''‘n Deel van jou sal vir altyd in hierdie woude dwaal''

  • 0

I

Met hierdie kort roman het Tom Dreyer heel letterlik sy oeuvre verdiep. Tot onlangs was sy naam sinoniem met ‘n berekend “oppervlakkige” literêre idioom. Met veel nouer verwantskap aan rolprente (veral dié van Quentin Tarantino) as die literêre kanon, was sy eerste twee romans gekenmerk deur visuele geletterdheid, gestileerde uitbeeldings van geweld, en ‘n snedige, hardgebakte narratiewe aanbod.

Beide Erdvarkfontein (1998) en Stinkafrikaners (2000) het heelwat lof vir hulle skrywer verdien. Ek was nie self besonder meegevoer deur hierdie vroeë werke van Dreyer nie, maar verstaan waarom hulle as belangrik geag kan word. Terwyl ‘n gevestigde generasie skrywers terugskouend met die mags- en kulturele “verliese” van die postapartheidsjare omgegaan het (mens hoor dikwels die term verliesliteratuur), was Dreyer een van die meer sigbare verteenwoordigers van ‘n heel ander, jeugdiger impuls: ‘n nuwe geslag Afrikaanse skrywers wat, onbelemmerd deur die kanon en onsentimenteel oor die Afrikaner-verlede, bereid was om die populêre, meestal Amerikaanse en veral visuele kultuurgoed waarmee hulle grootgeword het, met genot te omhels en literêr te ontgin. Deur die moontlikhede van ‘n meer “geglobaliseerde” verbeelding aan te gryp kon hierdie “nuwe stemme” die potensiële identiteitsproblematiek en morele lamlegging van die postapartheidsgegewe systap, terwyl hulle terselfdertyd ook die soms “verhewe” beeld van die Afrikaanse letterkunde ietwat kon relativeer. In pas met die postideologiese en posthistoriese tydsgees van die 1990’s was hierdie geglobaliseerde verbeelding of populêr-kulturele verwysingsraamwerk dan ook heel gepas gekenmerk deur distansiëring eerder as betrokkenheid, en deur ironie eerder as outentisiteit.

Met die draai van die eeu het die gepoetste oppervlakke van die 1990’s egter begin verdof en is die werklikheid in alle eer (of dalk oneer) herstel as iets gelaagd, nie bloot ‘n spel van spieëls nie. Miskien is die simboliese oomblik wat hierdie hernude konfrontasie met die veelvlakkigheid van die werklikheid aangekondig het, die antiglobaliseringsbetogings in Seattle in 1999, of dalk die gebeure van 11 September 2001. Hoe ook al, Tarantino se Pulp Fiction, met sy sirkulêre narratief, speelse selfreferensialiteit en virtualisering van geweld, was waarskynlik ikonies van ‘n era wat die einde van die ideologie en die geskiedenis aangekondig het en die implikasies daarvan vir die verbeelding en representasie moes probeer verstaan. Hierteenoor kan die Wachovski broers se ewe ikoniese The Matrix (1999) gesien word as ‘n herwaardering, ten minste in die populêre kultuur, van wat ánderkant die spieël bestaan. Ewe gestileerd in die uitbeelding van die werklikheid en geweld poog The Matrix egter nie om die oppervlak te verabsoluteer nie, maar juis om dit te relativeer. Die boodskap van The Matrix is immers dit: “Welcome to the desert of the real ...” Hiermee bevind ons ons midde-in ‘n kulturele verbeelding wat opnuut sensitief is vir die ideologiese konstitusie van die werklikheid, vir die historisiteit van ons bestaan, en vir die onbewuste vertakkinge (en “verstokkinge”) van identiteit.

‘n Roman verder verwyder van sy eertydse “oppervlakkige” idioom kon Dreyer amper nie geskryf het nie. Equatoria is ‘n “diep” roman, waarmee ek eerstens bedoel dat dit karakters skets met komplekse, innerlike wêrelde, maar tweedens en veral ook dat die verhaalgegewe telkens verdubbel in laag op laag van betekenis en simboliek. Soos The Matrix (en dit is die enigste parallel wat ek tussen hierdie andersins uiteenlopende tekste sal aantoon!) dring Dreyer se roman aan op ‘n psigoanalitiese lees, en dan miskien veral een ingegee deur die Franse psigoanalis Jacques Lacan. Die mitologiese raamwerk wat Dreyer aktiveer, is nie bloot ‘n simboliese lens waardeur ‘n literêre perspektief op die gebeure bewerkstellig word nie, of waarmee daar van die oppervlakgegewens van die verhaal sin gemaak word nie. Die mitologiese onderbou is hier veel eerder die “eintlike werklikheid” (in Lacan se terme: die “reële”), ‘n gegewe wat dit wat op die oppervlak gebeur, ontmasker as dwaling, verdoeseling, misverstand en onmoontlikheid (of in Lacan se terme, as “imaginêr”).

