Bitterbessie-dagbreek
bitterbessie-son
’n spieël het gebreek
tussen my en hom
My liefste André. Jy het my hart gebreek aan duisend stukke, die brokke lê versprei oor land en see. Gom sal dalk my hart aanmekaar kan las en plak, maar my siel, my siel is week en swak.
Die donkerte wil nie wyk, ek word verswelg onder die swaar wolk. Dis dik en taai en swart, en daal af. Af oor my, waar ek inmekaargekrul hier sit en voel hoe die taai swart kloue om my spin.
Nog ’n pil. Afgesluk sonder water. Niks help nie, die donkerte wil nie wyk. Waar is my kind? Kyk iemand na haar?
Jy, André, dit was net jy. Altyd jy. Jy kon jou hand uitsteek, en as ek aan jou raak, het ek lig gevoel. Lig gelyk en lig gedans. Lig en blink het ek dan gedartel deur my dag.
Maar nou het jy jou hand teruggetrek, en daarmee saam my lig. En my lag.
My lyk lê uitgespoel in wier en gras.
Op al die plekke waar ons eenmaal was
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

