My hart is in ’n hot dog

  • 0

https://pixabay.com/photos/hot-dog-french-fries-food-fast-food-4081683/

Ek dood oor ’n hot dog. Ja, ek weet. Maar ek het my nou al stukkend gesoek na ’n Afrikaanse naam wat heerlik beskrywend is en lekker van die tong af rol. Soos hot dog. Warm brak doen dit nie vir my nie. Worsbroodjie beslis nie. Vir my is ’n hot dog ’n hot dog. En so sal dit bly. Tensy iemand my anders kan oortuig.

Wanneer dit by die hot dog kom, is ek net so vol fiemies soos oor die naam. Ek eet nie daai goed met die worsies wat jou met elke byt laat sidder aan die gedagte van al die bene en bloederige ingewande wat gemeng is om die “worsie” die lewe te skenk nie.

............
Die rolletjie – wit, nie volgraan of een of ander “gesonde” alternatief nie – moet net liggies gerooster wees, en lank genoeg om die worsie byna heeltemal te bedek. En die worsie self moet so ’n knakgeluidjie maak wanneer jy daardeur byt. ’n Lekker mosterd- en tamatiesous daarby, en ek is in hot dog-hemel.
.................

Die rolletjie – wit, nie volgraan of een of ander “gesonde” alternatief nie – moet net liggies gerooster wees, en lank genoeg om die worsie byna heeltemal te bedek. En die worsie self moet so ’n knakgeluidjie maak wanneer jy daardeur byt. ’n Lekker mosterd- en tamatiesous daarby, en ek is in hot dog-hemel.

My tweede man het gou geleer hy kan my verlei met sy hot dog en brandrissiesous. Ons was pasgetroud, brandarm en ons plesiertjies was beperk wat uitgaan en groot bederf aan betref. Maar ek dink nou met groot deernis terug aan die dae toe ons sandvoet en met nat swembroeke van Clifton se strand af by die ou Carousel in Seepunt gestop het vir slap tjips en vonkelwyn. (Die oordaad!)

Die hot dogs moes wag tot by die huis. Dit was die enigste ding wat hy destyds kon “kook” en dit het hy met oorgawe gedoen. Ek hoor hy lees deesdae die Cullinaria-reeks vir sy plesier. Maar, nou ja.

Met my eerste reis na New York was dit een van die dinge waarna ek uitgesien het – om ’n hot dog by een van daardie straatverkopers wat ’n mens in die flieks en op die televisie sien, te proe.

...........
Met my eerste reis na New York was dit een van die dinge waarna ek uitgesien het – om ’n hot dog by een van daardie straatverkopers wat ’n mens in die flieks en op die televisie sien, te proe.
..............

Die eerste drie dae van my verblyf was op Disney se onkoste vir die bekendstelling van die eerste The Lion King in Radio City Hall. Vyfster-verblyf en etes by die beste hotel skuins oorkant die Rockefeller.

Daarna was ek op my eie en op ’n begroting wat meer by die leefstyl van ’n Huisgenoot-joernalis sou pas. Ek het toe vir my ’n kamer in ’n heel skaflike hotel oorkant die Ethel Barrymore-teater op Broadway gekry.

Hier het ek die hart van New York voel klop. Dit het buite gesneeu en ek het onder in die hotel se klein kroegrestaurantjie met ’n lekker glas rooiwyn in die hand sit en kyk hoe die tantes in hul pelsjasse in hul limo’s weggevoer word ná die middagvertoning in die teater aan die oorkant. En ek het mooi my plannetjies agtermekaar gekry vir daardie eerste New Yorkse straat-hot dog.

Dit het toe nooit gebeur nie. Terwyl ek daar met my glasie rooiwyn sit met my hot dog-drome, het die bestuurder van die kroegie ’n opdringerige ou man by die tafel langs myne uitgesmyt. Ons het aan die gesels geraak en van toe af het Bob en sy vriende my vir elke ete na ’n ander restaurant geneem.

Ek weet nie hoe dit deesdae gaan nie, maar daardie tyd het die New Yorkers nie eintlik vir hulleself gekook nie, maar elke aand uitgeëet by lekker gesellige ou restaurante. Niks uitspattigs nie. Net ’n lekker bord Italiaanse pasta. Of iets dergliks. En Bob en sy vriende het my ewe gasvry deel gemaak van hierdie kultuur.

