moedertaal

  • 0

kjend van Kontinent, ter plaatse ontwerp, gepraktiseer,
via inkommer, weerstandige, Khoisan, slaaf, ammeketaar,
getimmer, tot hak-’n-tak, ruk-’n-pluk-baastaal, slaaftaal,
Khoisan-sonner-heenkome-taal, tog getuig van Goede Hoop,
Bonne Esperance, Boa Esperanza, soos Skepper’t wou sien

drie kontinente se bloed bymekaar gekom, vermeng,
bloedmengelik, bloedvermengend, uit Nederduijtsch,
tot Afrikaans, uit swanger slavinlyf, uit San-weerstand,
uit kombuis, uit voorhuis, uit onderdrukkerskultuur uit,
neo-linguïsties, uit natuur, van agtergrond, eg kreools,
nes lyfeigene-eigenaar, magslustig, koelbloedig ketools

lat sy nog moederlik, in Millennium Drie daar uitsien,
stewig innie lyf, steeds amptelik “Boer”, baas, s’n,
moedertaal van apartheidsonderdrukker, heerser,
verdrukker, so, as herinnering van Soweto 1976,
van VOC, soldaat, Vryburger se lingua franca,
aangewend, gebruik deur Kaapse Kapenaars,
in Papendorp se strate, naby die see, verder,
af na Vishoek, via Muijzenberg, Kalkbaai,
selfs met lyftaal duidelik laat verstaan

taal van moeder, moedertaal, legitiem intiem,
erken word, as komende yt Moeder Kontinent,
sommer ook al vroeg, ja, dienooreenkomstig,
volgens herkoms vernoem, etimologies terug,
herleibaar na inkommertyd, daai swaarkrytyd,
lank voor oud-vryheidsvegtersterm “isiBhulu”,
so illegitiem, so onhistories, so pro-apartheid

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top