'n Kort biografie van Afrikaans: Halala Afrikaans

  • 0

Halala Afrikaans
Saamgestel deur Daniel Hugo
Sagteband
ISBN 9781869192921
Uitgewer: Protea
R160
176 bladsye

1          ’n Bondige oorsig oor Afrikaans

Halala Afrikaans is ’n “bondige oorsig (...) van waar Afrikaans vandaan kom, wie dit praat, skryf, gebruik en misbruik” (12). Hierdie bespreking meet Halala Afrikaans veral aan die karakterisering van ’n bondige oorsig, maar hou ook die doelwitte wat op die voorblad in die vooruitsig gestel is, in gedagte: “om oningeligtes oor die taal in te lig, ingeligtes te verbaas en verbyster, en om studente van die taal te boei met die kompleksiteite” daarvan. Dié biografie wil verder ook op ’n funky manier vertel word (voorblad).

Verder hou hierdie bespreking ook in gedagte dat die skryf van ’n boek oor ’n taal inderdaad ’n stywe opdrag is. ’n “Bondige oorsig” stel daarby ook nog sy eie eise, soos dat die taamlik willekeurige selekteer uit beskikbare data (dit is immers nie ’n ensiklopedie nie) steeds ’n verteenwoordigende oorsig oor die taal se geskiedenis en bedrywighede aan lesers moet bied. ’n Blote dokument met navorsingsuittreksels kan dit ook nie wees nie. Daar moet ’n bietjie “vermaakliksheidswaarde” vir die leser ingebou wees, en leesbaarheid mag nie uit die oog verloor word nie. Die vereiste van ’n gebalanseerde aanbod, meer as net een kant van ’n saak, is ook hoog op die lys. ’n Oorsigwerk moet in die meeste gevalle primêre navorsing interpreteer en waar teenstellende vertrekpunte aan die bod kom, dit verduidelikend hanteer. Wat moet uitgelaat word, en hoe onpartydig kan die aanbieding wees, gegee die politieke strominge wat al so lank saamspeel aan Afrikaans se lotgevalle? En hoe diep kan daar op bepaalde grondvrae ingegaan word? En terwyl Afrikaans hier ter sprake is, mag die nodige ewewigtige kritiek oor prosesse waardeur dié taal benadeel is, uit eie geledere of van buite, ook nie uitbly nie. ’n Eensydige gesanik oor ’n onsimpatieke owerheid is net so onvanpas as ’n oogklap-ophemeling van ligpunte. Op die agterblad kom dié taak van die skrywers van Halala Afrikaans ter sprake, deur na hulle as “fakkeldraers” van die taal te verwys. Waarmee een aspek van hulle taak belig word. Maar naas ander name word hulle daar ook “lykbesorgers” genoem ...

 

2          Oorsigtelik

2.1      Aanbod

2.1.1   Halala Afrikaans se titel is goed gekies, en die boek is goed geskryf, in ’n Afrikaans wat lekker lees, deurspek met talle onderhoudende anekdotes. Vanselfsprekend wissel die styl, afhangend van die tema en die verantwoordelike medewerker. Die gedeelte van Gabriël J Bothma oor "Die gedrukte media in Afrikaans na 1994 (pp 129–34) val egter op as ’n uitsondering wat die leesbaarheid betref. Die uitgewers tipeer die boek as “toeganklik” met “tersiêre voorskryfmoontlikhede”. Hierdie stuk se leesbaarheidsindeks staan op 16,4, dit wil sê, leesbaar vir Afrikaanssprekendes met ’n skoolopleiding van 16,4 jaar! (Wanneer publikasies by ’n leesbaarheidsindeks van 13 kom, begin die gevaarligte al ernstig flikker!)

2.1.2   In die teks kom daar telkens vensters voor waarin allerhande interessanthede vermeld word, soos: “die Huisgenoot en die Bybel" (74); “die gevaarlike radio”, oor ’n klagte in 1973 (voor die tyd van televisie!) waar kinders te veel radio luister! (98); ’n eienaardige boereraat in die stukkie oor “(d)ie eerste Afrikaanse resepteboek (36)”; wat ’n Hiemstraïsme is (70); en “die los- en vasskryf van Afrikaanse woorde” (67). (Die Burger het ’n tyd lank konsekwent Kloof straat geskryf, en nie Kloofstraat nie. Die rede is dat daar glo verwarring sou bestaan “omdat mense nie presies weet wat ’n eienaam is nie”. Dié los skryfwyse (Kloof straat) kan egter nie verwarring oor wat ’n eienaam is, as verskoning aanvoer nie: die 1991-AWS sê by hierdie reël duidelik, met voorbeelde: “Die vryheid m.b.t. die los skryfwyse geld ... nie straatname nie” (2.1(2), 68)).”

2.2      Twee dele

Halala Afrikaans bestaan uit twee dele.

