'n Rit deur die Kaap se agterplaas

  • 0

Die Karoo, Baviaanskloof, Noord-Kaap, Namibië. Kaapse motorfietsryers verken graag verre horisonne.

Maar wat maak ‘n Kaapse motorfietsryer as hy net twee dae het om litte op sy motorfiets los te maak? Dan verken hy die Kaap se agterplaas.

"Was lanklaas op Genadendal. Miskien moet ek gaan kyk hoe dit deesdae daar lyk," sê ek vir myself. "Ek wonder of die pont oor die Breederivier nog werk," soek ek rede om die Overberg te verken. "En daar is familie op Riversdal ..."

Daar is min dinge in die lewe wat so vanself gebeur – en so reg gebeur – as wanneer 'n mens jou motorfiets se voorwiel in die algemene regte rigting druk en net begin ry.

Terwyl my lyf soos dié van 'n dansmaat aanpas by die beweging en ritme van my motorfiets op die grondpad na Genadendal, kom ek agter dat ek onbewustelik begin neurie. Aan my linkerkant troon die Riviersonderendberge gerusstellend asof dit oor die reisiger doer onder waak. Bokant my is die lug blou, maar vervaag in 'n grys-wit dynserigheid aan my regterkant daar ver waar die koue seelug met die warm lug bokant die land begin wedywer. En voor my strek 'n pad wat ek maar te gewillig volg, wetend dat dit my sal vat tot waar ek ingesluk gaan word in die lekkerte van twee dae se motorfietsry in die Overberg en die Klein-Karoo.

Dag 1 van my rit het begin.

‘n Mens arriveer nie maar net op Genadendal se historiese kerkplein nie. Mens betree dit. Dit kan die ou kerkgebou wees wat die plegtige atmosfeer skep, of die geboue wat dit omring, selfs die groepie vroue wat eenkant op 'n stoep rustig gesels, maar die goed versorgde plein maak 'n stille indruk wat maak dat mens langer wil vertoef. Ek versuim vir ‘n wyle.

Ontbyt op Greyton is meer as net ‘n ete. Vir ‘n ander halfuur deel ek die restaurant se stoep met inwoners wat, asof in ‘n winkel se vertoonvenster, hul oggend hier deurbring. Die kunstenaar aan my linkerkant eet haar geroosterde toebroodjie homp-vir-homp terwyl haar vinger die tabletrekenaar voor haar soos ‘n verfkwas blaai. Verder weg sit ‘n ontwerper-pensioenaris met ‘n bypassende poniestert. Hy drink water uit ‘n glas wat hy telkens met ‘n spierwit servet bedek. ‘n Groepie fietsryers verbreek die stilte met hul opgewekte geklets. Die stowwerige motorfietsryer hier eenkant is waarskynlik die enigste een wat nie by hierdie Greyton-ontwerpersprentjie inpas nie.

Asof besig met ‘n reuselegkaart, pas ek prentjiemooi landskaptonele kilometer na kilometer in mekaar in namate ek die groen landerye en vrugteboorde onderkant die berge verruil vir die hierdie-tyd-van-die-jaar somervaalheid van die Overberglandskap. Kraanvoëls met hul lang bene gee stylvol pad wanneer die motorfiets nader kom terwyl troppe skape ongesteurd met koppe bymekaar in die warm son mekaar se koelte opsoek.

“I was born under a wandering star…” Die liedjie in my agterkop smelt saam met die vryheid wat ek in hierdie oop ruimtes ervaar. Ek kruis die Breederivier met die pont by Malgas, geniet die alleenheid en voel klein op die eindelose grondpad terug na die N2 en slaap daardie aand op Riversdal met die swerwerster wat steeds bokant my skyn, hierdie keer net nog helderder as vroeër vandag.

Vroegoggend. Die vars berglug en die motorfiets wat die kronkels van die Garcias-pas tussen Riversdal en Ladismith met die grasie van ‘n balletdanseres hanteer vernuwe my gees en bied balsem vir my siel. Die gevoel van saligheid gaan nie weg toe ek ‘n paar kilometer verder op die grondpad in die rigting van Barrydale afdraai nie. Die skaduwees wat die oggendson oor die Klein-Karoo landskap gooi, omskep wat later vandag as vaal sal voorkom, in ‘n kaleidoskoop van bruin en grys skakerings. In ‘n bestek van 40 km reis ek deur Karoovlakte, oor skielike hoogtes en deur ‘n wye vallei wat deel van die berglandskap aan my linkerkant vorm. Plaaswerkers spoor my aan wanneer ek hul vragmotor verbysteek en die geur van die vars geparste lusernbale agterop neem my terug na my kinderdae toe lusern op ons plaas gesny is. Langs die pad hou ek stil en gesels met ‘n boer waar hulle besig is om helder oranje perskes te pluk.

“Daar is niks wat my jaag nie,” sê ek vir myself toe ek in Montagu besluit om die langer pad deur die Koo-vallei via die N1 terug te ry huis toe.

En wat ‘n goeie besluit was dit nie. ‘n Roete wat ek in die verlede dikwels geïgnoreer het, word meteens die hoogtepunt van my toer. Asof vanuit ‘n sweeftuig doem die Koo-vallei met eindelose skakerings van vrugteboorde voor my op namate ek die indrukwekkende Burgerspas agterlaat. Die daaropvolgende Rooihoogtepas wat net aanhou en aanhou, bring ‘n verrassing en ‘n nuwe vista om elke draai. En die hoogtepunt kom wanneer die pas my uitspoeg op ‘n onverwagse en verwarrend-mooi plato wat tegelyk berglandskap en Karoovlakte wil wees.

Die Hexrivierpas op die N1 neem my na benede. Ek draai af en ry deur De Doorns se wingerdlandskap wat die vallei soos ‘n reuse groen tapyt bedek. Ek volg die pad oor die Dutoitskloofpas en kyk met verwondering na die tafereel met Paarlberg in die voorgrond en Tafelberg daar ver in die agtergrond. En ek kan nie glo dat dit moontlik was om soveel mooi van ons land soos wat ek so pas ervaar het, in net twee dae te sien nie.

‘n Motorfietsryer het ‘n twee dae rit deur die Kaap se agterplaas beplan. Hy het egter baie meer gekry as wat hy verwag het. Hy het in die Kaap se voortuin beland en die ryke verskeidenheid beleef van ‘n landstreek wat maar net aanhou gee. Hy het weer met nuwe oë gekyk na ‘n kontrei wat hy al menigmaal deurkruis het, maar wat nooit ophou om met verrassings vorendag te kom nie. En hy het verryk teruggekom.

En, terugskouend, het hy maar net weer besef dat die Kaap eintlik nie ‘n agterplaas het nie. Dit bestaan nie. In die Kaap is alles maar net voortuin.

 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top