Benewens hierdie “verdieping” betree Dreyer met Equatoria ook ‘n meer resonante literêre verwysingsraamwerk. Eerder as dat sy verbeelding deur die populêre kultuur oorheers word, fluister ‘n menigte skrywerstemme in die agtergrond mee: Conrad, Beckett, dalk Greene; en nader tuis, definitief Chris Barnard se Mahala, miskien selfs Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein en Alexander Strachan se Die jakkalsjagter. Goeie geselskap, maar nogal intimiderend ook. Min skrywers gaan die fenomenologie van die soektog (“quest”) en die wag vasvang soos ‘n Conrad en ‘n Beckett, en wat my betref moet mens nie eens probeer om Grahame Greene die uitbeelding van die ellendige, ontoereikende binnelewe van ‘n misplaaste, twyfelende Europeër in ‘n koloniale opset te probeer nadoen nie ...

Maar dan handel Dreyer se boek júis oor die onmoontlike verwagting en die doodgeloopte soektog. En wat dit betref is Equatoria glad nie ‘n slegte boek nie. Om die waarheid te sê, dit is eintlik heel fassinerend.

II

Equatoria is op die oppervlak ‘n eenvoudige verhaal. Willis Reed, ‘n Britse dierkundige, en sy entomoloog-vriend, Guy Nichols, onderneem in opdrag van die Antwerpen-dieretuin ‘n ekspedisie in sentraal-Afrika. Die doel van die ekspedisie is om vir die eerste keer ‘n lewende okapi na Europa te neem. Hulle gids is Obieka, wat benewens sy rol as geografiese gids ook as ‘n soort kulturele “vertaler” optree tussen die Westerlinge en die inheemse groepe. Saam deurkruis hulle die Kongo vir maande, op soek na die immer ontwykende okapi.

Die verhaal speel af in 1912, skaars tien jaar nadat die skugter okapi vir die eerste keer deur ‘n Europeër, sir Harry Johnston, waargeneem is. Sedert hierdie ontdekking het Reed sy wetenskaplike loopbaan aan die okapi gewy, en die opspoor en besitname van een word op hierdie ekspedisie by hom ‘n verterende obsessie. Stelselmatig begin hy sy soektog in Afrika beskou as ‘n soort eksistensiële afspraak met die sin van sy lewe. “Ek is nie vertroud met menslike verlange nie,” (p 56) sê hy op ‘n keer. “En juis dáárom is hy op soek na die okapi: om meer lyf te gee aan die dun metafisika van sy bestaan” (p 66). Reed se wens, sy begéérte, is “dat my lewe ... voller moet wees” (p 106). Dit is hierdie verinnerliking van die soektog, en die deurlopende meditasie op menslike verlange en begeerte wat hierdeur ingegee word, wat eerder as die uiterlike avontuur die ruggraat van die roman is.

Reed se onvertroudheid met verlange word nie reggestel en gevolg deur wensvervulling nie. Die pad (of is dit rivier?) van begeerte is anders. Hy word gekonfronteer met die feit dat sy lewe (en ons s’n) eintlik niks meer is as ‘n morsige, teenstrydige bondel verlangens en begeertes nie. Die oorheersende begeerte is seker dié na ‘n koherente selfnarratief, of ‘n identiteit wat ten minste blywend sal wees. Maar selfs die naam van sir Harry Johnston, na wie die okapia johnstoni en ander diere vernoem is, word effektief ‘n leë simbool wanneer die okapi uiteindelik “weer verdwyn in die poel van naamlose dinge” (p 152).

Dreyer speel ‘n komplekse spel met naamgewing, kategorisering en klassifikasie, en eienaarskap, soos dit figureer in die (mislukte) identifikasies tussen mens en natuur en tussen mens en medemens. Hoe jy dit ook al lees, identifikasie loop in hierdie boek hand aan hand met simboliese en fisieke geweld: die verhoudings tussen mens en dier, tussen die koloniale besetter en die inheemse mense, en tussen man en vrou staan almal onder die teken van geweld en mislukte herkenning. Die begeerte na ‘n vol, voltooide en koherente lewe en wêreld bly bloot dit: ‘n begeerte.

