'n Konstruktiwistiese bespreking van Rian Malan se bundel artikels Resident Alien

  • 0

Skrywer: Rian Malan
Titel: Resident Alien
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868423569
Prys: R166.50

As vertrekpunt vir hierdie bespreking van Rian Malan se bundel artikels Resident Alien dien die mediastudies-perspektief van “konstruktiwisme” – met ander woorde die teoretiese beginsel dat die media help om die “realiteit” te skep. Volgens die siening “reflekteer” joernaliste en skrywers dus nie bloot die samelewing nie - hulle is allermins “neutrale” of “objektiewe” “boodskappers”, soos wat bedryfsleiers soms in reaksie op openbare kritiek aanvoer.

Twee aspekte van “konstruktiwisme” kom ter sprake. Eerstens is daar die kwessie van taal - die aard van taal self en die manier waarop dit gebruik word. Om onderliggende bepalende “strukture” bloot te lê, kan ’n ontleder op teks- en/of diskoersanalise fokus. Wat kan jy byvoorbeeld alles aflei uit Malan se woordkeuse en skryfstyl? Tweedens kan jy selfs wyer kyk, na die produksie-omgewing van die betrokke media-instansie en –produk. In die geval van nuusjoernalistiek kom die konsep van “nuuswaardes” ter sprake. Jy kan vra hoekom “hekwagters” een “storie” bo ’n ander selekteer en watter rol bladuitlegkunstenaars en taalredigeerders speel om dit te “raam”.

Tot Malan se eer: ek het nêrens in sy bundel raakgelees dat hy meen hy is “objektief” of objektiwiteit nastreef nie. Soos baie joernaliste glo hy klaarblyklik wel in “feite” en die “waarheid”, maar hy meen dat laasgenoemde finaal onbereikbaar is. Malan verklaar op bladsy x van die voorwoord: “there’s no such thing as a true story here [in South Africa]". In Amerika, blyk dit, is die waarheid darem ook onbereikbaar, maar in Afrika is dit “erger”. Met hierdie soort stelling posisioneer Malan hom sentraal in ’n bepaalde Eurosentriese diskoers oor Afrika, of hy dit nou wil toegee of nie.

Regverdig probeer Malan wel wees, soos blyk uit sy toewyding tot navorsing en die kritiese hantering van al sy bronne – selfs diegene waarvan hy hou. Verder blyk dit dat hy – soos dit ’n deurwinterde joernalis betaam - ’n broertjie dood het aan akademiese benaderings en betragtings in druk (sien “Return of the Unlikeable Mr Roberts”). Hy is ’n gatskop-, bloed-en-derms-skrywer. Soos hy ietwat pretensieus in die voorwoord verklaar, “My name is Rian Malan and I called it as I saw it” (xiii). Macho, onapologeties, effens bitter, beslis nie polities korrek nie, en altyd vermaaklik ...

Malan roem hom op sy onverskrokke onafhanklikheid, maar is volgens die vertrekpunt hier deel van ’n struktuur wat hom voortgebring het, en wat hy help vorm. In Resident Alien skep hy Suid-Afrika in kleur en geur (en dit stink dikwels ten hemele) maar hy word ook daardeur geskep (as tipies ontnugterde joernalis wat al te veel gesien en gehoor het).

So is die lewe volgens Rian Malan! Die interessanter vraagstuk is wat die skepping (onbedoeld) verklap van die struktuur waarin en waardeur dit ontstaan het.

Op die stofomslag word Malan (volgens die Londen Times) as “South Africa’s Hunter S Thompson” aangekondig. Is iemand al die “Rian Malan van Amerika” genoem, of moet ons joernaliste en skrywers maar immer op die kantlyn van die “ontwikkelende Derde Wêreld” na die “kern” hunker? Dit gaan oor bemarking, natuurlik, en dit is seker bedoel as pluimpie vir die skrywer ook. Maar juis hierdie truuk wys iets van die storie agter die storie. Malan laat blyk voorts in die voorwoord dat hy nie regtig seker is/was of die bundel sinvol is nie (ix) – dit mag natuurlik fyn spog wees – maar kom ons neem hom tog op sy woord. As die projek nie sy idee was nie, wie s’n was dit dan? En waarom? Skryf ons edele motiewe aan die uitgewer Jonathan Ball toe, is dit duidelik waarom tot die stap oorgegaan is om Rian Malan se werk vir die nageslag te bewaar. Dit lig die leser in, dit voed die leser op en dit vermaak die leser. Aspirantjoernaliste mag dit dalk eendag êrens op ’n kursusleeslys vind.

