
Werk ek mos op ’n konstruksieterrein as ’n jong ingenieur, die laagste vlak van die voedselketting op enige terrein. Die tradisie met jong ingenieurs op terrein is om hulle op hulle eerste dag na die opmeter te stuur en hulle te maak vra vir ’n “long stand”. Jy dink dis een of ander stuk toerusting, maar die opmeter maak jou dan vir ’n halfuur in die son staan.
Ons bou ’n aanleg in die woestyn. Dis warm, 50 in die koelte met tye, en stowwerig. Jou pen girts-girts so van die stof op die papier as jy jou verslae invul. Dis voor die dae van sigkaarte en wydverspreide rekenaargebruik.
Daar is geen winkel binne 80 km nie. Vermaak bestaan uit suip in die boslapa snags en nie veel meer nie. Ons projekbestuurder se bynaam is The Pink Panther, want hy gee sulke lang tree as hy te veel bier in het. Eendag kom sy vrou by die terreinkantoor aan in ’n staat van paniek. The Pink Panther is soek. Hy het nie by die getroudes se akkommodasie opgedaag nie. Sy is bang hy het verongeluk of dat Clouseau hom gevang het. Gelukkig toe nie; hy het bloot aan die slaap geraak in sy bakkie nadat die bakkie vasgesit het in ’n deurgrawing vir ’n kasduiker in ’n opvulling, wat net-net nouer as sy bakkie is. Hy het probeer kortpad vat en toe vasgesit. Dit kos hom uitsleep met ’n ander bakkie.
Fernando is ’n Mosambiekse voorman en ’n groot tjom van die terreinagent, Fanie. Fernando, wat min Afrikaans praat, het ’n probleem met sy salaris. Fernando is egter bang vir die ou korrelkop- en suurgat-adminpersoon, Dawie. Die res van ons is ook bang vir Dawie. Fernando kry vir Fanie om met Dawie te gaan voorbrand maak, terwyl Fernando om die hoek in die Portacamp-kantore wegkruip.
Fanie: “Dawie, Fernando wil met jou praat.”
Dawie: “Wat soek die k**t nou al weer?”
Fernando storm om die hoek en skree vir Dawie, met die paar Afrikaanse woorde wat hy ken ...
Grootkoppe van die hoofkantoor kom besoek ons. Hulle vlieg in met ’n Beechcraft King Air. Die terrein is omtrent 100 km van die lughawe. Hulle is nie lus vir die 100 km-grondpad terug lughawe toe nie en stuur toe vir my, die jong lat op terrein, om die vliegtuig te gaan haal. Ek ry die 100 km en soek die loodse. Die beamptes op die lughawe wys my in die rigting van die hotel. Daar kry ek die loodse in die hotelkroeg, besig om te kuier. Glad nie belowend vir lugvaartveiligheid nie, maar nietemin moes ek ook toe ’n ronde saam met die loodse afwerk, net om seker te maak die grootkoppe dobbel behoorlik met hulle lewens.
Die pilote kyk my wel skeef aan toe ek vir hulle beduie in watter kompasrigting die terrein is van die hotel af, maar dit was regtig reg wes, 270 grade op die kompas.
Later hoor ek die King Air het wel geland, maar het glo met die opstyg die doringbome se takke aan die einde van die tydelike aanloopbaan skrams getref. Ongelukkig oorleef die seagulls (“they fly in to shit on you”) die opstygery.
Die betaalkantoor word voor een betaaldag beroof. Inside job. Ek word afgevaardig om die salarisklerke in die tjoekie te gaan besoek en hulle verklaring neer te skryf. Ek maak so, maar toe vat die poeliesman my verklaring en sit dit in sy dossier. Ek het hom die moeite gespaar om die ding self te skryf. Ek skryf die verklaring maar oor. Petrus en sy maatjie, die salarisklerke, is dik gebliksem deur die polisie. Hulle hou vol hulle is onskuldig maar later blyk dit Petrus en trawante het wel deelgeneem aan die “heist”.
Ons enkelkwartiere is net anderkant die kamp vir die konstruksiewerkers, sowat 2 km van die terrein af. Die werkers se kamp het ’n diamantdraadheining om en daar is wagte by die ingang. Die plaaslike dames van die nag steur hulle egter min aan die sekuriteit. Sy staan met haar boude teen die heining, haar kliënt wydsbeen aan die binnekant van die heining en hulle voltrek sodoende die transaksie. In die ou dae het SAL geadverteer: “Fly now, pay later.” Hierdie transaksies was: “N**i now, pay later.”
Op betaaldae kry die werkers bruin koevertjies vol kontant (dis nou as Petrus en sy trawante nie ’n heist georganiseer het nie).
Om skuld in te samel is maar altyd problematies. Die dames van die nag het egter ’n baie praktiese oplossing om hulle debiteure mee te bestuur: padblokkades. Elke betaaldag is daar ’n padblokkade op die grondpad. Al wat ’n bakkie is met werkers agterop word gestop tussen die betaalkantoor op die terrein en die kamp. Die debiteure agterop die bakkie moet hulle skuld vereffen, sommer daar en dan, langs die pad, met die hoon en spot van diegene wat nie in debiet is nie wat weerklink in hulle ore.
Met die eerste betaaldag word ’n getroude Afrikaanse voorman, ’n groot AWB-ondersteuner uit die Vrystaat, A, egter ook aangetree in die padblokkade, om ook sy beweerde skuld te vereffen. Hy het seker gedink hy is veilig, aangesien hy die bakkie bestuur het en nie agterop was nie.
Ons is dit egter almal eens: A se beweerde debietsaldo is seker maar net ’n geval van “mistaken identity”.
Filistyn

