15 Desember 1999
My liefste lief
Hoe lank nog, my lief, dat ek jou hand op my vel sal voel, die bruisende sensasie deur my spoel? Hoe lank nog voor die streling van jou vingerpunte my brandende emosie in ’n inferno laat uitbars, die aanraking van jou warm liggaam teen myne die koue sal verdryf en die honger na jou sal stil? Te lank duur die droogte nou. Dit laat my dor, uitgedroog soos ’n dryfhout op die warm sand. Uitgespoel deur ’n monster genaamd: Misverstand.
Hoe goed onthou ek tog die dae toe jy langs my lê, tot teen my skuif. Die aanraking van jou lippe soos ’n vlinder oor my liggaam sweef. Sag, vol belofte en ingehoue drif. Dan die bewing in jou lyf wat die begeerte na mekaar soos ’n vloed dryf. Ineengestrengel het die liefdesgolf ons oorspoel, driftig, mals oor ons gerol. Die tsunami van liefdespel het ons naderhand uitgespoel om op die warm sand soos dryfhout langs mekaar te lê.
Droog, uitgemergel tot in my siel verlang ek na jou, my lief. Jou asem in my nek, soete woorde fluisterend in my oor. Woorde van liefde wat my wegvoer na ’n ander sfeer van salige bestaan, net ons twee. Na ’n paradys waar ons ons kan verlustig in ons liefde vir mekaar. Daar waar hoor en sien vergaan.
Kom terug, my lief. Ek het berou oor die seer in jou oë so blou. As ek net weer jou arms om my kan voel, jou lippe op my mond, jou hande op my lyf voel tas. Ons kan weer die golf oor ons laat spoel, die droogte verdryf. Net ons liefde vir mekaar is genoeg om ons deur te dra tot in ons gryse ouderdom. Maak nie saak nie, ons sal die monster oorwin, hom nie sy sin laat kry om ons verder van mekaar weg te dryf nie.
My liefde vir jou het nog nooit getaan nie, my lief. Voel jy ook so? Kom terug, of is dit nou te laat? Ek hoop nie so nie, want langer sonder jou kan ek nie bestaan nie. Ek sal kwyn. Bestaan, ja, want sonder jou is lewe nie lewe nie, maar net bestaan. Bedags loop ek soos ’n slaapwandelaar en soek na jou. Snags benat my trane die kussings. Ek kan nie meer nie. Daar waar jou weggaan ’n gat uit my bors geskeur het, sit ’n pyn wat my nooit verlaat nie. Die doodskoot is my toegedien. Verwyte in my oë het jou weggedryf, woorde was nie eens nodig nie.
Ek hoop dat hierdie brief jou gou bereik, voordat jy die land uitwyk na daar waar die firma jou wil stuur. Sprake was daar, maar ons het saam besluit dat ons wil bly. Hier, waar ons mekaar gevind het. Dink terug aan dit wat ons gehad het, wat uit die koue as weer eens ’n inferno kan laat verrys. My lief, voordat die Kersfeesklokke beier, die nuwe millennium aanbreek, kom vul die gat hier in my bors.
Jou seer verlangende vrou.
Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

