Beste Jaco,
Jou bydrae oor "Konings, stamhoofde, kapteins", het my wel in 'n mate tot die besef gebring rakende hoe min "Westerlinge" werklik iets van ons Afrikakultuur weet.
Veral jou laaste sin het betrekking.
Jy tik: 'Te veel word oor "Apartheid" as "euwel" uitgespreek, maar boggerol oor die teenswoordige en verouderde euwel van tradisionele diktatorskap, wat ook afgeskaf behoort te word.'
Ek is nie 'n kundige nie maar, my passie omtrent Godsdiens en mites oor die ganse mensdom heen het daarmee die kosbare werke van Vusamazulu Credo Mutwa op my rak laat beland.
'n Werk wat elke Afrikaan na my mening langs sy wekker moet hê, is Credo Mutwa se "Indaba, My Children".
Ek het al baie gewonder oor hoe ek Afrika se skeppingsverhaal (nes die uitdaging van die vele ander wat ek al hierheen gebring het), op die werf kan deel.
Afrika se skeppingsverhale is duidelik nie algemene kennis in die Afrikanerdom nie. Jeens die soort ter helle veroordeling in bose vooroordeel deur KdK's, Dolfs, Henrys, Alies ... kan die onderwerp maklik uitrafel tot niks.
Ek aanvaar egter die uitdaging en onderneem om vir die volgende week of wat, kort opsomminge uit Credo se werk omtrent Afrika se skeppingsverhale met julle te deel.
Ter inleiding; meer omtrent Afrika se gekoesterde skrywer - Vusamazulu Credo Mutwa.
Credo is 'n Zoeloe toordokter. Hy is in 1921 in Zoeloeland gebore. Sy pa was 'n Katoliek in die Embo distrik naby Inanda. Sy ma was 'n afstammeling uit 'n oeroue voorgeslag van toordokters. Credo se ouers is kort na sy geboorte geskei omdat sy ma geweier het om haar te laat kersten. Credo is toe deur sy aan moederskant oupa tot op sewe grootgemaak. Sy oupa was uit die aard van die saak 'n toegewyde Sangoma en het daarom Credo as erfgenaam van kleins af onderleg in Afrika se geheime.
Op sewejarige ouderdom het Credo se pa hom weer onder sy vlerk na Transvaal geneem. Daar het hulle op 'n plaas naby Potchefstroom gaan woon waar sy pa as 'n arbeider gewerk het.
Credo het dekades lank saam met sy pa op plase rondgeswerf. Uiteindelik het sy pa as 'n skrynwerker op een van Johannesburg se goudmyne gaan vestig. Op dertigjarige ouderdom kry Credo vir homself 'n werk daar naby. Hy begin in 'n Afrikakuns en versamelaars winkel en wy die res sy arbeid daar.
Intussen berei Credo homself vir sy roeping as konservator van sy stam se geheime en gebruike voor met die hart om eendag sy oupa aan moederskant op te volg.
Na bykans drie dekades in die stad, het Credo weer sy moeder gaan besoek. Sy beveel hom om sy Christenskap af te sweer. Hy word aan 'n suiweringsseremonie onderwerp en afgerond as Zoeloe toordokter. So vul hy uiteindelik sy plek as 'n kosbare skakel in die lang ketting bewaarders van ons Afrikakultuur.
Groot hartseer tref Credo met die moord op sy seun in die stad. Meteens het Credo geen nageslag om sy kennis na toe oor te dra nie.
Credo is egter vasbeslote om nie Afrika se diepe wysheid saam graf toe te neem nie. In 1964 sien sy wonderboek "Indaba, My Children", die lig. Daarmee verbreek hy sy heilige eed en verraai die geheimhouding van sy erfenis.
"Indaba, My Children", nes die skrywer daarvan, het lankal verdwyn in vergetelheid. Dit staan egter as een van die mees ikoniese Afrikaboeke wat ooit geskryf is. Vandag word Vusamazulu Credo Mutwa egter steeds en allerweë as Afrika se Sangoma van Wysheid beskou. Diegene wat hom graag wil besoek, kan gerus vandag in Kuruman se omgewing gaan rondvra waar hy rus.
'n Algemene prentjie van Afrikane is dat hulle wreed, lui, en rowers is ... dat hulle stink, dom is en nie vir hulself kan dink nie; dat hulle hul leiers blindelings volg, ens ... (laasgenoemde twee aspekte het ewe veel betrekking op ons gekondisioneerde Afrikanerdom Protestante).
Daarteen sal menige liberaal regoor die wêreld 'n oorval kry en hygend na asem op hul koperaltaar van rassisme snak - net omdat iemand gewoon waag om so iets te noem!
Maar, ons Afrikane weet meer oor hulself en leer hul kinders anders.
Is hulle dan ook rassisties?
Nee ... dis deel van hul folklore en anders as Anglo en Amerika se sportmal Afrikaners, koester en leef hulle hul erfenis.
Westerlinge bestudeer wel die wee van ons Afrikane. Min verstaan egter die oorsaak van die gevolge waarmee ons daagliks in die wêreld se sensasiejag media oorval word.
Ja, waar kom hierdie slaafse boosheid en minagting vir lewe in Afrika vandaan? Hoekom is Afrika se diktators so mag dronk?