2.2.1   Hoofstukke 1–5 word as ’n geïntegreerde eenheid aangebied, met enkele onderbrekings: "Die opkoms en die verval van die Afrikaanse rolprentbedryf" (90-94), wat deur Braam Muller geskryf is, "Afrikaanse musiek na 1994" (124-9) deur Andries “Roof” Bezuidenhout, en "Die gedrukte media in Afrikaans na 1994" deur Gabriël J Bothma, word as afsonderlike gedeeltes in die hoofteks aangebied. Die nadeel van die afsonderlike hoofstukke in die hoofteks is dat die eenheid van die boek onderbreek word, dat die oorskakelings stokkerig geskied, en dat daar ’n mate van oorvleueling plaasvind (soos byvoorbeeld tussen die deel oor "Afrikaans na 1994" (120–23) en "Afrikaanse musiek na 1994" van Andries “Roof" Bezuidenhout (124–8), spesifiek wat die Afrikaanse kunstefeeste betref. Die ”Rock Revolusie“ kom op p 117 aan die bod, en ook weer, hoewel ietwat anders, op p 127. Dieselfde geld vir "Die opkoms en verval van die Afrikaanse rolprentbedryf" (90–94) waar onder andere die rol van Jamie Uys oorvleuel met wat in die vorige gedeelte, "Afrikaanse rolprente" (88–90) daaroor geskryf is.

Die eerste gedeelte, oor die geskiedenis en talle wetenswaardighede van Afrikaans, lees die lekkerste. Hierdie gedeelte is waarskynlik deur die redakteur geskryf, (omdat kursiverings ens by aanhalings deur "DH" aangebring is).

Die literêre verwysings is goed gekies om die verhaal van Afrikaans aan te koppel, of dit te illustreer. Literêre skeppings bly by uitstek dié middel om sonder inhibisies die strominge van allerhande aard binne ’n gemeenskap te weerspieël. Sommige gediggies (of korter aanhalings) kom onder uit die oude doos uit. Behalwe hulle toepaslikheid, verhoog hulle oprakeling uit die vergetelheid ook nog die kennisaanbod van hierdie boek. (Vgl Cachet se gedig "Di Afrikaanse taal" (33) en die interessante interpretasie daarvan (34 ev).) In hierdie boek kom inderdaad baie nodige sake aan die bod wat nie (meer) in die 21ste eeu gedeelde kennis onder Afrikaanssprekendes is nie.

Boeiend (en selfs verbysterend) is die terloopse vertel van ’n klompie binnestories wat verband hou met belangrike gebeurtenisse, bekende mense, en hulle eienaardighede. Hendrik Biebouw (ook die eerste Afrikaner genoem), het sy lewe later naby Perth geslyt (30; 121). Toe hy nog in Stellenbosch was, het hy sy bekende uitlating teenoor die landdros van Stellenbosch gemaak waarmee hy kon bedoel het dat hy, as ’n Afrikaner, en “iemand van Europese herkoms wat in Afrika gebore is, met meer respek deur die owerheid behandel moet word” (30). Mens lees ook onder meer dat Jamie Uys se The Gods must be crazy om boikotredes as ’n produk van Botswana bemark is (92); hoe die eerste redakteur van die WAT (prof JJ Smith) teen praatjiemakers op kantoor “beskerm” moes word (77); van Langenhoven se poging om sy “witmenstaal”-uitlating reg te stel (65); die Joodse dominee (32); prins Bernhard se saamsing met die Maleierkoor (47); hoe die Hertzogprys befonds word (70); dat die opsteller van die drietalige woordelys in Khoi, Latyn en Nederlands, GF Wreede (1664), later goewerneur van Mauritius sou word (19); en dat Di Patriot teen die einde van die 19de eeu die kant van Engeland teen Transvaal gekies het (44).

Halala Afrikaans behandel ’n klompie interessante temas, waaronder die bespreking oor die benamings Afrikaans en Afrikaner; die rol van Afrikaans in Namibië (20 ev) en Angola (Stassen, 165 ev), maar nie in byvoorbeeld Argentinië en Oos-Afrika, of elders nie; die verengelsing van Suid-Afrika (37 ev); die skrywersgilde en sensuur (114); die uitslag van ’n stemming oor problematiese wisselvorme wat SJ du Toit laat hou het, en waar ook die onderspit gedelf het teen ok (43); die statistiek oor Afrikaanse uitsprake in howe (84); en Afrikaans se rol as vertaaltaal (86, waar die vertaalwerk van Daniel Hugo uit Nederlands ongelukkig nie genoem word nie); die Afrikaanse rolprentbedryf (88 ev) en Afrikaans op die verhoog (99 ev), waar verwys word na die hoogbloei van die Afrikaanse toneel onder die kunsterade (102). (Jong volwassenes in ’n stad soos Pretoria het toe baie eerder op Saterdagaande na ’n Afrikaanse toneelstuk gaan kyk as om na ’n rolprentteater toe te gaan.)

