My geliefde: Maskers

  • 0

Sanet

Ek is lief vir jou. Ons het beide keuses gemaak voor ons paaie gekruis het. Keuses wat ons moes uitleef. Want ons het belowe.

Is dit nie ironies nie? Dat ons ’n lewensmaat kies op ’n ouderdom waar die kriteria heeltemal verkeerd was. Die ronding van ’n bors, ’n weerbarstige krul op ’n voorkop, die glinster in ’n oog. Die platheid van ’n magie, die wip in ’n stappie, die kurwes in ’n blommetjiesrok ...

En toe ontmoet ek jou. In my middeljare. My sielsmaat. Jy wat my brein kon voer. Jy wat my kon inspireer met die knik van ’n kop. Jy wat met my kon praat sonder woorde.  En ons verbreek al die reëls. Ons reëls. Moenie lief raak vir mekaar nie. Moenie vergelyk met die mense wat wag by die huis nie. Ons is net vriende ...

Intussen is daar ’n leeftyd verby. Jy daar in ’n ver land. Ek hier. Steeds kon ek jou voel. Elke dag. Jou gemoedstoestand, jou probleme ... jou vreugde. In my alleentyd het ek my oorwinnings en my neerlae met jou gedeel. In stilte. Met die knoop wat die heelal in ons siele gemaak het.

Nou is ek ’n ou man. Binne my vreet ’n siekte. Elke dag glip daar nog sand deur my uurglas. Die jong doktertjie belowe my drie maande.

En ek sit my masker op. Een van vele. Die een wat hang tussen die passiemasker en die liefdemasker. Die een met die hartseer lyne om die mond en oë. Hier tussen my mense ...

Maar hier binne jubel dit. Want ons het ’n afspraak aan die anderkant. Net ek en jy. Soos ons daardie laaste nag belowe het. Daardie nag wat ons stukke uitmekaar geruk het, en nie een van ons ooit weer heel was nie. Ons laaste keuse oor ’n keuse.

Ek is lief vir jou. Kom na my toe. Ek wag.

Stefan

Reinette Pienaar sit die brief neer. Die vergeelde koevert met die geskroeide hoeke het ’n posstempel oor die seël. 7 Junie 1967. Die dag wat ’n brand Johannesburg-poskantoor in puin gelos het. Waar was  hierdie possak? Drie maande voor haar ma se ontydige dood in Londen ... Die nag wat sy gaan slaap het, en nie weer wakker geword het nie.

Die deeltjies van die legkaart val in mekaar en trek Reinette bewerig neer op die ou riempiestoel. Skielik maak dit sin. Die mense om die oop kis in die statige ou klipkerk. Die fluisterstemme wat nie kon verstaan waarom Sanet Pienaar so ongelooflik gelukkig gelyk het in die dood nie.

Dan is daar natuurlik Stefan. Haar kleinboet. Die laatlammetjie.

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top