Die winsmotief is egter deesdae volgens alle aanduidings belangriker as ooit in die uitgewersbedryf. Hoekom sou ’n bundel deur Rian Malan dalk aandag trek en verkoop? Omdat hy bekend/beroemd/berug/omstrede is – al sedert die publikasie van My Traitor’s Heart – en van die boek se bemarking destyds onthou ek – as ek reg onthou - net dat hy aan een van die “argitekte van apartheid”, DF Malan, verbind is (“jong Afrikaner-rebel versus ou Afrikaner-rassis”)? Uiteraard help dit as jy kan skryf, en selfs “goed” kan skryf (maar glo my vry, dit is glad nie ’n vereiste om ’n joernalis te word of ’n boek te publiseer nie). Apartheid is lankal verby en wie gee nog om vir die wel en wee van die wit Malans in Afrika? Neef Rian is egter steeds omstrede, en ek dink hy glo dit is omdat hy min of meer op dieselfde plek bly staan het terwyl die wêreld rondom hom verander het. Hy dra dus die skel-etiket van sommige “liberale” – dat hy “Afropessimisties” en “rassisties” is – met trots (xiii).

Om op te som: hierdie bundel is uitgegee omdat Rian Malan boeiend kan skryf en reeds bekend is (maar nie so bekend soos Hunter S Thompson nie). Dit is voorts ’n duidelike illustrasie van die joernalis wat (deel van) “die storie” word - net soos ek deel van hierdie bespreking is. Dit raak duiselingwekkend, want die bespreking gaan oor die joernalis wie se joernalistiek gebundel is … Hoeveel verder verwyderd van “die realiteit” waaroor Malan skryf, kan die leser nog verwyderd raak (miskien deur krities daaroor te “Twitter”)?

Die bundel bevat ’n aantal artikels wat Malan oor dekades in verskillende internasionale en nasionale tydskrifte gepubliseer het. Dit fokus op politici en musici, skoonheidskoninginne en son-konings, helde en skurke, maar veral op die grys gebiede tussenin – daar waar klein mensies magtelose slagoffers word van die magsug, hebsug en selfsug van ander, en veral van hul eie menslikheid. Met húlle skyn daar onder Malan se bravado-sinisme deernis deur.

Malan se joernalistieke aanslag – ongeag die elemente van oorspronklikheid – is nou al ’n herkenbare styltipe in Suid-Afrika. Interessant dat daar dikwels onder hulle ’n “Afrikaner”-konneksie is; en ek is seker feitlik almal het in ’n stadium ’n Hemingway-fiksasie vertroetel. Indien dit waar is van Malan, het hy intussen ook “nader aan die huis” beweeg. In ’n terugblik-artikel (“The Prince of Darkness”), wat oorspronklik in Fair Lady verskyn het, vertel hy van ’n sukkelonderhoud wat hy jare gelede met JM Coetzee gevoer het (die geleentheid was die toekenning van die Nobel-prys aan die Immer Ontwykende Skrywer en die redakteur van die tydskrif het toe seker ’n bekende beskikbare joernalis opdrag gegee om te mymer oor die Skrywer wat eens (amper) sy sluier gelig het … praat van afstand tussen leser en “realiteit”!). Malan skryf daarin dat hy – net soos Coetzee uit huis uit Afrikaans en Engels – altyd gereken het dat hy en die Skrywer iets gemeen het en dat hy hom op ’n basiese vlak verstaan, maar dat die onderhoud glad nie goed verloop het nie. Moeilik om te glo dat Rian Malan die knie moes buig. Wys jou net, elkeen het ’n plek in die hiërargie van skrywendes, en diegene wat hul stories net halfpad uit die duim suig – soos joernaliste – is dikwels nie bo-aan nie voedselketting nie.  

Joernalistiek dien immers die afgod van onmiddellikheid en “feite”, en wat word van “vars nuus” wat geblik word? Is dit weens jare lange blootstelling aan die dermkanaal van die joernalistiek dat die mees onlangse bydraes in Resident Alien my die sterkste getrek het? Veral die eerste artikel, “Nemesis” – oor hoe Jackie Selebi eintlik tot ’n val gekom het – is ’n hoogtepunt. Dit is verstaanbaar dat iemand dit reeds wil verfilm.

Maar wanneer die konteks verder histories raak, moet jy jou plesier volledig put uit die vaardigheid en persoonlikheid van die enigmatiese Rian Malan. Nie onplesierig nie, maar van die artikels het jy vroeër al elders raakgeloop – en in elk geval is daar sekerlik nog Hunter S Thompson wat jy graag sal wil lees … Hy is ook skerp, diep en vermaaklik. Hy is steeds die kern van talle in “ons Afrika”.

 

<< Terug na die miniseminaar: Resident Alien | Back to mini-seminar: Resident Alien <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top