2.2.2   'Die vele gesigte van Afrikaans" (hoofstuk 6), die tweede deel (137–69), bestaan weer uit ’n sestal bydraes van Anton F Prinsloo, Jaco Jacobs, Danielle Heyns, Annette de Wet, Daniel Hugo en Nicol Stassen. Die groot hoeveelheid informasie wat hierin aangebied word, is ter sake, en die kommentaar selfs boeiend. In meer as een geval was ek spyt dat van die bydraes so kort was! Maar: dié boek bestaan nie uit ’n bundel opstelle oor aspekte van Afrikaans nie, en ook nie as ’n langer teks met korter alleenstaande onderbrekings nie. Elkeen van die temas wat in die tweede deel bespreek word, kom in die eerste deel ook ter sprake, en kon daarby geïntegreer gewees het. Halala Afrikaans kon dan ’n hegte geheel gevorm het.

3          Na aanleiding van Langenhoven

Die belangrikste strominge in die inhoud van Halala Afrikaans kan na aanleiding van Langenhoven (wat ook maar ’n kind van sy tyd was) se uitspraak oor Afrikaans geïllustreer word (vgl p 40 en die kritiese opmerking daaroor): “(Afrikaans is) die één enigste witmens-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van lief en leed dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef en deurworstel en deurtriomfeer het; die een band wat ons as nasie aan mekaar heg …”

3.1         “... nie oor die seewater klaar gekom het nie”

Langenhoven was kennelik geïnteresseerd in die verskille tussen Afrikaans en Nederlands (vgl ’n lysie daarvan op p 16). “(O)or die seewater”, in Langenhoven se woorde, word hier verstaan as Nederland. Dit staan vas dat Afrikaans ’n Nederlandse basis het – sy “penwortel” (13; ook 51). Maar alle taalbelangstellendes weet ook goed: Afrikaans is nie Nederlands nie! By eerste kennismaking (en ook later) kla Afrikaanssprekendes dat hulle gesproke Nederlands nie kan volg nie, en andersom.
Hoe en waar die Nederlands gepraat is wat na Suid-Afrika toe gekom het, en wat die geskiedenis daarvan is (vgl Ponelis 1990/1991 en 1993, veral pp 121–43), word nie in Halala Afrikaans vermeld nie. Daar word wel iets oor die vroeë Nederlands gesê deur na Bosman se uitspraak te verwys wat konstateer dat dit nie die taal van Vondel en Hooft was nie (14), en meld dat die vryburgers se Nederlands die taal van laer sosiale groeperings in Nederland was (25).
         
Van oor die seewater het daar egter ook ander sprekers gekom wat vir hulle ’n kleim in Afrikaans afgepen het. Die meeste van dié sprekers het uit die Ooste gekom (“Die taal se buitelandse wortels lê in Europa en in die Ooste" (13)). Halala Afrikaans maak melding van die slawe uit die Ooste (17) en hulle kennis van Maleis-Portugees (’n aanleerderstaal wat Portugees in die oog gehad het), wat vir die Oosterse oorplanting sou sorg.

Daar is ook nog etlike ander tale aan die Kaap gepraat. In 1658 het die eerste groot groep slawe in die Kaap aangekom, maar nie uit die Ooste nie, wel uit Angola, nadat die skip waarop hulle was, naby Brasilië gebuit is (15). Nederlands en die Oosterse tale het op die ou einde die meeste invloed op die latere Afrikaans uitgeoefen. (Die groot aantal Duitsers wat in die eerste vyftig jaar aan die Kaap was, en die betreklik min invloed wat hulle taalsgewys uitgeoefen het, word nie bespreek nie.)

In ’n taalkontaksituasie (soos aan die vroeë Kaap en elders) ontstaan daar deur beïnvloeding altyd aanleerderstale. Die taal met die hoogste status of die meeste waarde was die teikentaal. Nederlands was so ’n teikentaal, maar, tot aan die begin van die 19de eeu, ook Maleis. Die resultaat van aanleerders se pogings is egter nie presies die teikentaal nie, maar ’n tussentaal (intertaal) op pad na die teikentaal toe. Soms, na aanleiding van die betrokke omstandighede, was die beïnvloeding tot woorde en sinsnedes beperk. Waar Duits, of ’n ander taal, die teikentaal is, sal die Afrikaans plek-plek duidelik deurskemer. In die “Südwesterlied” (22) verraai “Klippen” en “Riviere” die Afrikaanse aandeel daaraan! Op ’n bepaalde stadium (1795) wys die gebrek aan Engelse leenwoorde in die taal van die trekboere weer op min kontak met Engels, maar wel op kontak met Khoi en Nama, aldus Prinsloo (138), en elders in die binneland weer met Suid-Sotho, Xhosa, Zoeloe en Tswana.

