‘n eerste huiwerige voet op die leer na man-word het.


Kommentaar
Dit is 'n pragtige vertelling.