’n Perspektief op die Inferno – en ’n voorlesing deur Nic de Jager

  • 7

Cas Vos se vertaling en verklaring van Inferno, wat in Oktober by Naledi verskyn. Hier skryf hy die agtergrond van Dante se gedigverhaal.

Dante se gedigverhaal beskryf ’n reis wat op Goeie Vrydag, 8 April 1300, in ’n onbekende woud in die Noordelike Halfrond begin (kanto I). Op hierdie dag ontdek hy dat hy die Donderdagnag totaal verdwaal het. Vergilius, die bekende Latynse digter, vergesel hom op sy reis. Sy reis deur die hel duur twee dae en twee nagte. Dante verlaat die hel en kom teen dagbreek op 10 April (Paassondag) weer op die aarde aan.

Dante se gedig vertel die verhaal van ’n man se lewensreis. Teen die einde van sy jeug, aan die begin van die tweede helfte van sy lewe, het hierdie man hom in ’n persoonlike krisis, in ’n toestand van magteloosheid en depressie bevind. Hy skryf hoe hy deur ’n proses van loutering gegaan het en hoe hy later persoonlike geluk, vrede en insig bereik het.  Dit moet in gedagte gehou word dat die Inferno Dante se eie skepping is.

Konteks van sang 1

Die konteks is belangrik vir die verstaan van die sange wat so voortreflik deur Nic de Jager voorgelees word. Daar word eers aan die konteks en vervolgens aan die verskillende sange aandag gegee.

Dante word op sy onbekende reis na die Inferno deur die Latynse digter Vergilius ondersteun, bemoedig en selfs vermaan. Dié reis is onbekend en gevaarvol. Soms is dit skrikwekkend en ander kere bedroewend. Talle oortreders, afvalliges, politici en geestelikes word op die reis ontmoet.

Die eerste tersine is alombekend, en die meeste lesers het al iets hiervan ervaar.

Sang I

1 Ek het die spoor in die middel van ons lewensreis
2 byster geraak en in ʼn woud waar die donker heers,
3 tot my sinne gekom; op die dwaalweg was ek onwys.

Konteks van sang V

Dante verwys waarskynlik na die ware verhaal van die aristokratiese Francesca da Polenta en Paolo Malatesta. Hulle het in Dante se jeug in ’n opspraakwekkende moord hulle lewens verloor. Francesca is in ongeveer 1275 om politieke redes (die versoening van hulle families) met Gianciotto Malatesta, die prins van Rimini, getroud. Hy was ook as “die Kreupele” bekend. Sy raak betrokke in ’n liefdesverhouding met sy jonger broer Paolo. Haar man vind daarvan uit en vermoor albei in die familiekasteel Gradara, ongeveer 30 km van Rimini af. Dante se verwysing na die ligte reis op die wind (reël 79) dui daarop dat hy selfs in sy haglike omstandighede nog van die bekoorlikheid en aantrekkingskrag van die romantiese liefde bewus bly.

Hierdie verhaal is waarskynlik die beroemdste in die hele Commedia en het wyd aanklank gevind. Om een voorbeeld uit die kunswêreld te noem: In 1882 het Rodin sy Francesca da Rimini geskep (later is dit herdoop tot Le Baiser en onderskei van die komposisie La porte de l’enfer). Dante se karakters is wesens van vlees en bloed, mense wat deur die krag van die liefde meegevoer word. Dante, wat self die pyn van die liefde ervaar, word diep geraak deur die tragiek van Francesca en Paolo se liefdesgeskiedenis. Hy is ook intens bewus dat die pad van die liefde na afdraaipaadjies kan lei. Hoe sal hy ooit vir Beatrice vergeet?

In hierdie hartroerende verhaal word die teenstrydighede van die liefde blootgelê. Francesca hunker na die goeie tyd saam met Paolo, maar haar wrewel vir hom kom ook aan die lig. In die hel word die liefdesvlam geblus. As aristokratiese dame praat sy verfynd, en Dante, die pelgrim, swig daarvoor. Maar Dante, die nugter digter, suggereer haar bitterheid, ydelheid, selfsug en selfverontskuldiging. Op die ritme van haar tyd stel sy die liefde as ’n onweerstaanbare mag voor. Sy aanvaar nie haar verantwoordelikheid en skuld nie. En tog koester die leser die liefdeswaansin van Francesca. Dante spreek die verliefdes nie vry nie, maar sy oordeel is getemper deur die liefde. Die liefde dra en verdra byna alles. Drie keer word Amor aan die begin reëls geplaas (kanto V, 100, 103 en 106). Hiermee kom Dante se vernuf en drif aan die lig. Beatrice bly steeds die koningin van sy hart.