’n Siening van De Ruyter en Kotze (2002) dat die Oosterse invloed op Kaapse Nederlands nie (net) aan die slawe toegeskryf kan word nie, word nie in Halala Afrikaans vermeld nie, en word hier kortliks genoem. Hulle huldig die mening dat die groot invloed van Oosterse tale op Kaapse Nederlands aan die tuisvaarders toegeskryf moet word - mense wat hulle dienstydperk in die Ooste afgehandel het, en op pad terug Nederland toe, tien dae of langer (Schoeman 2001:59) aan die Kaap oorgebly het. Volgens De Ruyter het daar tot 1795 nie minder nie as ’n totaal van 1,7 miljoen van die reisigers na en van die Ooste aan die klein Kaapse dorpie oorgebly. Wat die tuisvaarders betref, het daar nie minder as gemiddeld 2 300 gaste per jaar aan die Kaap vertoef nie. Hulle was welkome besoekers, veral vanweë die geld wat hulle saamgebring het, en daar is vanaf 1656, met die vertrek van die laaste skepe, ’n jaarlikse kermis gehou om hulle bydrae tot, en verryking van, die Kaapse gemeenskap te vier (Schoeman 2001:62).
         
Dat hierdie tuisvaarders die Maleise aanleerdersvarëteite van Nederlands sou ken, en ook gedurende hulle verblyf aan die Kaap sou gebruik, is vanselfsprekend, en De Ruyter en Kotzé verskaf interessante voorbeelde in hierdie verband. Met hulle getalle-oorwig en hulle status sou hulle inderdaad vir ’n belangrike beïnvloeding van Oosterse tale op Kaapse Nederlands kon gesorg het.

3.2         “(Afrikaans is) die één enigste witmens-taal wat in Suid-Afrika gemaak is ...”

Agter bostaande stelling lê die vraag: Wat het dan met Nederlands in Suid-Afrika gebeur, en hoekom?

Indien met "witmens-taal" bedoel word dat Afrikaans net deur blankes in Suid-Afrika gepraat is, of dat slegs die blankes se taal die aard van Afrikaans reflekteer, is dit ’n groot mistasting.

3.2.1   Taalkontaksituasies is meer as enigiets anders verantwoordelik vir die ontwikkeling van nuwe taalvorme in Suid-Afrika. Die aanleerdersprosesse (of kreoliseringsprosesse) wat daaruit voortgevloei het, het verskillende soorte Afrikaans tot gevolg wat verskeie fases van taalbeïnvloeding vertoon (vgl ook pp 253 ev). Dit kon ook nie anders in veeltalige omgewings, soos wat die Kaap by uitstek was, nie. Hierdie prosesse verskil ook nie veel van prosesse in ander gebiede waar Nederlands die teikentaal was/is nie. Sprekers wat in Suid-Afrika Nederlands (en ook Afrikaans) wou aanleer, se strategieë kom verder ook ooreen met die maniere waarop aanleerders in elk geval tale aanleer (vgl onder andere Markey 1982). Interessante reste is ook nog orals te vind: vgl byvoorbeeld die vorm “trop bees/skaap” onder Prinsloo se voorbeelde (138). Die woord gammat, weer, is ’n poging van sprekers wat Arabies nie ken nie, om die Arabiese woord Mogamad te sê (17).
         
In Halala Afrikaans (19) kom een van die vroeë optekenings van die aanleerdersvariëteit van die Khoi aan die Kaap ter sprake: “ons denkum ons altyd baas maar ons ja zienom, Duitsman meer baas”. (Die optekening kom uit Kolbe se boek wat in 1719 in Duits verskyn het, in 1727 in Nederlands (soos hier vermeld), in 1731 in Engels en in 1741 in Frans.) Die Kolbe-optekeninge korreleer goed met ’n optekening wat Ten Rhyne in 1661 gemaak het en ’n optekening in ’n argiefdokument van 1672. Die laaste twee gevalle, en aantekeninge van die taal van slawe tussen 1671 en 1721 (Scholtz 1981:26–7 en elders), wys hoe gou ná Van Riebeeck se aankoms daar al aanleerdersvorme aan die Kaap voorgekom het. (Aanleerdersvorme is al vroeër ook opgeteken ná kontak tussen skipbreukelinge en Khoi – vgl onder andere Den Besten 1987.) Die voorkoms van ons as onderwerpsvorm, een van Afrikaans se verskille met Nederlands, val op. Nóg verskynsels wat in hierdie vroeë optekenings voorkom, is vandag Standaardafrikaans. Die gebruik van dieselfde vorm vir verskillende voornaamwoorde wat in die teikentaal byvoorbeeld in die onderwerp- en voorwerpsposisie staan, of om besit aan te dui, word ook in ooreenstemming met aanleerderstrategieë elders gebruik.

’n Interessante opmerking word gemaak oor die wrangheid van die Kolbe-voorbeeld (19) hier bo. Daar kan inderdaad baie uit die aanleerders se omstandighede afgelei word deur na sulke vroeë optekenings van hulle taal te kyk. Wat die aard van vroeë aanleerdersvorme betref, toon die volgende voorbeeld uit 1672 byvoorbeeld hoe liggaamsbewegings daarmee gepaard moes gegaan het: “Gij dit beest fangum zoo” (Jy moet die koei só vang) (Ponelis 1993:30 ev).

