’n Mite

  • 8

Dikwels, op die radio en televisie, wanneer die gesprek oor Afrikaans gaan, word aan die gas gevra of Afrikaans gaan oorleef.  Die antwoord is altyd “ … solank die taal nog gepraat word sal hy nie doodgaan nie.”

Op die absurditeitsskaal van 1 tot 10 is hierdie ’n kategorie 11 absurditeit; skoon buite die skaal.  Dit is net so absurd as wanneer mens sou sê “solank hierdie kar nog ry sal hy nie gaan staan nie” of “solank hierdie vliegtuig nog vlieg sal hy nie neerstort nie.”

Die waarheid is dat Afrikaans sal doodgaan as hy nie meer gepraat EN geskryf word nie; geskryf word in die vorm van hofverslae, wetenskaplike publikasies, tesisse, verhandelinge ens.  Dit is reeds besig om te gebeur; oor die algemeen praat mense swak Afrikaans.  Oral, veral in die Kaap, kan mense skaars twee sinne agtermekaar sê sonder om Engelse woorde te gebruik of oor te slaan Engels toe. 

Op Facebook lyk dit of net een uit elke 50, miskien 100, mense kan spel – mense kry maar net nie die een-woord-een-begrip-storie onder die knie nie, kyk maar na wanneer die lys name en titels gegee word na ’n program op KykNet.  Op radio is party omroepers en -sters se Afrikaans jammerlik; ‘doen’ word gebruik soos in Engels.  Goggas soos ‘ek weet wat jy meen’, ‘kom ons hardloop deur lysie’, ‘aan die een hand . . . aan die ander hand’ is algemeen.  ’n Omroepster (en haar vroulike gas) praat nou die dag die hele tyd van ‘hommelbye’ in plaas van ‘hommeltuie’, die ander gas het darem van ‘hommeltuie’ gepraat maar die omroepster het nie die skimp gevang nie.  Aan die anderkant nou weer, sy’t die woord so baie gebruik dit sal seker na dese as korrek aanvaar word.

Met Engels nou die amptelike taal sedert ’94 gaan Afrikaans met rasse skrede agteruit.  Benewens die feit dat al wat leef en beef nou wil verengels is daar nog ’n heksejag op Afrikaans ook.  Mens sou nou dink dat, met dié dat die Afrikaner wat nou in ’n hoek gedruk is wat sy taal betref dat hy gaan terugveg maar nee, in ’n poging om tog net nie as polities nie-korrek gesien te word nie, neem hy ook nog deel aan hierdie heksejag.  Wat ’n verleentheid.

Terloops, van amptelike taal gepraat:  Daar is jou werklikwaar mense wat glo die land het elf amptelike tale.  Hoe naïef kan ’n mens wees?

Dit is natuurlik die Afrikaanssprekendes se eie skuld dat Afrikaans agteruitgaan; dit is per slot van rekening hulle wat Afrikaans praat en skryf.  Die raat vir hierdie slapgatgeit is ‘n ander onderwerp; ek het net hier beklemtoon dat die stelling ‘solank Afrikaans nog gepraat word sal hy nie doodgaan nie’ die toppunt van a-logika is.

Jan Rap

 

 

  • 8

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek is dit eens met jou: ons moet veg vir die behoud van Afrikaans, maar dis nie waaroor ek wil kommentaar lewer nie.
    Jy en jou gaste het julle logika aan die stert beet, en die probleem lê eenvoudig maar by werkwoordtye. Jou gas moes gesê het: "Solank Afrikaans gepraat word, bestaan hy." Jou logika moet wees: Solank die kar nog ry, staan hy nie, en solank die vliegtuig nog vlieg, het hy nog nie neergestort nie.
    Solank Afrikaans gepraat word, is hy nog nie dood nie, is so voor-die-hand-liggend dat dit eintlik nie nodig is om die stelling te maak nie. As 'n taal ook 'n geskrewe taal is, gee dit hom natuurlik 'n hupstoot en lig hom uit bo bv dialekte, sodat dit dan as amptelike taal verklaar kon word.
    Dit is Afrikaanssprekendes se skuld as Afrikaans gaan verdwyn, maar jy kan niemand dwing om 'n taal te praat en skryf, as hy nie wil nie. As hulle dink Engels pas hulle beter, kan ek en jy en die koning van ysterpotland niks daaraan doen nie.
    Jan, ek het mos lank genoeg aan jou geleer, dat jy nie nog daardie een-woord-een-begrip-storie aan vasklou nie. Afrikaans gebruik los- en vasskrywe ook om betekenisverskille aan te dui en ook vir die leesbaarheid van die woord. Daar is 'n verskil tussen 'n groen rissie en 'n groenrissie. Volgens jou moet 'n mens "lelike mense" aanmekaar skryf; dis mos een begrip.
    Terloops, 'n raat is 'n ding wat sê jy moet 24 katte slag en hulle een vir een op iemand se rug vasdruk as hy bromkaatjies onder lede het.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus

    Jy skryf: "Solank Afrikaans gepraat word, bestaan hy". 'n Taal is mos nie manlik of vroulik nie, dus "Solank Afrikaans gepraat word, bestaan dit."

