Resensie: Mooiloop, saamgestel deur Gerrit Rautenbach

  • 0

Titel: Mooiloop
Samesteller: Gerrit Rautenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799368208

Koop Mooiloop by Kalahari.com

Die bundel is vernoem na die reistydskrif Mooiloop (2006–2008), waarin al
die bydraes aanvanklik verskyn het.

Die subtitel “mooiste reisstories” is effe misleidend, want die meeste bydraes gaan oor terugkyk eerder as oor reis. Dis 'n mengsel van joernalistiek, kortverhale, memoires, kontreikuns en ander vorme van literêre niefiksie, met reisbeskrywings in die minderheid.
Die meeste bydraes – indien mens Chris Barnard se elftal meesterlike pensketse en humoristiese vertellings uitsluit, is deurdrenk met nostalgie – die nostalgie van (meestal) ouer wit mans.

Die DNS van hierdie boek is onttrek uit 'n ouer literêre genepoel, wat dan ook van die beste skrywers in Afrikaans insluit.

Daar is die reeds genoemde Chris Barnard, asook Hennie Aucamp, Abraham de Vries, Dolf van Niekerk, André P Brink, Eben Venter. Johan Bakkes en Koos Kombuis. Almal rolspelers in die Afrikaanse skryfwêreld van die afgelope halfeeu. Op 'n tegniese vlak is party van die werk vaardig, en selfs meesterlik, maar die nostalgie van byvoorbeeld 'n De Vries en 'n Van Niekerk is so vasgevang in die verlede dat dit die moderne leser vervreem.

Gerrit Rautenbach, die redakteur, ’n ervare knap reisskrywer, trap ook in hierdie slagyster as hy 'n besoek aan die Krugerwildtuin toewoel in die watte van onthou. Enkele van die handvol vroulike bydraers tokkel ook die onthou- en “goeie ou dae”-snaar.

Die twee Oos-Kapenaars, Eben Venter en Hennie Aucamp, kyk ook na die verlede, maar albei bevraagteken hulle weergawe van gebeure. Aucamp waarsku selfs op bl 27 dat nostalgie maklik “'n soet vergif” kan word.

Koos Kombuis bied sy onthou in die styl van 'n skoolopstel aan wat mens net so hardop laat lag het as Eben Venter se beskrywing oor die “skurwe” betekenis van Prince Albert.

Ook Mariëtta Crafford se “wicked” humorsin gaan baie verder as die Zenagtige titel “Die padkaart van padkos”.

Riana Scheepers vertel van “plek” en doen dit met 'n sjarme en byhaal en verwewing van die mense, die tale en landskappe wat sy liefhet.

“Grahamstad: Stad van wors en oorloë” is André P Brink op sy beste. Dis humoristies, berekend, erudiet en boeiend op 'n manier wat mens lus maak om weer na sy ander niefiksie te kyk.

Carié Maas se besinning oor die Franse Hugenote, Johan Myburgh se elegante essay, “Art Deco se reis na Afrika”, Naomi Bruwer se “'n Kaapse Pelgrimstog” oor die Moslem-kramatte in die Kaap, en Dawid de Wet se “Verfspatsels in die veld” oor wildehonde is almal lekker lese en bewys van Rautenbach se vermoë as tydskrifredakteur om die aweregse invalshoek raak te sien.

Ook wanneer daar onbevange oor reis geskryf word deur Rautenbach self, Johan Bakkes, die reeds genoemde Chris Barnard en Minette Brink kom die boek lekker op dreef

Laasgenoemde se “Kili laat jou nie altyd lag” gaan jou anders laat kyk na jou bure wat jou so verveel sedert hulle terugkoms van Kilimandjaro af.

Mens sal graag meer van Minette Brink wil lees. Maar Google bring jou nie ver nie. Daarom is dit jammer dat daar nie biografiese sketse agter in die boek is nie. Een van die plesiere van so 'n versameling is juis dat mens nuwe skrywers ontdek. Ook 'n inleiding deur Rautenbach waarin hy die strekking, omvang en doel van die boek omskryf sou welkom gewees het.

Die boek bied beslis 'n paar uur se lekker lees, en Rautenbach se manier om foto’s met teks te verweef werp weer eens goeie resultate af.

Sonder die teenwoordigheid van die nuwe, jonger belangrike niefiksie-stemme soos Erns Grundlingh, Toast Coetzer, Willemien Brümmer, Bibi Slippers en selfs die ouer Dana Snyman en Kirby van der Merwe, staan “Mooiloop” egter te stewig met sy een voet in die verlede. En kan die leser nie verhelp om te wonder of hierdie voortdurende geterugkykery dalk 'n bydrae gelewer het tot sluiting van die tydskrif waarna dit vernoem is nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top