Sang V

100  “Liefde wat snel in die sagte hart die oorhand kry,
het daardie een vanweë my skoonheid aangegryp.
Hy is van my weggeruk; die wyse waarop – dit bedroef my.

103  Liefde waarmee die beminde innig bemin,
het my soveel plesier aan hom laat gee;
dit is nog net so kragtig soos aan die begin.

106  Liefde het vir  ons ’n requiem voorberei;
Kaina wag vir die een wat die liefde geblus het.”
Ná al die woorde het Francesca stilgebly.

Konteks van sang XXXII

By Dante is daar ook sprake van ’n ander strafdimensie, en dit is yskoue bevrorenheid. Dit is die lot  van die twee broers Alessandro en Napoleone degli Alberti in kanto XXXII se negende sirkel. Hulle het mekaar in ’n struweling oor ’n erfporsie om die lewe gebring. Nou is hulle vir ewig onafskeidbaar in hulle haat, ysig aan mekaar geklont. 

 Sang XXXII             

31 Soos paddas met oestyd, as die boerin droom
van singende oesgerwe, in die water sit en kwaak
met hulle snoete opgelig bo die waterstroom,

34  net so was die bleekblou skimme vasgevries,
tot daar waar ʼn mens van pure skaamte bloos,
klappertand, soos ooievaars hul snawels klap in die bries.

Konteks van sang VII

In hierdie sang word die sinlose sug na plesier en geld meesterlik uitgebeeld. “Aardse goed” word met ’n glansryke minnaar wat saans magteloos op sy bed lê, vergelyk. 

Sang VII

61   Gierigheid het hulle van die skone beroof;
plesier en Fortuin se hande laat hul baklei.
Die ondermaanse goud het hulle gees uitgedoof.

64   Aardse goed is so glansryk soos ’n minnaar,
maar laat saans lê hy uitgeput op sy bed
en wag vir die nag se onheil om op te klaar.”

Konteks van sang XXXIV

Dante en Vergilius bereik die oppervlak in die Suidelike Halfrond net voor dagbreek op Paassondag, 1300. Die sterre verskyn (skyn) ook in die slotreëls van die Purgatorio en die Paradiso. Dit is tekens van hoop. Die hoop wat net God kan gee.

Sang XXXIV

136 Ons het opgeklim – hy was voor, en ek tweede,
tot waar ons die hemelse prag in die oog kon hou,
deur ʼn klein ronde opening, ʼn deurgang na vrede.

139 En daar het ons uitgekom, om die sterre weer te aanskou.

  • 7

Kommentaar

  • Ek het die voorreg gehad om Cas Vos se uitstekende vertaling van Inferno te lees. Nic de Jager se voorlesing is treffend en hartroerend.

  • Dante se digverhaal vertel die verhaal van 'n man se lewensreis . Ek het die voorreg gehad om Cas Vos se eie lewensreis as skrywer/digter met verskeie publikasies mee te maak en sy strewe na uitnemendheid te ervaar. Talle reise verloop onbepland (soos in die Inferno), maar Cas lei die leser in hierdie werk "deur 'n klein ronde opening, 'n deurgang na vrede". Nic de Jager se voorlesing breek betekenis oop.

  • Fanie Swanepoel

    Cas hanteer sy onderwerp met tegniese vaardigheid, kennis, insig en bo-al 'n besondere gevoel vir die emosie wat in die digvorm vervat is.
    Die voorlesing van Nic is uitstekend.

  • Dieter de Bruin

    'n Ruk gelede skryf iemand hoe Dante sy lewe gered het. Ek sien hartstogtelik uit daarna dat ek in hierdie redding kan deel deur my in Prof. Cas se verruklike vertaling te verlustig.

  • Baie dankie Cas. Dié vertaling lewer 'n uitsonderlike bydrae tot die diepgang van hierdie grootse gedig. Seënwense. Alta

  • Cas: dankie! Jy lei my om ook daar uit te kom om die sterre weer te aanskou.
    Hennie Smith

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top