
Waarom sou ’n stadsjapie ’n nag in die Karoo wou deurbring? En wat is so lekker daaraan?
Weens die gejaagdheid in die stad kan jy net van die Karoo droom. Of verbyflits op die N1 noorde of suide toe.
En, ek dreig al lank om ’n tydjie – liefs in winter – daar deur te bring. Omstandighede het toe goed uitgewerk om vroeër die maand (nou nie in winter nie) ’n aand daar deur te bring.
Victoria-Wes was die keuse as dorpie. Sodra jy voete op die grond sit, slaan die andersheid jou. Mooiheid, ongereptheid en onskuld.
Dit is stil. Dit lyk of die lewenspas soos ’n swaarvoertuig oor ’n bergpas trek. Winkels sluit vroeër en vir etenstye ... en almal ken vir almal. En dit lyk of daar iewers ’n onsigbare sheriff is wat gereg afdwing.
Die Karoo omvou jou met sy grootsheid. Wanneer jy met locals begin praat krul jou tone van lekkerheid ... dit wissel van kruie soos wilde-als tot wat die beste manier is om skaapboud te braai. Wilde-als het ek by my pa leer ken. Goed vir verkoues en griep het die boorling van Graaff-Reinet altyd vertel.
Maar die praat is die lekkerste. Om die soveelste Afrikaanse dialek te hoor. En mense wat trots op hul taal is.
Plek-plek lyk dit of Victoria-Wes jare gelede aan gepeuter is en nooit weer deur mens se hand versteur is nie. Maar so in die lofsang is daar ’n teleurstelling. ’n Goeie bord Karoo-kos is uiters skaars. Dit het plek gemaak vir pizzas (ofskoon tuisgemaaak), burgers, slaptjips en worsrolle ... Die wors is ook so dun soos ’n penlight-battery. Jy voel jy kan dit faks na jou maag ...
Die president van Victoria-Wes – Mannetjies Roux – is ook nie te bespeur nie. Dalk besig met dorpsake.
Tog was daar twee dinge wat uitgestaan het. Daai koffie wat in die ketel gebrou is – sif en al. En daardie Karoo-hout wat in die aand lekker geknetter en geruik het om die braaivuur.
Victoria-Wes het eintlik ’n mens meer lus vir die Karoo gemaak.
Ons klein dorpies is nie te versmaaai nie. Dit is goed om daar in te loer – dalk net wag daar ’n verrassing ...
Yuri

