My indrukke van Embeth Davidtz se Don't let's go to the dogs tonight

  • 4

Embeth Davidtz, vat so.

“Een van die beste flieks wat ek in my lewe gesien het,” eggo Mariette langs my presies wat deur my gedagtes gaan. My wange is sopnat.

In ’n ontwikkelde land sou Don't let's go to the dogs tonight verpligte kykstof word vir graad 10–12’s. Des te meer moet dit in ’n ontwikkelende land, vir almal. En die fliek is, behalwe vir die storielyn en die feit dat dit op die waarheid gebaseer is, kos vir die honger kritikus. Die fliek is ’n understatement, wat jy net kan bekostig wanneer jou kameraskote dubbelsinnig práát.

“Dit het nie gevoel asof ek ’n fliek kyk nie. Alles is real,” sê Mariette. Wat jy net sal kry as die teks egtheid ís. As die regisseurshand die ambagsman – die akteur – vertrou met sy ambag, hom terselfdertyd vry laat spéél, én reduseer om suiwer die storie te laat praat.

Die dele van die boek wat in die film vervat is, is gesif deur ’n uitgelese en sensitiewe, praktiese deskundige – wat die kyker seën en bedien met wonderlike unieke goudstof. Die kamera- en beligtingskeuses verdubbel die kykerervaring. Kamerawerk ter plaatse is gereeld, en baie gereeld weens geldtekort, veilig en voorspelbaar. Die kamera, soms met té fancy beligting, dien eerder die ego as die verhaal. Hiér met Dogs score die kyker al die pad. Die kamera word ’n deelnemer. Hy is ’n rolspeler. Hy word ook storieverteller. Hy loer in op menselewens uit interessante hoeke. Die taak van die akteur word soveel makliker wanneer die kamera hom help. En hier kan mens net die hande saamslaan en wonder hoe Embeth Davidtz, à la Spielberg, daai spel uit daai klein kind (Lexi Venter) kon toor. En, ek herhaal, dít terwyl mens in dieselfde kameraskoot twee, of soms meer, ervaringswêrelde vasvang. Dis soms amper asof mens kyk na twee stories terselfdertyd. Húlle, ons en dan ook die spreekwoordelike derde oog. Die oog wat hom leen tot spekulasie of filosofie.

Wat as ...?

Die wat as léwe in die jong aktrise se oë. Sy sien dinge soos dit voor haar oë afspeel, en sien dit namens die kyker. En die kyker kan nie verseker weet wat in haar gedagtes afspeel, wat ons in haar oë lees nie. Is daar insig? Fataliteit?

Nog nooit het ek in ’n fliek gesit nie en geweet ek haal ’n diep asemteug in, omdat die oomblik so verruklik en meesleurend is – en die spanningslyn so hewig – en dalk die kans op hoop bevat. Totdat jy daai asem kan laat gaan en jy die strome oor jou wange voel – wat liefde, vreugde en hoop verteenwoordig – teen die agtergrond en in die klimaks van die swartste waarheid van die Rhodesiese geskiedenis.

Retrospeksie

Retrospeksie is die volmaakte leermeester. En nou se dae sal mense na die Rhodesiese geskiedenis kyk en vra: Was die wittes nie dalk verkeerd en Mugabe reg nie? Gun die moderne denker dit. Maar die hoé – was dit nou nodig? Die resultaat – bloedvergieting en vernielde gesinne, ’n brandarm nasie – omdat daar minder skepping en eerder vernietiging was. Meer afbreek as bou. En die enigste wenners – Suid-Afrikaners wat die béste diens in restaurante en elders kry van kelners met onderwysgrade en mediese kwalifikasies; mense wat wyd verspreid ’n inkomste soek na hul voorsate se verwoestende lot waartydens 20 000 mense in massagrafte beland het. Weens massamoorde georkestreer gedurende Mugabe se Gukurahundi-massamoorde – gemik op die Ndebele-minderheid.

Ek wou haar ontmoet

Embeth Davidtz is die een mens wat ek sou wou ontmoet het, en met wie etlike geleenthede hul sou voordoen en verwyder. Ek word in die negentigs as Embeth (se karakter) se kêrel ge-cast in die film Die nag van die 19e. Dit word hier op die Weskus verfilm. Maar ek is saans in ’n teaterstuk, Die park, in die hedendaagse Kunstekaap (destyds Nico Malanteater). Ek sien kans om na optrede in die aand deur te ry, dan is ek die volgende dag daar vir die werk en weer betyds terug in die stad om die volgende aand op die verhoog te wees. Almal is gretig om dit te maak werk, dan laat weet my agent – nee, dis nie moontlik nie.