Reed se gewaarwording van sy begeerte, en die verskuiwing wat in hom plaasvind van ‘n wetenskaplike na ‘n eksistensiële soektog, word ontsluit deur sy ontmoeting met Alice de Quincy. Sy is ‘n jong, beeldskone en verleidelike vrou, getroud met die veel ouer en hardvogtige kolonialis generaal De Quincy, en Reed raak ongeveer met die eerste oogopslag halsoorkop op haar verlief. Al is Alice een van die hoofkarakters in die roman, is sy byna nooit direk in die handelinge teenwoordig nie: benewens twee of drie tonele (waarvan een ‘n liefdestoneel in ‘n boothuis) leer die leser haar deurgaans net ken in die amper onaantasbare beeld wat Reed van haar en hulle liefde in sy verbeelding borduur – ‘n beeld wat trouens later, maar sonder verifikasie, verwring word deur wat twee Franse amptenare in die verbygaan oor haar impliseer. Weer eens ‘n mislukte identifikasie, dus, ‘n ontsporing van beide self-herkenning en die herkenning van ‘n ander. En ook hier, ten spyte van die oordadigheid van sy bewondering, vind ons in plaas van herkenning eintlik ‘n vorm van (simboliese) geweld:

Probeer jy my ook klassifiseer, soos daai okapi van jou? Of wil jy dalk, soos jou vriend, my bo ‘n kaartjie vasspeld: Alice de Quincy. Iringa. 1912?

Alice ontbloot vroeg reeds die inherente tragiek van die verskillende soektogte wat in hierdie boek afspeel, maar Reed is nie in staat om haar te hoor nie:

“Ons hoort nie hier nie,” sê sy met ‘n armbeweging wat die fort insluit, die oerwoud, die nag wat swart rondom hulle lê. “Ons doen maar wat nodig is om deur ons dae te kom.”

“Jy ...” stotter Willis. “Ons ...”

“Ons weet nie eers waarna ons soek nie.”

Willis se vingers sluit om die bierprop in sy sak. “Ek is op soek na ‘n okapi,” sê hy.

Om die soektog na die okapi van ‘n simboliese raam te voorsien gebruik Dreyer die gegewe van die eenhoring. Reed dra byvoorbeeld ‘n gelukbringer in sy sak met hom saam, ‘n bierprop met ‘n eenhoring daarop – die bierprop waarna in die aanhaling hier bo verwys word. Trouens, Reed vergelyk sy belangrike soektog na die okapi by meer as een geleentheid eksplisiet met dié van jagters wat in ander eras probeer het om die mitologiese eenhoring vas te trek. Dit is nogal ironies, siende dat ‘n soektog na die eenhoring per definisie gedoem is tot mislukking, en Reed dit maar te goed weet. In hierdie opsig is ek nie seker of Dreyer sy simboliese hand dalk hier oorspeel deur die leser té eksplisiet en té voortdurend bedag te maak op die simboliese parallel tussen eenhoring en okapi nie. Miskien het Dreyer se begeerte na ‘n koherente, voltooide narratief hom hier ‘n streep getrek ...

Equatoria se wêreld is ‘n “wêreld sonder antwoorde of mededoë” (p 151). Dit word hier verteenwoordig deur Afrika en die woud. Eerder as ‘n geromantiseerde, argetipiese ruimte is dit ook ‘n plek van geweld en uitbuiting; maar dan nie in die stereotipiese representasie van Afrika as ‘n plek van inherente en primordiale brutaliteit nie. Geweld word juis hier verbind aan die gevolge van Europese imperialisme; aan die vertekende menseverhoudings van die koloniale era wat soos littekens aan die bome sit en soos spoke deur die ruigtes dwaal. Alhoewel ‘n gelade simboliese ruimte in Dreyer se roman, is die woud dus nie ‘n helende, mitologiese skatkis van ‘n soort gepopulariseerde Jung, waaruit individuasie na afloop van die soektog te voorskyn kom nie. Dit is veel eerder ‘n ruimte wat juis die kóste van “individuasie” registreer – en nie net eksistensieel nie. Die punt is juis dat die Westerse fantasie oor die soektog en die self, oor “individuasie” en die rol wat ‘n mitiese Afrika vol woude en riviere dikwels hierin speel, gebou is op meer as ‘n infrastruktuur van eksistensiële begeertes. Daar is ook, en dalk veral, die verbruikersbegeertes na dinge so banaal maar verwoestend soos rubber vir Dunlop-fietsbande: “Die mense van die Kongo moet bloei sodat die res van ons kan fietsry” (p 56). In stede van ‘n individuele volvoering van identiteit vind Reed dus uiteindelik net kollektiewe skuld in hierdie Afrika.