Sou Afrikaans “’n maklike taal ... wees om aan te leer”? Dié vraag word op pp 47–8 kortliks bespreek. Die konklusie is dat tale in beginsel maar ewe maklik of moeilik is om aan te leer. Motivering maak baie saak. Verlangse bekendheid ook. Die taal van die Khoi was vir die nedersetters aan die Kaap baie moeilik. Moontlik omdat bogenoemde twee faktore (en ander) ontbreek het. (Aansporing daartoe het ook ontbreek. Ds Kalden kon in 1706 byvoorbeeld nie toestemming kry om tyd te spandeer aan die studie van Khoitaal nie (19).)

Omdat die Khoitaal so vreemd was, is dit op allerhande maniere, veral neerhalend (20), getipeer. Op pp 15–6 word daar van twee Evas aan die vroeë Kaap melding gemaak. Een van hulle, Eva Krotoa se dogter, Pieternella, sê egter (in die skryfster Dalene Matthee se woorde) dat dié taal, met sy klapklanke en wisselende toonhoogtes, klink “(s)oos klippertjies wat diep in ’n kleipot skud, met stukkies voëltaal tussenin” (Pieternella van die Kaap, p 23). (Halala Afrikaans maak melding van Matthee se boek, maar nie van Sleigh se soortgelyke roman nie.)
         
Annette de Wet se bydrae (153–61) toon duidelik aan dat kreoliseringsprosesse (byvoorbeeld in die Afrikaans van swart sprekers) nog steeds aan die gang is – vgl onder andere "goed speler" en die gelykmaking van voornaamwoordvorme: "sy het gedink sy (ipv haar) man sal weer kom (vgl ons ... ons in die voorafgaande voorbeeld uit 1672). Die uitspraak waarna op p 27 verwys word, dat bepaalde prosesse in Afrikaans gedurende die eerste 200 jaar al voltrek is, lyk hiervolgens nie houdbaar nie.
 
Naas “die besonder lewenskragtige” Kaapse Afrikaans (vgl p 17 vir enkele besonderhede) is Griekwa-Afrikaans, basies die Aanleerdersafrikaans van die Koi, die bekendste van die Afrikaanse variëteite (16). Baie van dié aanleerdersvorme het ook deel van Standaardafrikaans geword. Die Afrikaanse -hulle-konstruksie (bv oom-hulle en meer streeksgebonde oom-goed) is ’n voorbeeld. In die Khoi-grammatika bestaan ’n soortgelyke konstruksie, en dan is dit daarby ook nog ’n strategie van aanleerders, soos wat die Khoi was, om dikwels meervoude/kollektiewe met voornaamwoorde te vorm.
         
Khoisprekers het Nederlands (of Afrikaans, afhangende van die tyd van die kontak), in die oog gehad. Hulle kon dus nie ’n “ouer vorm van moderne Afrikaans” (soos op p 26 gekonstateer word) gepraat het nie. Hoogstens, op ’n bepaalde tydstip, ’n ouer vorm van hedendaagse Griekwa-Afrikaans.

Behalwe die invloed op die grammatika van Afrikaans het Khoisprekers, en Afrikaanssprekers wat op hulle beurt deur Khoi-aanleerders beïnvloed is, baie met die vorming en vervorming van Afrikaanse plekname te make gehad. Dié aspek word nie in Halala Afrikaans bespreek nie.

Waar die woord Hottentot vandaan kom, is al vir lank ’n twispunt onder etimoloë. Nienaber (1963:32 ev) wys op nie minder nie as 17 opinies daaroor! Halala Afrikaans se siening verskyn op 20.

3.2.2   Dit is hoofsaaklik die “wit variëteit” van Afrikaans wat in 1925 gestandaardiseer is. (Vir enkele redes daarvoor, vgl p 68.) Die standaardisering van hierdie variëteit (basies Oosgrensafrikaans) het meegehelp aan die illusie dat dit die enigste manier is waarop Afrikaans (korrek) gepraat word. Taalkundiges het dit egter al lankal benadruk dat Afrikaans die eenheid van al sy variëteite is. Afrikaans was nie net die taal van die koloniste in Suid-Afrika nie. “Dit was ook die taal van ... slawe en werkers. Miskien selfs in die eerste plek hulle taal, omdat alle formele opvoeding tot aan die begin van die twintigste eeu nie in Afrikaans plaasgevind het nie, maar hoofsaaklik in Nederlands of Engels, en ook vir ’n tyd in Maleis" (40-41). Hans du Plessis het bekendheid verwerf met sy bundels Griekwa-Psalms (24). Die groot betekenis van hierdie werke lê egter in die bewusmaking by ’n groot aantal Afrikaanssprekendes van die bestaan van meer soorte Afrikaans as net een.

Inderdaad is die taalfamilie waartoe Afrikaans behoort, nogal groot. Dit sluit nie net Nederlands in nie, maar ook die ander aanleerderstale elders wat Nederlands in die oog gehad het. In die insetsel oor die aantal Afrikaanssprekendes (123) is ’n gulde kans verby laat gaan om meer oor die uitgebreide Afrikaanse taalfamilie te sê, en ook oor die familie wat in afgesonderde enklawes woon, soos in Buysdorp, en gewoon het, soos in Thlabane.