    • Hallo FC Boot
      Ek gebruik ook die manlike wanneer ek na taal, of voertuie, of spinnekoppe of enigiets onsydigs verwys. In Afrikaans is die persoonlike voornaamwoorde vir onsydige goed SOOS die manlike (in Duits ook). In Engels sê hulle "the baby likes its milk sweetened" maar in Afrikaans kan jy nie praat van " ... dit se melk" nie, dis "sy melk".
      Groetnis

  • Beste Angus
    Jy's reg, dis so voor-die-hand-liggend dat dit nie gesê sal word 'die kar ry' as die kar ry nie. Dit is konstatering van die ooglopende, oorbodig en sinneloos.
    Die gaste was egter gevra of hulle dink dat Afrikaans gaan oorleef en die absurde antwoord was elke keer 'so lank hy gepraat word sal hy nie doodgaan nie.' Jy praat van werkwoordtye - selfs al het die gaste geantwoord 'solank die taal nog gepraat word IS hy lewendig' is net so simpel; weer eens 'n konstatering van die ooglopende. Dis in elk geval nie die antwoord op die vraag nie. Soos daardie neerstortende vliegtuig, selfs nog net een sentimeter bokant die grond vlieg hy nog.
    Die gaste is om nog 'n rede verkeerd want Afrikaans word nie eers meer gepraat nie, luister maar na die radio - omroepers en gaste se Afrikaans is jammerlik.
    'Lelike mense' kan nie aanmekaar geskryf word nie; 'lelik' is 'n byvoeglike naamwoord en 'mense' 'n selfstandige naamwoord. 'Marsmense' word aanmekaar geskryf want beide 'Mars' en 'mense' is selfstandige naamwoorde. Dis mos nou nie so moeilik nie of hoe?
    As mens NIE die enkelbegripwoorde aanmekaar skrywe nie kry jy goggas soos in die volgende Engelse koerantopskrif: "Six foot doctors arrested". Jy weet nie of daar nou ses voetdokters gearresteer is of 'n klomp mediese sesvoeters nie.
    Terloops, 'n 'raat' is 'n remedie, 'raad' is advies.
    Groetnis
    Jan Rap

  • George Bekker

    Jan, die probleem is die verkeerde vraag word gevra. Die vraag moet wees: 'Gaan Afrikaans agteruit?', of 'Sal Afrikaans agteruitgaan as dit of dat gebeur?'
    Die hommelby-episode het ek ook na geluister en dis eerder pateties as lagwekkend. Die betrokke deskundige behoort sulke gekheid nie te ignoreer nie, maar moet die programaanbieder reghelp.
    Dit is nie bloot die Afrikaanssprekende se skuld dat Afrikaans agteruitgaan nie. Amper alle owerhede het groot moeite gedoen om Afrikaans af te gradeer of Afrikaans te ignoreer asof dit glad nie meer bestaan nie, ten spyte van die grondwet se bepalings.

    • Jy's reg George, as die vraag gevra word soos jy dit stel sal daar seker minder kleigetrap word met die antwoorde.
      Dit is so dat daar 'n heksejag is op Afrikaans, van oraloor en veral van die owerheid se kant af. Dit was egter nog altyd so; die Engelse heersers van die verlede was net so fel anti-Afrikaans as die swart heersers vandag. Dit is ons skuld dat ons té polities korrek is en saamgaan met die stroom in plaas van om hulle in hulle moer te stuur soos ons ouers en grootouers met die Engelse gemaak het.

  • Beste Jan,
    Daar is ʼn verskil tussen Engelse spelreëls en dié van Afrikaans wat benadering betref. Six foot doctors sal los geskryf word en die betekenis daarvan berus op die konteks. In Afrikaans berus die betekenis heel dikwels op die skryfwyse: sesvoet dokters, of ses voetdokters.
    Daar bestaan nie so ʼn spelreël wat sê een begrip, een woord nie. Die beste sal wees as jy vir jou ʼn Afrikaanse woordelys en spelreëls aanskaf en Skryfwyse – Los of vas bestudeer. Daarin is wel die reël oor verbindings adjektief en naamwoord, wat sê dat dit los geskryf moet word, met inagneming natuurlik van die betekenis. So skryf ons na aanleiding van die betekenis: sagte vrugte x sagtevrugte, klein huisie x kleinhuisie (as so iets nog bestaan), warm patat x warmpatat, wilde bees x wildebees, harde koejawel x hardekoejawel, lang broek x langbroek, ens.
    Die reëls sê oa ook dat lompheid vermy moet word en ʼn voorbeeld daarvan is onderwysleierskapontwikkelingsprojek. Dan het die skrywer ook ʼn keuse tussen bv. Nelspruit hospitaal, Nelspruit-hospitaal, en Nelspruithospitaal.
    Interessante leesstof; jy moet dit tog probeer.
    Ekskuus, my fout. Ek het aan jou sin gedink dat jy raad (advies) wou gee aan dis slapgatgeit. Die woord “onderwerp” het my so laat dink. Nou verstaan ek: jy wil die slapgatgeit ʼn sekere soort medisyne toedien.
    Troos jou maar daaraan, as Afrikaans sou agteruitgaan, soos jy beweer, dan moet daar ʼn rede wees, en aan hierdie rede kan nie ek of jy iets doen nie. As Engels in Engeland verval tot een of ander bargoens wat die spreker van die koningin se Engels nie verstaan nie, kan hulle ook maar swets en dit veroordeel; dit sal niks aan die saak maak nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Westerse tale vang maar so allerhande onlogiese dinge aan, soos bv dat dooie dinge gepersonifieer word. In Engels is 'n skip "she" en in Afrikaans gebruik ons die manlike vorm. Ek sê bv "My motor is vuil; ek moet hom nog was." Goed, jy kan ook "dit" sê, maar dis ongewoon. Afrikaans is dus 'n hy en 'n hom, dus: "Solank Afrikaans gepraat word, bestaan hy." Afrikaans is per slot van sake ook 'n lewewende taal; waarom wil jy hom nou al doodmaak?
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top