My liefste Nicolaas
Mag hierdie brief jou bereik, my liefste man. Dit breek my hart in ’n duisend stukke om dit te pos, met die hoop dat dit jou bereik daar bo in die Noorde. Dat jy gesond is wanneer jy hierdie brief kry, want die Vader God in wie jy glo, gaan jou moet bystaan vandag, die dag wat jy hierdie brief lees. Jy wat die lig van my bestaan is, en ek wat vir jou koelte kon gee.
Nicolaas, my man, daar is nie ’n maklike manier om hierdie verskriklike boodskap oor te dra nie. Ek het lank met Moeder gesels, ek wou dat sy aan jou skryf, maar haar laaste woorde aan my was: Gaan sit my kind, en skryf dit. Haar lippe het gebewe, sy het weggekyk, maar sy was sterk, om my ontwil. Vader het ek nou etlike maande nie gesien nie, hy het my uit die groot opstal geja, geja soos ’n dier met sy perdesweep, tot hier oorkant op Wolwekuil. Hy is reg, ek is nie die naam dogter en vrou werd nie. Ek het die hele nag deur gebid, totdat Lya teen dagbreek gekom het en my van die vloer opgetel het en die hale ingesmeer het. Sy het dadelik geweet. Sy het vir my ’n kruiekonkoksie gebring en die bitter mengsel amper kokend deur my lippe forseer. Die getroue skepsel het twee dae en twee nagte by my gewaak, maar nadat die krampe bedaar en die koors gebreek het, het sy gesê: "Dis ’n mannetjiestjint dié, om so te bly klou na die drag slae en my kooksel."
Nicolaas, teen hierdie tyd weet jy. Daar was ’n kind. Daar is ’n kind. ’n Seuntjie. Dawid. Mag jy my vergewe, my man, maar jy was nie hier nie. Jy was nie hier om te keer toe die vreemde perdekar hier gestop het nie. Jy sou geweet het dis nie ons soort mens nie. Hy was honger en het dors gehad.
Nicolaas, vir maande het ek gebid dat die vrug wat in my gegroei het, uitgewerp sal word. Gebid dat hierdie wete jou gespaar sal bly. My lyf was sag en het gegroei, en as ek oor my maag vryf kon ek my verbeel dis onder jóú hande wat my lyf bot. Jou hande wat my lyf geken het.
Jy is die rede waarom ek nog asemhaal, die sagtheid in jou oë het my deur die maande gedra. Jy wat glo in jou Vader God en jy wat my vertel het van vergifnis. My geleer het van geloof, hoop en liefde. Mag daardie Vader God dan gee dat jy my sal vergewe, en my weer kan liefhê soos voorheen, met liggaam, hart en siel.
Mag jy my vergewe. My man.
Innig en ewig liefhebbend
Jou vrou.
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

