My hart
Heel agter in die spens staan hy
Die ou piekniekmandjie, die helder groene (lank terug reeds verbleik tot ’n vaal groen-grys)
Niemand kan onthou waar kom hy vandaan nie
Maar almal weet waar om hom te kry wanneer hulle hom nodig het.
Sy een handvatsel is lankal afgebreek
Onthou jy? (Die kinders het gestry oor wie mag hom dra)
Ek het hom probeer las
Maar hy hou aan breek op dieselfde plek.
Ek dra hom nou maar hoog in my arms
Als bly darem nog binne (meestal)
Onder by sy een hoek is daar ’n gat.
Dit was daai bont hond wat ons op die plaas gehad het,
Hy het hom gekou, want hy was lus vir die kos daarbinne
Hy het ’n lekker pakslae gekry daaroor (maar die skade was klaar gedoen)
Daai mandjie is sinoniem met lekker eet,
Piekniek, sonskyn, swem en speel
Pa en Ma en Boet en Sus
Maar ook miere, wind, reën en huil
Bloeiende knieë na die val by die glyplank
My mandjie is stukkend en lelik
Maar tog heel en mooi
My mandjie is altyd oop
Vir kos en praat en liefhê en wyn
My mandjie loop oor, hy is ietwat klein
Soms loop die trane, soms is ek bly
Want my mandjie is vol met mense soos jy.
Daai mandjie was maar nog altyd net hier
Partykeer het mense hom geleen en hom verniel
Ander mense het hom weer mooi reggemaak
Hy was al leeg, hy was al vol
Hy was al weg, deurmekaar, gebêre, gebruik
Van huis tot hok saam met my getrek
Hy was nog nooit toe nie, nog altyd net oop
Altyd eerlik
In liefde en smart
Altyd dieselfde
My mandjie, my Hart.