
Ek is gisteroggend na Hoërskool FH Odendaal om my kleinseun Shaquille Wilson te gaan haal omdat hy siek geword het.
Ek ry by die hoofhek in, terloops die enigste ingang wat ek ken omdat ek soms my ander kleinseun Lee-Andre se rapport by hulle skoolsaal gaan haal het. Ek word deur die tuinjong verwittig dat ek die hek net verder oos moet gebruik om by die kantoor uit te kom.
Ek is daar in en parkeer onder die bome in die afwesigheid van ’n kennisgewingbord.
Dit is ’n baie intimiderende plek waarvan die werf groter is as enige township hoërskool en ek was al dwarsdeur die hele Transvaal-, Vrystaat- en Noord-Kaap-hoërskole. In my tyd daar met ons skoolprogramme het die Vrystaat al die jare net een bruin hoërskool gehad – Doktor Blok Senior Sekondêr!
Ietwat verlore stap ek maar skool se kant toe en hoor ’n dame my roep. Ek draai onmiddellik na haar toe en sê sommer met die intrapslag: “Morning. I’m looking for the office.”
Sy vra: “Kan jy Afrikaans praat?”
Ek antwoord verbaas: “Ja! Baie goed ook.”
Dis nie aldag dat swartes my vra of ek Afrikaans magtig is nie. “Jy gaan hierso langs die fence – daarso sal jy kry die hek. Lui die klokkie hulle sal vir jou oopmaak.”
So gesê – so gemaak. Ek lui die klokkie en kyk stip binne die kamera. As akteur is ek immers sulke goed gewoond.
Ek stap die paadjie af en wil jy glo? Voor ek by die kantoor kan instap, is daar nog ’n kamera; met nog ’n ysterhekkie; nog ’n knoppie. Ek kyk stuurs in die kamera en druk maar weer die knopie. Ek voel gelukkig, want ek kan vir Shaquille sien wat op ’n rusbank lê en slaap.
Die kenmerkende kliek en die ysterhekkie gaan oop. Ek stap in en wil by ontvangs gaan rapporteer.
Voor ek by ontvangs aandoen sê ek vir ’n wit seun: “Die is ’n BAIE onvriendelike skool.” Hy glimlag net en sê baie vriendelik: “Môre oom!” Die bruin meisies saam met hom stap net aan - seker embarrassed met die oom wat so hard praat.
Ek projekteer eintlik, want mense het nie ’n idee hoe hard ek klink as ek die dag regtig my stem verhef nie. Jy kan vir regisseur Louis van Niekerk vra wat my eendag in die hoofteater van TRUK die nota gee dat ek harder moet praat as ek my rug op die gehoor draai. Later sê hy: “Ek en jy hoef nie regtig so hard te praat nie.”
Weereens agter ’n venster en tralies staan die ontvangsdame en ek sê: “Juffrou, dié is ’n baie onvriendelike skool.”
Ek dink nie sy’s gewoond bruin mense praat so met haar nie en ter verdediging sê sy: “Dit gaan oor veiligheid meneer.” Ek kan nie help om te wonder wat nou kwansuis so kosbaar is wat hulle hier oppas nie en verstaan my mooi – ons kinders is die kosbaarste!
“Kan u asseblief vir my hier teken?” stoot sy die boek onderdeur die tralies. Ek teken en vat my kleinkind Shaquille, ’n baie gedissiplineerde en stil laaitie wat net so embarrassed lyk soos die bruin meisies van vaneffe! Hy is nie soos sy oupa nie, want hy maak nooit waves nie!
Hy’s egter baie bly dat ek hom kom haal het en hy wil nie dokter toe nie. Ons moet by Oumie Felicity aandoen, want sy, wat elke doktersprogram op televisie en in die Huisgenoot volg, sal raad en medisyne hê.
Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie
https://www.litnet.co.za/Article/skryfkompetisie-beeld-afrikaans-uit
Lees die ander inskrywings
https://www.litnet.co.za/Category/nuwe-skryfwerk-new-writing/skryfkompetisies