In deel twee blaai ek die groot Zoeloe Sangoma en toordokter, Vusamazulu Credo Mutwa se boek "Indaba my Children" op die werf oop.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,
Cornelius


Kommentaar
Dagsê Cornelius
Ek sien uit na jou reeks.Dis tyd dat ons met ander oë na mekaar begin kyk.Een se idee van reg,is nie noodwendig 'n ander ou se idee van reg nie!
Groetnis
Perdebytjie
Beste Cornelius,
Toe ek op varsity Sosiale Anthopologie I gestudeer het, was een van my voorgeskrewe boeke "The Sosial System of the Zulus deur Krige" gewees. Ek besit nie meer die boek nie, maar wat ek daarvan nog kan onthou was 'n heel ander lewe as wat 'n mens onder die Zulu's vandag ondervind. Heelwaarskynlik word van die tradisies daarin vervat tot 'n mate nog op die platteland toegepas. Wat ek eintlik wil se is dat boeke rakende die sosiale lewe van verskeie kulture so vinnig verouderd kan raak, en nie meer as handboeke vir die hede kan dien nie, weens die impak, veral op die "primitiewe" mens as gevolg van Westerse invloede. Maar ja. Godsdiens en bygelowe is 'n ander saak. Die word gewoonlik met die verandering in kultuur aangepas of ingelyf, maar selde geheel en al afgeskaf.
Sosiaal - Die meeste Zulu's pas pologamie nie meer toe nie
Sosiaal - Die gesin is meer bestendig met minder kinders. Die vrou deel nou dieselfde kamer as haar man waar sy tradisioneel, tesame met die man se ander vrouens, elk hulle eie kamer (hut) gehad het, wat die man van tyd tot tyd besoek het.
Sosiaal - Die eer aan opperhoofdes, selfs konings wissel van absolute onderdanigheid op die platteland tot traak-my-nie-agtige houding in die stede ('n groot bekommernis vir die tradisionele leiers, wat uitwissing van die konsep in die toekoms staar).
Godsdienstig - Christene, veral inheemse vertolking daarvan (Zioniste; Shemba; ens.). Die Methodiste, daarna die Anglikaanse Kerke het die grootste aanhang onder die Zulus, maar dit keer hulle aanhangers nie om steeds in voorvaderlike-geeste rites deel te neem nie, of die toordoktor (sangoma) te raadpleeg nie. Geloof in "muti" (geneesmiddels) bly 'n groot deel van die tradisionele Zulu, selfs Zulu Christene se uitkyk op die lewe. (Die Katolieke Kerk is soortgelyk in hulle geloof in die mag van "relics", veral die van "heiliges")
Die nadeel natuurlik in die geloof in "muti", is dat dit gegradeer word vanaf baie sterk tot swak. Tradisioneel was die sterkste "muti" vanaf 'n lewende wese afkomstig, met die ligaamsdele van 'n maagd of jong man as die sterkste. As gevolg van Westerse onderdrukking in verband hiermee, het die grootste gedeelte van sangomas dit nou afgewater, met verskillende diere en slange as plaasvervanging, en diegene wat nog die ou tradisionele metodes gebruik, als afwykendes, self as hekse bestempel. (In Zulu tradisie, word hekse of vermeende hekse doodgemaak).
Met betrekking tot die Shemba (Christelike geloof) is baie van die ou Zulu gelowige tradisies ingelyf. Hulle sal bevoorbeeld redeneer dat die Bybel praat van "muti" in die sin waar bevoorbeeld seker rituele moes plaasvind om sekere resultate te magtig. Moses se staf kon in 'n slang verander, dien om die see oop te split, ens. Elijah se mantel wat sekere magte beskik het en wat hy aan Elisa toevertrou het toe hy na die hemel opgeneem was. Die mag van die ark van die verbond deur aanraking die dood, die horings van die altaar deur aanraking lewe, selfs die nagmaal volgens hulle is 'n vorm van "muti" neem, ens.
Alhoewel ek alles objektiefs baie interesant kan vind, subjektief het ek 'n afsku in alles wat van die hedendaagse menseregte-filosofie afwyk.
Jaco Fourie
Beste Jaco en Perdebytjie,
Baie dankie vir jul belangstelling.
Ek het geheel ooreenstemming met alles wat jy (Jaco) hierbo deel. Ek wil jou ook heelhartig gelyk gee aan jou laaste sin; "Alhoewel ek (Jaco) alles objektief baie interessant kan vind, subjektief het ek 'n afsku in alles wat van die hedendaagse menseregte -filosofie afwyk."
Vusamazulu Credo Mutwa is juis ietwat in vergetelheid jeens die feit dat Afrika se mense
onder Westerse invloede verval het. Ek is egter oortuig dat Ubuntu, 'n veel beter menseregte -filosofie as "demo(n)krasie" is.
Ek aanvaar die uitdaging om Afrika se skeppingsverhaal, soos Credo dit vertel, sonder 'n ideologiese agenda te deel.
Wat ek wel bid is dat onse almal se Unkulunkulu, Ninavanhu-Ma, die Boom van Lewe daarin gedien sal word.
As katoliek getuig ek dat Unkulunkulu, ten volle mens in Jesus Christus aan ons geopenbaar is.
In Afrikaliefde,
Cornelius