3.3      Afrikaans “wat die spore ... dra van alles wat ons en ons vadere hier deurleef ... het”

Mens kan die aanhaling hier bo, ietwat geforseerd, vir die doel van dié bespreking so lees dat dit dui op die resultate wat Afrikaanssprekendes deur geslagte heen met hulle taal bereik het. Enkele van die prestasies van Afrikaanssprekendes wat in Halala Afrikaans uitgelig word, word hier bekyk.

3.3.1   In aansluiting by "Afrikaans met ’n fes" (45–8) is dit duidelik dat die onderrig van Afrikaans en die geskiedskrywing van Afrikaans baie armer sou gewees het sonder die energie en die taalerflating van die Moslemgemeenskap van die Kaap. Die rol wat verskillende tale, veral Kaapse Afrikaans, in hierdie verband sedert die einde van die 18de eeu gespeel het, is interessant. (Halala Afrikaans verkies die aanduiding Moslem-Afrikaans vir dié variëteit van Afrikaans wat gaandeweg ’n belangriker rol begin speel het, en verwys na LT du Plessis wat van Maleier-Afrikaans praat. Miskien was die status van Maleis as onderrigtaal die oorweging vir sy keuse?) Davids (1991:50) het bevind dat Maleis, geskryf in Arabiese skrif (Jawi), sedert 1793 as onderrigtaal deur Tuan Guru in die Dorp Straat Madrasah (Moslemskool) gebruik is. Die taal Arabies is nie onderrig nie, alhoewel die tekens van die Arabiese skryfwyse (tajwîd) deur medium van Maleis onderrig is. Arabies het taamlik gou die status van ’n vreemde taal aan die Kaap verwerf. In Halala Afrikaans (46) word ’n aantal Arabiese leenwoorde in Kaapse Afrikaans aangegee, opgeteken deur EF Kotzé. Omdat Arabies deur medium van Maleis onderrig is, is Davids van mening dat daar minder van hierdie Arabiese leenwoorde in Kaapse Afrikaans voorkom as wat verwag sou word (Davids 1991:68).
 
Die boeke wat in die onderrig gebruik is, is koplesboeke genoem (boeke waaruit lesse van buite geleer is). Die koplesboeke wat bewaar gebly het, naas die godsdiensgeskrifte (46) is belangrike dokumente waarin die onderrigtaal, skryfwyse en onderrigmetodes gedokumenteer is. Die Moslemskole waar Maleis die onderrigtaal was, het die skakels gevorm wat die Moslemgemeenskap bymekaar gehou het en godsdienstige en ander idees, kultuurbeskouings en filosofieë, en hulle lees- en skryfkultuur, lewend gehou het (Davids 1991:69, 81). Die sukses van dié skole (46) blyk daaruit dat hulle in die 19de eeu ook in die binneland (Port Elizabeth en Kimberley) posgevat het (vgl oa Davids 1991:126, 143, 146). Die organisasie van hierdie onderrigsisteem het teen die einde van die 19de eeu verkrummel, en die Moslemskole is in verskeie moskees voortgesit.

Mens sou verwag dat Maleis ’n baie groter rol aan die Kaap sou gespeel het omdat dit as onderrigtaal in die Moslemskole gebruik is. Dit was egter nie die geval nie, omdat die Kaapse Afrikaans van hierdie gemeenskap hand oor hand veld gewen het teen Maleis (Davids 1991:78, 81). Maleis is egter nog baie lank deur die elite gebruik, en Maleisiese godsdienstige terminologie en uitings van respek het diep gewortel geraak in die Afrikaans van die Kaapse Moslemgemeenskap (Davids 1991:56). Buite die Moslemskole het die slawe hulle soort Afrikaans gebruik, naas Maleis.

Davids skryf van interessante gevalle wat wys hoe nou die slawegemeenskap met hulle soort Afrikaans geassosieer is. By geleentheid is dit byvoorbeeld oorweeg om ’n Moslemgeskrif wat in Engels geskryf was, in Afrikaans te vertaal sodat die slawegemeenskap dit ook kon lees (1991:55). Die London Missionary Society se pogings (1839) om slawekinders te bekeer, illustreer die bogenoemde punt ook. Eers toe die Genootskap se Beginsels van die Christelike Leer in Afrikaans verduidelik is (Davids 1991:57-8), kon hulle op ’n mate van sukses aanspraak maak.

Talle koplesboeke, en ’n eksemplaar van Abu Bakr se Bajaanmoeddien (46) kan in die museum in die Bo-Kaap gesien word.

3.3.2   Afrikaans se erkenning as ampstaal het gekom na ’n stryd teen Nederlands. Dit was ook ’n stryd teen ’n sosiale stigma. Na dié aspek word daar meermale verwys (soos onder andere die suggestie dat Idioticon verstaan sou word as iets wat met idiote te doen sou hê (48)!).

