Julie 1957
Geliefde Treinmeisie
Dit was begin Januarie 1955. Die tyd van die jaar wanneer skoolverlaters hul nuutgevonde poste betree en medetreinpendelaars word. Gretige nuwe gesigte, uitgedos in hul beste klere. Opgewonde gesiggies wat giggelend na ’n sitplek soek.
En so trek die trein daardie oggend om 7.20 die volgende stasie in. Eers weer ’n paar giggelende meisietjies en toe … Sy! Twee netjiese sykousgeklede beentjies in swart hoëhakskoentjies betree die trein. Saam volg die fynste vroulikste wesentjie wat ek nog ooit aanskou het. Porseleinvel met blink raafswart hare. Oë amper te groot vir die fyn gesiggie en wimpers wat soos geil kwaste die amper swart oë versluier. Skraal lyfie geklee in ’n nousluitende knielengte-romp en roomkleurige bloesie met pêrelknopies tot by haar slanke nek.
Betowerend! Só, dat ek my maniere vergeet en voorgespring word deur ’n jong knaap wat ook deur haar skoonheid betowerd is. Hy wys haar na sy sitplek en met n amper fluisterende “dankie” verruil sy plekke met hom. Eintlik moes ek hom bedank het, want die sitplek is oorkant my. Met twee netjiese sywaartse treetjies, skuif sy in die sitplek in.
Daardie dametjie was jý, geliefde treinmeisie. Dis aan jou wat ek nou hierdie brief skryf.
So het jy bykans elke dag vir sowat twee en ’n halfjaar my dag verhelder. Jou sagte parfuum wat saam met jou deur die oop treindeur ingesweef het, was betowerend.
So sonder om ooit te praat het ek jou waargeneem. Jou keuse van leesstof. Elke tweede dag ’n nuwe boek. ’n Wye keuse van skrywers. Altyd jou boekmerk in sy plek nadat die trein die voorlaaste stasie uittrek. Behalwe jou skoonheid was jou rustigheid en beheerstheid jou aantreklikste bate. Sal ek dan vergeet die dag toe die trein met ’n geweldige ruk tot stilstand kom? Gillende meisies wat by die vensters uithang. Jy? ’n Effense fronsie en daardie vraende kyk na my. Na mý! Met my hart wat by my borskas wou uitbars van trots, het ek deur die venster die probleem probeer vasstel . “Dis niks ernstig nie,” het ek jou gerusgestel. Jy het ’n skouer opgetrek, effens geglimlag, na jou fyn polshorlosietjie gekyk en weer rustig voortgegaan met lees. Iemand het daardie dag voor die trein probeer inspring, maar hoe kon ek jou dit vertel?
Sou ek hierdie brief pos, sou jy seker wou weet hoekom en waar kom ek aan jou naam en werksadres. Wel, ek sou nooit jou privaatheid betree nie. Ek het eendag saam met ’n kollega na sy prokureur gegaan. Jy, my liewe treinmeisie, was sy sekretaresse. “Mej Tersia de Waal” was op die naamplaatjie teen jou tafel. Tersia, ’n pragtige naam vir ’n pragtige dame.
Vandag is my laaste dag op hierdie trein. Ek het ’n pos in Pretoria aanvaar. Ek wens jou alles wat mooi is toe en weet dat ek altyd aan jou as my treinmeisie sal dink. Mag ek eendag ’n vrou met selfs net een of twee van jou vroulike eienskappe ontmoet.
Totsiens, of waarskynlik vaarwel.
Ewald
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

