’n "Hitchslap" vir Johannes Comestor

  • 0

Johannes Comestor skryf in hierdie artikel onder andere dat Hitchens dogmaties is, en hom ook soms skuldig maak aan oordrywing en die kwytraak van valshede. Ernstige aantygings teen 'n man wat geen geheim daarvan gemaak het dat hy homself as 'n internasionale erkende intellektueel gesien het nie.

JC noem dan 3 kwessies wat sy bewering, na bewering, staaf:

1. Hy sê Hitchens "verkies 'n populêre stelling bo die waarheid" wanneer hy dit stel dat "Dietrich Bonnhoeffer, a brave Lutheran pastor hanged by the Nazis for his refusal to collude with them (p7)" terwyl hy, JC, self al onlangs geskryf het wat tot Bonnhoefer se dood aanleiding gegee het in SêNet 14 Maart.

Die uwe het JC se brief van 14 Maart gelees en Bonnhoefer wyd en syd gegoegeloer (Deborah Steinmair se uitdrukking?) en ek kan werklik nie die geldigheid van hierdie kritiek insien nie. Hitchens se sin stem ooreen met al die inligting oor die geval Bonnhoefer, en ook, in wese, met JC se weergawe (klaarblyklik die mees gesaghebbende). Waaragtig darem nie 'n onware of oneerlike stelling deur Hitchens nie.

2. Hy kritiseer Hitchens vir sy admirasie vir (Dr) Martin Luther King ten spyte van vele gerugte dat King plagiaat gepleeg in die verkryging van sy doktorsgraad.

Ag nee wat, soos uit JC se eie aanhalings blyk, stel Hitchens nie vir King as 'n vlekvrye engeltjie voor nie, allermins. Al wat Hitchens doen is om 'n voorkeur vir King se politieke ideologie uit te spreek. As JC nie met daardie bepaalde ideologie saamstem nie, maak dit seker nie vir Hitchens "dogmaties" nie?

3. JC vaar uit teen Hitchens se verwysing na apartheid as "the most hateful dictatorship of the twentieth century ... the vile system of apartheid ..."

Toegegee, oor die vrae wat JC in hierdie verband stel, kan seker gedebateer word, maar wat nie juis oop vir debat is nie, is die feit dat omtrent elke mens op die planeet, behalwe die miniskule groep regse wittes in SA, min of meer met Hitchens se beskrywing van apartheid saamstem. Ten beste vir JC is daar aspekte van die algemeen-aanvaarde oordeel oor wat apartheid was, wat aanvegbaar is, maar hoe op dees aarde kan Hitchens as "dogmaties" uitgekryt word as hy dieselfde mening as min of meer 99.9999 % van die bevolking van die planeet huldig?

Verder, soos JC self in sy latere bespreking van "Hitch 22" uitwys (SêNet 25 April) het Hitchens sy eie politieke oortuigings heel ondogmaties aangepas soos wat hy meer kennis en ervaring opgedoen het. JC noem self voorbeelde hiervan ("... sy progressie van 'n radikaal linkse Trotskyis tot ... 'n meer gematigde, selfs regse, politieke kommentator ..." en sy aanhaling van Hitchens self "I have changed my mind on a number of things...") en 'n spesifieke voorbeeld wat hy sou kon noem, is hoedat die jong Hitchens se opinie oor Castro se vorm van (dogmatiese) sosialisme verander het nadat hy self vir Kuba besoek het ("Hitch 22 "bl 110 ev) en eerstehands kon sien dat die "sosialistiese utopia" kom met 'n stel onaanvaarbare beperkings op indiwiduele vryheid.

By die lees van JC se brief word mens getref deur sy eie dogma: sy kritiek teen Hitchens berus in elke geval op sy eie beskouing van die waarheid nieteenstaande die feit dat sy beskouing by verre die minderheidsbeskouing is. JC laat geen ruimte vir teenspraak nie. Die ironie hiervan, in Hitchens-idioom, is van heroïese proporsies.

Con Joubert

NS Die opskrif van hierdie brief is tong in die kies en maar net daarop gemik om aandag te trek geen mens, die uwe allermins, kan 'n " hitchslap" uitdeel soos wat die ontslape meester kon doen nie.

 

 

 

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top