'n Aanvulling tot religieuse poësie in Afrikaans: Rosa Smit se Die begeleiding van duiwe

  • 0

Titel: Die begeleiding van duiwe
Outeur: Rosa Smit
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869191993
Prys: R 135
Publikasiedatum: April 2008

Klik hier om Die begeleiding van duiwe nou by kalahari.net te bestel!

 

 

Snaartjie Windvogel het in Etienne van Heerden se roman In stede van die liefde ’n besondere verhouding met duiwe gehad. Ook herinner ek my Breytenbach se duiwe wat in die windvanger op soek is na die dag. En hoe kan die gekanoniseerde kwatryn van ID du Plessis oor die singende duiwe van Bali wat “aan die hoë prieel van die lug” hang, uit die leser se geheue verdwyn? Die begeleiding van duiwe (soos in die gedig “Kruisiging” aan bod kom) is Rosa Smit se tweede digbundel wat 22 jaar ná haar bekroonde debuut, Krone van die narsing, verskyn. Naas die duiftema stel die titel van Smit se bundel ook die reismotief op die voorgrond, maar daar is ook suggesties van verlies, verlange en die Christelike godsdiens – die duif met die olyftakkie het immers die sondvloed se einde en ’n nuwe begin aangekondig.

Die duifmetaforiek roep noodwendig assosiasies op met voël, vlerk en vlug (en tuiskoms in die geval van sommige duiwe). Smit brei egter dié verwagting uit deur voël(vlerk) metafories met vliegtuig, oorlogsgeweld en pyn te verbind. Die gedigreeks “Vlerkslag I” (66) en “Vlerkslag II” (85) is treffende verwoordings van oorlogsgeweld in die Midde-Ooste waar Israel in die brandpunt staan. ’n Uitstaande eienskap van Smit se verse is dat sy op verrassende wyse geweld en skoonheid tot balans in sommige gedigte verwoord, byvoorbeeld “Oorlogsvrede” (35):

Die meer gee skielik oor
soos ’n geweerkolf wat val uit ’n hand
as ’n groot opbrengs van voëls
oor die water sleep en uitvin
soos ’n vredesverdrag.

In die gedig “Moeder Maria (wandel – sic) deur haar tuin” (107) is die balans van pyn en skoonheid opvallend verwoord in die nagedagtes aan haar seun. Die assosiasie tussen skoonheid van die irisse en verbrokkeling vat die verwonding van haar seun se liggaam tasbaar saam:

My vingers grou onverpoos in die grond.
Onder die bloeiende pruimboom
plant ek irisse vir die verbrokkeling.

Smit se verse, waarin ’n aangrypend liriese inslag aanwesig is, bring die korrektief op die geweldstema. Weer eens is ’n gedigpaar “Winter I” (20) en “Winter II” (26) ’n verwoording van hoop: die tema van terugkeer wat gesuggereer word deur die duifbegeleiding. Kohesief met hoop en deernis is die natuur- en religieuse gedigte in Smit se bundel. Vergelyk die verse “Camellia Japonica” (19), “Deur die reën” (21), “’n Treurdig” (23), “Herinnering” (42), “Huis” (49) en “’n Psalm vir die roos” (100).

Die begeleiding van duiwe is veral ’n bundel waarin die digter daarin slaag om gedigte saam te bind deur die temas van geweld en vergifnis waar Christus se mistieke liefde sentraal staan. Die talle religieuse gedigte (veral die tweede afdeling van die bundel), waarin dimensies van vergifnis byvoorbeeld in “Skittering” (102), “Gees” (103), “Jesus bid in Getsemane” (104) en “Kruisiging” (106) verwoord word, vorm die dominante verse van die bundel. Laasgenoemde drie gedigte is ’n kragtige beskrywing wat aan Jesus gegee word. Met “Kruisiging” (106), die gedig waarin die bundeltitel ook eggo, is ’n vers wat die transformerende en transfigurerende krag van Christus vooropstel. Die kruisiging van Christus word hier verwoord tot ’n hoopgegewe: na my mening die vooropgestelde tema van Smit se bundel:

Hier van onder sien ek jou uitwasem
bo die dronkstom dobbelspel
en die wye hemel
vanaf die klipperige skedelkop,
die begeleiding van duiwe
waar hulle van nokke lig
en met die ruis van vlerke
langs jou geknakte liggaam boontoe klim.

Ek stap onder die swart son uit,
soek ’n handkyker of wiggelaar
vir ’n vallende ster
maar vind ’n wit blom
in die sleepsel van die kruis:
Pluk die roos uit die hout!
Vleg die doringtakke los!
Geen spyker kon
jou ligte lyf hier hou nie.

Alhoewel Smit se bundel talle kragtige én meevoerende gedigte bevat, is die bundel te vol verse en dikwels met wisselende kwaliteit. As leser het ek verveeld geraak met verse waarin telkens ’n soortgelyke tema opklink en die mooi-geformuleerde frase of sentimentele woord opklink. Die ruimte van die Midde-Oosterse gegewe vorm ’n belangrike aspek van Die begeleiding van duiwe, maar ’n stemafwisseling soos wat Olga Kirsch met haar poësie bereik het, kon Smit se bundel langer in die hand laat huiwer het. ’n Sterker rubrisering of saamgroepering van kohesiewe verse sou ook ’n boeiender leeservaring tot gevolg gehad het. Dit is vir my steeds onduidelik waarom daar twee afdelings in die bundel is sonder noemenswaardige verskil in die tematiek van die verse.

’n Gedig wat nie op peil met van die ander gedigte is nie, is veral die openingsgedig “Dis nie ’n gedig nie” (11–15). Die biegstem van die spreker is nie ’n goedgekose programgedig vir ’n bundel waarin daar kragtige gedigte oor die Midde-Oosterse konflik, haar fyn waarneming van kreatiewe aspekte soos poësieskep, visuele kuns of die mistieke Christus voorkom nie. Waar pas “Sylvia Plath – in drie stemme” (45) (’n goeie gedigreeks, maar in die verkeerde bundel); “Nero” (110), “Andrew Murray” (113) en “Herlewing” (115) in? In ’n andersins goeie vers is die titel “Wegraping” (119) nie sinvol gekies nie. Hierdie siening steun ek met die saamlees van die daaropvolgende gedig, die slotvers van Die begeleiding van die duiwe, “Eksodus” (120–26). Verhuising as tema word hier pynlik verwoord, maar met die pendantstem van tuiskoms – die suggestie wat gelaat is deur die titel van die bundel. Die duiwe se begeleiding is immers ’n troos téén verlies en pyn, maar die sentimentele verwoording daarvan is vervreemdend vir die leser wat Smit in talle gedigte meesterlik aan die skryf ervaar het.

Die begeleiding van duiwe is ’n belangrike bundel om die religieuse poësie in Afrikaans aan te vul. Die vlerk- en vliegvariasies het soms net té veel variante wat nie op betekenisvlak kon sluit (terugkeer?) nie (“jou hare ’n raafvlerk op my kussing” (33); “helikopters opswerm uit duinhalms” (36); “’n Helikopter kwetter” (37); “blare fladder soos voëls oor ’n skare affodille” (47); “Gebeure vlieg in ’n spieël”; en "’n Brief kry vlerke” (59), onder andere. Tog sal verse soos “Herinnering” (42), “die kus” (56), “Die wolmeeu” (77), “Die Lig” (101), “Gees”, “Jesus bid in Getsemane” (104) en “Kruisiging’ (106) in die herinnering bly.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top