Wat Equatoria uiteindelik aan die orde bring, is ‘n soort bestaansmislukking, wat vanuit ‘n Lacaniaanse perspektief seker as ‘n soort “ontwerpersfout” by die mens gesien kan word. Koherente identiteite en onverwronge menseverhoudings is onmoontlik; die eksistensiële soektog en Jungiaanse proses van individuasie is blote illusie. Tog probeer ons die sku dier in die ruigtes vind, om naam te gee aan dit wat ons onvervreembare plek in die orde van dinge sal aankondig. Die gevolg van hierdie verbete soektog is egter juis die vervreemdende, soms vermitologiserende, soms doodgewoon vernietigende verhouding met die natuur en met ander mense wat op soveel vlakke in hierdie roman uitgebeeld word.

Heel Lacaniaans handel Dreyer se boek oor die “ek”, die “jy” en die “ons” wat nie bestaan nie, en straks ook nie kán bestaan nie; oor die onmoontlikheid van ‘n bepaalde soort voorstelling en instandhouding van die self en die ander. Ek sou in hierdie opsig nogal graag, in die konteks van ‘n letterkunde waar Jung ‘n belangrike invloed is (Etienne Leroux is die vanselfsprekende voorbeeld), ‘n analise van Dreyer se boek as juis ‘n anti-Jungiaanse roman wou sien.

III

Daar is natuurlik baie ander temas wat in hierdie teks gesuggereer word en wat met vrug ontgin sal kan word, onder andere Afrika in die Europese verbeelding; wetenskap en bygeloof; en die reeds genoemde kwessies van kolonialisme en kollektiewe skuld. Dit is ‘n besonder ryk teks, en ek het hier maar enkele aanvanklike opmerkings gemaak, en aan groot dele van die roman nie eens geraak nie.

Equatoria lees deurgaans lekker en Dreyer skryf ‘n treffende, beeldende prosa. Hier is net twee voorbeelde:

Vrae swaai soos ape uit die onbewuste en skree met klam pienk bekke in ons gesigte (p 96).

Hy word al intiemer betrek by die prosesse van sy spiere, sak terug in sy eie lyf soos in ‘n kamer sonder vensters (p 110).

Op ‘n kritiese noot: ek het tog gevoel die karakterisering is soms ‘n bietjie yl. Al die belangrikste karakters leef in die skadu van een of ander uitgesproke of onuitgesproke verlange; en tog is geeneen van hierdie karakters, behalwe Reed, regtig bevredigend ontwikkel nie. Dit is veral jammer dat die karakter van Obieka nie verder ontgin is nie, omdat hy ‘n interessante sleutel sou wees vir ‘n meer betekenisvolle lees van veral die koloniale gegewe. Verder het die roman vir my ietwat teleurstellend tot slot gekom: Dreyer het te veel begin verklaar en opklaar, te seker probeer maak die leser mis nie iets van die onderstrominge wat hierdie rivierboot van ‘n boek in verskillende rigtings laat dryf nie, eerder as om net die storie klaar te vertel.

Terwyl die boek dus enersyds ‘n redelik afgeronde kort roman is, mis ‘n mens juis ‘n meer komplekse, veelkantige en digbevolkte roman. Wat oorbly, is dan maar om geduldig te wag vir ‘n omvangryker en langer werk van hierdie ongetwyfeld talentvolle skrywer. Hopelik is die wag, anders as vir Willis Reed, die moeite werd!

Nota

Die titel van die resensie verwys na woorde wat die leier van ‘n inheemse groep, Ansande, vir Willis Reed sê nadat laasgenoemde ‘n okapi doodmaak (p 90). Die woorde vang iets vas van die interpretasie van die boek wat ek in die resensie suggereer: ‘n onoorkomelike verdeeldheid in die self.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top