Met die standaardisering van Afrikaans (63 ev) het sy spellingbereëling, deur sy Taalkommissie, die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geword. (Hoe ’n nasionale liggaam na die spelling van net een van die 11 ampstale omsien, bly steeds ’n goeie vraag.) Dat die Taalkommissie met omsigtigheid en groot takt tussen variante sy pad moes vind, is duidelik. Herman Charles Bosman het al vroeër die vraag gevra oor die verteenwoordiging van Afrikaans se variëteite in sy gereglementeerde vorm (66). Die vraag maak sin teen die agtergrond van wat Koos Kombuis sê oor Standaardafrikaans: dat dit die “gemiddelde van al die dominante neigings in Afrikaans as geheel” is (69). Dit is al aangedui dat die Taalkommissies van die Akademie nooit op die spelling van SJ du Toit probeer voortbou het nie. Daar bestaan toevallig gevalle van SMS-spelling (-i, soos in ni (150)), wat baie herinner aan die ou Patriot-spelling! (In Negerhollands word daar ook (informeel) manir en di geskryf.)

Die SMS-gebruik van Afrikaans illustreer wel hoe Afrikaanssprekers ook pret kan hê met hulle taal. Die skryf van diakritiese tekens in Afrikaans gee probleme, en nie net by die skryf van SMS’e nie. Ek het al die effens tong-in-die-kies-voorstel gehoor dat Afrikaans by sy lang vokale gerus h kan skryf, byvoorbeeld hoher, loohp, ohe, ens!

3.3.3   Halala Afrikaans (veral in die hoofstuk "Afrikaans na 1994" (120–23) gaan te vinnig oor die drukgang waarin Afrikaans hom tans (2009) in Suid-Afrika bevind, en wat toe te skryf is aan “die regering se ondermyning van Afrikaans” (121). Die stryd om funksies te behou, veral die onderwysfunksie (vgl ook p 120), en die implikasies wat volg uit ’n afskaling daarvan (soos alreeds vroeër deur Steyn 1980 voorgehou), behoort beslis spesiale aandag te geniet in ’n boek oor Afrikaans (en ’n instelling soos Solidariteit se Afrikaanse Sol-Tech behoort ’n spesiale pluimpie te kry). Die staaltjie uit Di Patriot van 1880 oor die Paarliet wat netjies op sy taalregte gestaan het (41), is vandag goed van toepassing. Dié verwysing word afgesluit met: “Was daar meer sulke Afrikaners, dan sou daar meer rekening gehou worde met ons landstaal, en dit sou nie so miskend worde nie.” Verwysings na hierdie situasie kom meermale voor, byvoorbeeld in die hoofstuk van Botma, "Die gedrukte media in Afrikaans na 1994" (130).

3.3.4   Sprekers van ’n taal leef hulle op verskeie terreine uit, ook in hulle musiek (waar die FAK-sangbundel, uit watter hoek ook al daarna gekyk word, ’n belangrike rol gespeel het (104, 105)). Soos skrywers en digters hulle betrokkenheid by strominge in die literêre wêreld en die sosiale omstandighede en politiek van die dag op ’n eiesoortige manier dokumenteer (en sensuur van allerhande soort op die lyf kan loop (oa pp 114 ev)), spoel daar ook verskeie strominge deur die musiekwêreld, en word daar eie identiteite geskep (128). In Halala Afrikaans word daar insiggewende kommentaar gelewer op die betekenis van byvoorbeeld die Voëlvry-beweging (116 ev, 127).
         
In die stukke oor Afrikaanse musiek kon daar gerus meer van Koos du Plessis se besondere bydrae gemaak gewees het. Engelse skoolkinders wat hulle grootliks van Afrikaans gedistansieer het, het byvoorbeeld in die laat sewentigerjare uit hulle eie geesdriftig aan Koos se liedjies gesing!
         
Bezuidenhout (125) verwys na KOBUS! se irritasie oor die CD’s van mense met “(meer) selfvertroue as talent”. Dit is inderdaad so dat daar vandag lirieke in Afrikaans opduik wat vanweë die oppervlakkigheid en sinloosheid daarvan strafbaar behoort te wees!

3.3.5   Die meeste lede van gemeenskappe streef daarna om ’n Bybel in hulle eie taal te kan lees (71 ev), en argumenteer daarna dan weer onophoudelik en selfs kleinlik oor daardie Bybel se taalgebruik. Tans kom daar nog baie Nederlandse en Nederlandsagtige woorde in die Afrikaanse Bybels voor. Daar word verwys (72) na ’n vyftal woorde wat Conradie aangedui het wat in die 1953-vertaling voorkom, maar nie in die 1933-vertaling nie: welgedaan, maagde (jong meisies), herder, my heer, vleuels. Nie een van hierdie woorde is gebruiklike Afrikaanse woorde nie. Party word in die WAT gemerk as verouderd, of as verhewe. Miskien is dit die rede waarom sommige predikante in hulle preke na engelsagtige jongmenswoorde gryp en ouer lidmate se bloeddruk die hoogte laat inskiet? (Vgl Jaco Jacobs se bydrae oor tienertaal en die rol van Engels daarin (143 ev).)

