Titel: Pompidou Posse
Outeur: Sarah Lotz
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9780143025719
Handelsprys: R120
Datum: Junie 2008
Sarah Lotz se debuutroman het ‘n heel belowende tema: die donker sy van die stad van ligte, gesien vanuit die perspektief van twee voormalige Engelse kunsstudente wat, nadat hulle die kunsskool se pottery shed afgebrand het, hulle goed pak en die pad vat Parys toe.
Synde voormalige kunsstudente is die twee jong dames, Vicki en Sage, aanvanklik van plan om as straatkunstenaars geld te maak. Dit word egter weldra duidelik, vir die karakters sowel as vir die leser, dat hierdie plan doodgebore is. Die tweetjies val dus maar so rond van blyplek na blyplek en van ervaring na ervaring; en ons, die lesers, is die getuies van hulle afvaart.
Vicki is die aantreklike een, ‘n ietwat naïewe jong vrou uit ‘n welgestelde gesin wat aangetrek word deur randfigure en kompromitterende (dikwels seksuele) ervarings. Sage is ‘n donkerder, meer geheimsinnige karakter. Sy kom uit ‘n minder gegoede huis, en is duidelik beskermend teenoor Vicki. Benewens hierdie twee hoofkarakters word die roman ook bevolk deur ‘n bonte mengelmoes van boemelaars, dwelmgebruikers en allerlei kansvatters.
Die verhaal word vertel vanuit die afwisselende perspektiewe van Vicki en Sage. Dit is deur hulle oë en reaksies dat die leser bekendgestel word aan die boemelaars en sopkombuise van Parys. Sage se vertelling neem die vorm aan van inskrywings uit ? in? haar dagboek, ‘n dagboek wat later deurslaggewend blyk te wees vir die dieper betekenis van hierdie verhaal.
Die roman bestaan uit ‘n reeks opeengestapelde ervarings, meestal ingegee deur een of ander konfrontasie van die twee hoofkarakters met boemelaars, die polisie of dwelmmiddels. Sommige van hierdie ervarings is snaaks; ander benouend. Te dikwels is hulle egter doodgewoon onmerkwaardig, of te eenselwig.
Uiteindelik, wanneer die dames se Paryse avontuur gereduseer is tot ‘n lewe van bedel, ‘n sopkombuis, en slaap onder bosse naby die Notre Dame, besluit die twee om terug te keer Engeland toe.
Aan die einde van die roman is daar ‘n onthulling uit Sage se dagboek, en die leser besef dat die eintlike drama dit is wat ongesê gebly het tussen Vicki en Sage. Maar hierdie insig kom as té min, té laat. Daar is bitter min in die verhaal self wat met enige noodwendigheid op hierdie slot afstuur. Lotz kry dit nie reg om die onderliggende te suggereer nie. Dit word lomp en enigsins kunsmatig uitgespel op die laaste bladsye. Die onthulling wat moet sorg dat die reeks losstaande ervarings saamgesnoer word tot ‘n meer betekenisvolle geheel, slaag nie daarin nie, en die roman styg gevolglik nooit bo die bloot episodiese uit nie.
Dit is inderdaad jammer. Soos ek reeds genoem het, het die roman ‘n belowende gegewe. Lotz is op haar beste wanneer sy haar motley crew van boemelaars en ander randfigure beskryf en aan die woord stel. Sy het ‘n goeie gevoel (en veral ‘n goeie oog) vir die lewe op straat: die avontuur, die gevare en die tragiek wat so ‘n lewe kenmerk. Haar hoofkarakters is egter nie naasteby so interessant soos haar byspelers nie. Ek het Pompidou Posse uiteindelik nóg "darkly humorous", nóg "harrowing" gevind, soos die agterblad beloof.
Die roman se grootste leemte is egter op die gebied van die taal. Lotz se taalgebruik is dun, dikwels geyk, en by tye doodgewoon banaal. Alhoewel die roman maklik en vinnig lees, maak sy darem net te veel staat op die gebruik van (veelvuldige!!!) uitroeptekens en die skryf van woorde in HOOFLETTERS as retoriese hulpmiddele. Dat die taalgebruik getrou moet bly aan die emosionele, intellektuele en talige reikwydte van die vertellers is geen verskoning nie. Die uitdaging wat ‘n roman met ‘n ek-verteller aan ‘n skrywer stel is juis om aan die stem van die verteller getrou te bly sonder om uit die oog te verloor dat ‘n roman benewens vertelkuns tog ook woordkuns is.
Sarah Lotz se Pompidou Posse is, op die keper beskou, sekerlik ‘n moedige debuut, maar dit gaan mank aan ernstige gebreke.
· Desmond Painter doseer sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.