Nie jare daarna nie, beland ek by Deon Opperman in twee projekte. Die een – ’n TV-drama, Môre is ’n lang dag. Die ander is Stille nag, ’n teaterstuk waarin ek Nico Liebenberg vervang. Hy was in Pretoria en Johannesburg met speelvakke, maar kan nie die landswye toer maak nie. Ek sal speel teenoor Embeth Davidtz.

My seuntjie sal gebore word ongeveer daai tyd, so dis ’n moeilike besluit. Maar ek het al baie vir mense gesê moenie vir Deon Opperman nee sê nie; sy werk is briljant. En in die Kaap is werksgeleenthede daai dae skraps. Ek sê ja vir die werk, grotendeels om den brode. My vrou sien kans om die opoffering te maak. Toe die nuus: Embeth Davidtz, wat teenoor Nico gespeel het as sy vrou, kan die toer ook nie bybring nie. My eks, Kim Fankhauser (née de Beer), sal in haar plek speel. Daar mis ek Embeth weer.

Ek kon darem vir Embeth ’n goeie woordjie doen. Terwyl ek en Deon in Pretoria en Johannesburg verfilm aan die TV-projek, repeteer ons op ons eie aan die komende teatertoer. Hy sê hy is briesend vir haar.

In sy ou Mercedes (dink ek), terwyl ons na ’n ruimte toe ry om te repeteer, kan ek vir haar ’n lansie breek. Ek verduidelik vir hom hoe sy dalk dink daaroor. Sy was mos nou in twee hoofsentra in die stuk; sy mik om Amerika toe te skuif. Hoekom sal sy nou vir nog twee maande om die land wil toer met dieselfde stuk!

Things to do, people to meet and places to go.

Later jare is Deon self Amerika toe. Daar word hulle toe tjomme. En Amerika berei hulle beide voor vir groot dinge. Vir Embeth om hierdie belangrike fliek te maak.

Die geskiedenis

Om te sê ek het ’n sagte plekkie vir die geskiedenis van die miskende land, Zimbabwe, is ’n understatement. En na die twak wat Ramaphosa onlangs in Zim gaan praat het, is Suid-Afrikaners seker saam met my teleurgesteld.

Ek verstaan heelwat van die intriges, deurdat my tweedejaar-kamermaat, James Scott, ’n Rhodesiër was. Ek het selfs Rhodesië saam met hom besoek aan die einde van 1982.

Ons het wyd deur die land gery gedurende petrolboikotte en Renamo se verwoesting van die petroltoevoer. Die Zimbabwe-regime was vicious.

Toe ek onlangs vir VivA Afrikaans die mees roerende kortverhale oor die oorlog in die land opgeneem het, en met wat ek weet van die uiteindelike bewindsoorname van die despoot daar, was die hartverskeurende inhoud vir my tasbaar.

In Embeth Davidtz se film gee die kameraskote vir die kyker die dubbelsinnige kyk na weerskante. Hierdie is tragedie wat, soos in Suid-Afrika, die nasie skaad, terwyl enkele individue se selfverrykingspraktyke net die ego en die sak voed.

Maar Embeth gee vir die kyker die geskenk – deur Bobo se oë, insigte in lig en donker, maar uiteindelik, in daai boheemse klompie sekondes – van hoop.

  • Gebaseer op die roman Don’t let’s go to the dogs tonight deur Alexandra Fuller
  • Draaiboek en regie deur Embeth Davidtz 
  • Lexi Venter as Alexandra “Bobo” Fuller
  • Embeth Davidtz as Nicola Fuller
  • Zikhona Bali as Sarah
  • Shilubana N Fumani as Jacob
  • Rob Van Vuuren as Tim Fuller
  • Anina Reed as Vanessa Fuller
  • Ilana Cilliers as Jilly
  • 4

Kommentaar

  • Malene Breytenbach

    Albert, dit is ’n wonderlike boek en ek brand om die rolprent te kyk. Dankie vir die insiggewende resensie. Dankie ook dat jy my verhale op VivA Afrikaans oor die oorlog in Rhodesië/ Zimbabwe roerend noem. Jy het dit uitstekend voorgedra.

  • Ek is ook nuuskierig - sou die fliek Alexandra Fuller se kenmerkende droë humor waarmee sy die verskriklikste gebeure oordra kan doen? Haar outobiografiese skrywes word gekenmerk deur komplekse lae van ervaring uit die oog van 'n jong kind sonder oordeel - sien uit!

  • Uitstekende resensie van 'n absoluut vooortreflike, hartroerende fliek! Fliek gee die styl en milieu van Alexandra Fuller se boeke getrou weer. Dankie Albert

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top