3.3.6   Die gebruik van Afrikaans in die kuberruimte kom nie in Halala Afrikaans aan die bod nie. (Vgl egter die verwysing na die Kuberwoordeboek (80). In die tyd van Afrikaanse webwerwe, en die groeiende belangstelling daarin (webwerwe het koerante elders al laat sluit), verdien hierdie belangrike aktiwiteit sekerlik aandag. Daarby kom daar ook nog die vindingryke Afrikaanse nuutskeppings wat op hierdie terrein en in die rekenaaromgewing gebruik word, ter sprake. Afrikaanse spelprogramme maak die lewe ook soveel makliker vir rekenaargebruikers wat onseker voel om Afrikaans te gebruik.

3.3.7   Halala Afrikaans verskaf nie net ’n interessante versameling feite oor so baie sake waarvan mense meer sal wil weet nie, maar lewer ook kommentaar oor dié gegewens. Meer kommentaar wat dieper strek, sou natuurlik verwelkom word – maar dan is die boek nie meer ’n “bondige oorsig" nie. Dié boek verwys byvoorbeeld na die Hertzogprys vir letterkunde (maar nie na byvoorbeeld die Pendoring-toekennings – en kritiek daarop – nie); drie van die Afrikaanse woordeboeke: die WAT (74), die HAT (79) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (79). (In verband met laasgenoemde los hulle ongelukkig nie die raaisel op waarom woorde van voor die 20ste eeu as verouderd beskou word en nie opgeneem word nie, soos piekenier en moot, en nog talle ander.)

Een van die temas oor Afrikaans wat nie aandag kon geniet binne die opset van hierdie boek nie, is die studie van Afrikaans aan buitelandse universiteite.
 
Die Afrikaanse gemeenskap het ook al buitengewoon begaafde individue opgelewer. Die groot aantal biografieë getuig daarvan. Iets oor hulle sou in Halala Afrikaans ook goed te pas gekom het. (Met die seun van Jan van Riebeeck, Abraham, se naam ook dalk daaronder as die man wat dalk nog die hoogste posisie beklee het – goewerneur-generaal van die Oos-Indiese Gebied – van mense wat in Suid-Afrika gebore is.)

3.3.8   In Halala Afrikaans word van begrippe gepraat sonder om lesers bietjie te help met die vertrekpunte wat die skrywers huldig: byvoorbeeld kreools en taalbeweging.

(K)erklike gemeente (14) en dialektiese navorsing (46) het deurgeglip, en se in plaas van sy (51).

Kruisverwysings sal ’n groot hulp wees vir lesers wat die boek as ’n naslaanbron wil gebruik.

3.3.9   Die raamwerk van ’n “bondige oorsig” (12) waarbinne hierdie werk moet inpas, is sy grootste beperking. Die wisselende invalshoeke wat gepaard gaan met ’n wye blik, die verskeidenheid temas, en die groot hoeveelheid gegewens, saam met die gemaklike aanbiedingswyse, is sy grootste bate. Hierdie boek kan aanbeveel word vir almal wat meer oor Afrikaans wil weet.

 

4         ’n Voorstel

As mens regtig wil weet hoe Afrikaans lyk, is daar egter ’n meer omvattende werk nodig. Miskien met ’n ensiklopediese opset waarin daar grondig met die wetenswaardighede van Afrikaans omgegaan kan word. Baie van die basiese navorsing oor Afrikaans en sy variëteite kan nie meer gedoen word nie. Dit kan egter nog georden word. Moet belangstellendes in Afrikaans nie aan so ’n projek dink nie?

 

Bronnelys

Davids, A. 1991. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915. A sociolinguistic study. Ongepubliseerde MA, Universiteit van Natal.
Den Besten, H. Die niederländische Pidgins der alten Kapkolonie. In N Boretzky ea (reds). Beiträge zum 3. Essener Kolloquim über Sprachwandel und seine bestimmenden Faktoren. Bochum, Brockmeyer.
De Ruyter, C en EF Kotzé. 2002. Oor Austro-Nederlands en die oorsprong van Afrikaans. Literator 23(3):139-60.
Markey, TL. 1982. Afrikaans: creole or non-creole? Zeitschrift für Dialektologie und Linguistik IL (2):169–207.
Nienaber, GS. 1963. Hottentots. Van Schaik, Pretoria.
Ponelis, FA. 1990/1991. Historiese Klankleer van Afrikaans. Annale van die Universiteit van Stellenbosch.
—. 1993. The development of Afrikaans. Duisburg papers on research in language and culture. Vol 18). Peter Lang, Frankfurt am Main.
Schoeman, K. 2001. Armosyn van die Kaap. Die wêreld van ’n slavin. Kaapstad, Human en Rousseau.
Scholtz, J du P. 1981 (tweede uitgawe). Taalhistoriese Opstelle. Kaapstad. Tafelberg.
Steyn, J. C. 1980. Tuiste in eie Taal. Kaapstad, Tafelberg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top