My geliefde: 10 Julie 1965

  • 0

10 Julie 1965

My Etienne

Die blote skryf van jou naam laat my hart vinniger klop en my vrouwees, onmiddellik ryp van afwagting, smag na die soet dou van jou aanraking.

O, hoe laat jy my binneste lééf! Wanneer jy Sondae die trappe na die preekstoel klim, huiwer my hande net ’n aks bo die note van die orrel, vir ’n breukdeel van ’n oomblik byna ontspoor van die gesang. Elke noot gedruk word ’n jubeling van my hart vir jou!

Die eerste dag dat jy jou hand in ontmoeting na my uitgesteek en ek opgekyk het in jou oë, was my wêreld onderstebo. Tyd het stil gaan staan. Klank het verdof. My hart het ’n klop gemis. Jou binneste en my binneste het mekaar herken. My siel het geglimlag.

Geen ontmoeting van enige ander wese op aarde was voor dit of ná dit ooit weer so intens nie. Die trouring aan my ringvinger ’n stille aanklag teen my heethoofdige gedagtes, al was die omstandighede so bitterlik rou. Die ring aan jou ringvinger galbitter werklikheid.

Vir maande wou ek my verbeel jou sielvolle bruin oë kyk té diep in myne, hou my hand net té lank vas met elke groetslag tydens die weeklikse erediensvergaderings. Saans wanneer almal geslaap en ek slapeloos voor die venster na die sprokiesnagte gekyk het, het ook ek in ’n sprokie in jou arms ingevlug.

Die dag wat jy my summier ontbied het vir ’n noodvergadering voor die erediens, onverwags reg agter my in die kerksaal kom staan en ’n brief in my hand gedruk het waarin jy gebieg het oor jou gevoelens, was die dag waarop ek omgedraai het in die hemel van jou liefde!

Die weke van die ontwaking en blom van ons liefde was bittersoet. Hoe het ek gesmag om openlik my liefde uit te basuin!

Die eerste keer wat jou manwees my vrouwees gevul en jy my met oorweldigende liefde, geduld, teerheid en passie gewys het waar die konstellasies sit, was die keerpunt van my lewe. Dit het my moed gegee om weg te stap van my bittere verlede af.

My hele wese adem jou menswees, Etienne. Jy het my gedagtes, my hart, my siel, my lyf, my hele lewe verower.

Ek soek oral na jou tussen die skare waar ek gaan, en wanneer ek so gelukkig is om jou te sien, is blydskap ’n vlerkgeklap in my binneste. Ek wil vir jou my lewe gee.

Die Ring en die mensdom is ’n donker monster, ’n donker pad. Jy, Godsgeroepene. Daar is maar net een manier om jou van verskeurdheid te red.

Wanneer jy hierdie brief lees, my Etienne, het die trein my al ver op die spoor geneem.

Jy sal altyd in my hart wees.

Vaarwel!

Jou Anna

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top