Dis nie haar regte naam nie en haar regte naam is nie regtig ter sprake nie.
Kleintyd grootgeword langs die Blou Dam. Grootgeword met 'n yster innie hand soort van. Kleintyd uit die skool gehaal want mens het mos net genoeg geleerdheid nodig om te kan bereken of iemand jou verkul hul, dan nie? Ek wetie of dit waar is nie maar die mense vertel dit vir die reine waarheid hoe Sannie klein-klein deur die vensters en diefwering getel is om die deure te loop oopsluit. En die televisies en videomasjiene later opgeëindig het in die "pawn shops". Ek vra haar eendag daaroor en sy kan niks daarvan onthou nie. Ek sou ook nie as dit my pa was nie.
Blykbaar op skool die gewildste gewees. Mooiste moet ek eintlik sê. So beduie die manne wat blykbaar weet, want hulle beduie hoe hulle haar warm gevry het en toe ek haar eendag daaroor uitvra toe wil sy klappe laat uitdeel. "Ek is g'n mal nie, man, waar sal ek nou ooit met N gevry het? Ek's sommer lus en klap hom lat die snot 'n halter om sy nek maak." Ek bekyk haar so en ek moet erken: Ek sal wegstaan as sy hanne of arms optel. Want sy lyk nog glad nie onaardig nie, maar sy het voor in die ry gestaan toe die familigene uitgedeel is. Basies die meeste gekry. Want sy lyk nie volgens gesig na Vet Jan nie, meer die liggaam. As jy vir Vet Jan geken het sou jy weet hoekom: Hy het altyd so stadig loop sit, wydsbeen. En dan gebulder vir koffie of tee. En Coke. Nie in sy lewe 'n druppel drank oor sy lippe gehad nie.
Die dag toe Moeder afsterwe het die lot maar op Mev Steekbreek geval om na Vet Jan om te sien. Te kook, koffie en tee te maak en elke dag Blou Dam toe te vat sodat hy kan loop kyk "hoe die water lyk". Liter Coke altyd byderhand. Want self kon Vet Jan nie ry nie. Het doodgewoon nie ingepas in die Nissan 1300 nie. Altyd agterop die klap gesit met Mev Steekbreek wat stadig ry sodat die ou man darem nie hoef te kantel nie. Want Mev Steekbreek het nie lisensie nie. Vet Jan was tevrede met so 'n halfuur na die Blou Dam se staar en dan weer terug, karavaan toe.
Tot die dag wat hy beginne gewig verloor en die dokters beduie dis suiker, en dissie lank nie of die been moet af. By die knie. Die beenaf was dalk 'n bedekte seën want ten minste kon die ou man voorin pas met al die gewig wat hy verloor het. Maar jy weet mos van suiker: hy vreet jou stadig op tot daar van jou nie veel meer as vel en been oor is nie. En dit was ookie lank nie of ons moet weer eens graf uitbou. En Mev Steekbreek is basies op haarself aangewese. Alleen in die kleine karavaan. Vir 'n wyle, want dit wassie lank nie of dit wat as jonge meisie nagelaat is vinnig opgevang is. En toe kos dit byhou. Want dan sien jy haar in 'n 380 SE en dan sien jy haar in 'n Golf V6 en dan sien jy haar laag sit in 'n Pajero.
Dan weet jy mos ook hoe dit gaan met die steak en die poeding. Mens raak mos soort van, na 'n tyd ook gatvol daarvoor en dan keer jy terug na dit wat jy geken het, gewoond was aan. So beduie Mev Steekbreek vir my dat sy moet uit en ek vra toe uit oor hoeveel die antie vir die huis gekry het en sy beduie sy het geen idee nie maar sy moet haar karavaan vat want die nuwe eienaar is 'n Slams vannie Kaap. Grootkop poliesvrou wat nie gaan duld as iemand in die hoek van die erf soort van kamp opslaan nie. "Sal jy my wegsleep? Eks in elk geval gatvol om elke keer op te pak as dit vloed hier by julle" "Ek kannie, ek moet see toe en dan moet ons veld toe..."
So sien ek 'n kaal kol by die nuut aangestelde poliesvrou se nuwe erf. Die bouers se tente staan hoog en ek sien die dak is sommer in 'n dag se tyd afgeruk. Mevrou Steekbreek is weg. Sy is, so beduie sy, nou ook 'n plakker. Wag ook nou vir die Staat om vir haar 'n hophuis te bou. "Maar ek is tevrede in my karavaan."
Ek sien annerdag 'n Facebook-foto van haar en ek herken haar nie en vra haar uit oor wat nou weer aangaan? Sy beduie dat dit die klogoete is. "Die klein bliksems het mos my foto gevat en op die computer my loop mismaak. Sien jy baard of kroesies hier om my mond? Hè? Sien jy iets? Ek gaan hulle een vir een bliksem, gee net kans..."
Ek hoor annerdag dat sy al klaar 'n karavaan vol wesies huisves. Hulle moet blykbaar net sodra dit springety is innie tente loop slaap, want dan "Is my nood mos hoog". Ek bekyk die pikswart kind sonder ouers en hoe Mev Steekbreek haar uitskel dat sy nie vanaand met haar vuil voete in ons karavaan gaan inkom nie en toe wonder ek: Wat mis ek hier? Ek bekyk die nieblanke weeskind wat deur hierdie vrou grootgemaak word. Ek bekyk hoe sy soggens vieruur as ek en jy nog lê en snuif aan mammie klaar op pad is om haar aangenome kroos by die skool te besorg. Hoe sy in die koue oggend hand aan hand stap met twee kinders wat ooglopend nie haar eie is nie.
Ek beduie haar van die stelsel wat sy maar mag misbruik want Julius Malema en onse eie president doen dit. Sy kyk my met haar dikglasbril stip innie oge en beduie: "Dink jy regtig Zille of Zuma of enigeen van die grênd-kar-mense voel iets vir hulle? Hulle moet skool loop, want as hulle nie skool loop nie gaan hulle op straat sit en dan moet ek oud word met 'n skuldige gewete."
En skielik sien ek hoekom sy nie kan onthou van die dae toe sy jonk was en Vet Jan haar en haar susters deur die vensters moes tel sodat hy huise kon breek nie.
"Wil jy regtig hierdie kind iewers innie Kaap in 'n weeshuis sien?" beduie sy terwyl sy die krulkop aan haar groot bors trek. Die kind lag in my rigting en ek wonder wat de fok in ons mense se koppe aangaan?
oester