Dis seker maar goed dat my New Yorkse hot dog-drome so vroeg doodgebore is. Anders was dit dalk vir my net so ’n wrede ontnugtering soos die Starbucks-koffie waarna ek so uitgesien het.

Daar is min plekke wat lekker hot dogs kan maak. Ek het swaar gesteun op Cathy en Nigel en hul The Diner-stalletjie by Bella-se-mark by The Palms in Woodstock. Elke Saterdag het ek sommer vroeg al my bestelling geplaas sodat ek met huistoegaantyd net vinnig my ou plesiertjie kon optel.

Hulle het hul frankfurters by Werda-slaghuis in Southfield gekry. Dis daar waar ou meneer Mettler sy Switserse kundigheid gebruik het om die lekkerste worsies en ander vleisgenot te maak. Sy seun het later by hom oorgeneem. Ook hy is eers Switserland toe gestuur om daar te gaan leer worsies maak.

Cathy en Nigel se hot dogs was volgestop van die lekkerte. Saam met die onoortreflike frankfurters het die rolletjie bult gestaan van die heerlikste vulsels waaruit jy kon kies. Maar dit was nie ’n elegante eetdingetjie wat jy in die openbaar kon eet nie. Daarom het ek myne vooraf bestel en huis toe geneem sodat ek dit met volle oorgawe kon geniet.

Maar die hot dogs waarvan ek nou nog droom, kom van ’n klein kiosk-restaurantjie in die St George-wandelgang. Aan die een kant was die restaurantjie met ’n paar tafeltjies en stoeltjies en ’n lekker ligte spyskaart. (Ek dink die plek het aan Oostenrykers behoort.) En aan die ander kant was daar ’n venster waar hulle hot dogs verkoop het.

Dit was nie sommer so nie. Dit was hot dogs de luxe! My gunsteling op die spyskaart was die Russiese hot dog. Die naam het niks met Russiese worsies te doen gehad nie – jy’t steeds ’n regte, egte frankfurter in jou hot dog-rolletjie gekry. Dit was die mengsel wat daarmee saamgegaan het. Maar hoe hulle by die Russiese-assosiasie uitgekom het, sal net hulle weet.

Die stalletjie bestaan nie meer nie. Die een dag was dit nog daar en toe ek weer die hele ent soontoe aandurf agter my belusting aan, staan die kiosk eensaam en verlate in kettings geslaan.

Alle goeie dinge ...

Maar daardie Rus het by my bly spook. Dis toe dat ek inspring en ’n heel gangbare weergawe van die Oostenrykers se skepping aanmekaarslaan.

Karen se Rus

Genoeg vir een – hierdie lekkerte deel jy nie.

’n Ekstra-groot hot dog-rolletjie
’n Regte frankfurter (kies jou deli of slagter met die grootste omsigtigheid)
1 groterige gekookte aartappel
1 oorloop-eetlepel mayonnaise
1 gekapte suurkomkommertjie
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 groot ui, in dun ringetjies gesny
¼ koppie koekmeel
1 eier, geklits
Blare van jou keuse (ek kies ’n mengsel van roeket, jongspinasie en waterkers)
’n Skeppie Dijon-mosterd

Smeer die rolletjie liggies met botter en rooster onder die oondrooster tot liggoud. Kook water in ’n kastrol op die stoof en verlaag die hitte sodra dit wild begin borrel. Plaas die frankfurter vir 7 minute daarin op die laagste hitte. Haal uit en dreineer. Sny die aartappel in klein blokkies en meng met die mayonnaise en suurkomkommer. Geur met sout en peper. (AS jy oorskiet-aartappelslaai het, kan jy dié ook gebruik.) Doop die uieringetjies in die eiermengsel en dan in die koekmeel en braai in diepolie tot bros. Rangskik die blare op die onderste deel van die rolletjie en skep ’n bietjie mosterd bo-op. Skep die aartappelmengsel bo-op, besprinkel met die brosgebraaide uie en drapeer die worsie bo-op. Skep nog ’n titseltjie mosterd en bedek dié sondige oordaad met die boonste deel van die rolletjie. Maak die gordyne toe, sit jou foon af en neem daardie eerste hap.

Die verskillende teksture is ’n smaakontploffing. En dis lafenis vir die verlangende hart wat smag na die klein plesiertjies van die lewe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top