Die media is groot meningsvormers, trouens, hulle is dié meningsvormers. Dit is so dat die radio, die televisie en die pers se joernaliste en verslaggewers van iewers bo aangesê word watter inslag aangewend moet word; pro dié, anti dáárdie en so aan.
Dit is ook so dat enige administrasie soos ‘n valk dopgehou word deur die opposisie want hoe meer foute daardie administrasie maak hoe groter is die kans dat hy deur die opposisie vervang kan word. Foute wat ’n administrasie maak kan wissel van ’n kategorie 1 (amptenare wat uitveërs huis toe vat) tot ’n kategorie 10 wat ‘n krisis verteenwoordig; lei gewoonlik tot die val van die regering.
Mens sou nou dink dat die media-aandag sal styg en verskerp soos die kategorie van die nuusitem styg; groot dik koerantopskrifte en in-diepte TV-dekking vir die hoër kategorieë byvoorbeeld. Dit gebeur egter nie so nie – in die Nuwe SA is kategorie 11+ (op ’n skaal van 1 tot 10) gebeurtenisse aan die orde an die dag en die dekking is maar floutjies.
Hoekom sou dit wees? Al verklaring is hulle is pro die teenswoordige toestand. Hoe anders; hulle het dit dan bewerkstellig.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, jy het wel 'n punt beet, maar ek dink nie die samesweringsteorie gaan goed op nie. Soos die meeste mense (regters inkluis) het joernaliste (en ander meningsvormers) politieke opinies. Ek sal graag 'n opname wil sien oor die gemiddelde politieke affiliasie van joernaliste, maw, watter party ondersteun hulle. (In Amerika is bevind dat die meeste joernaliste Demokrate is.) Dit het dan 'n invloed nie net oor hoe oor gebeure berig word nie, maar watter soort gebeure oor berig sal word. Ek meen, daar gebeur daagliks miljoene goed, maar net oor sekere gebeurtenisse word berig. Tans is daar 'n media-histerie oor 'rassisme' en alle debatte draai nou om hierdie onderwerp. More is daar weer 'n ander onderwerp waaroor berig sal word. Daar is duisende mense wat daagliks ongeregtigheid moet verduur, maar hulle stories word uitgesny. Die hoofstroom media het ook die mag om iemand in onguns te laat kom deur die manier hoe oor 'n openbare figuur berig word. Ongelukkig bestaan daar nie intelligente en ingeligde konserwatiewe meningsvormers in Suid-Afrika. In die VSA is daar skrywers en joernaliste soos Dinesh D'Souza, Thomas Sowell en Shelby Steele (laasgenoemde twee is swart konserwatiste). In die Verenigde Koninkryk is daar Roger Scruton en Peter Hitchens. Al die persone het nie gelykes in Suid-Afrika nie en dit is 'n verdere rede hoekom die media se opiniemakers so 'n skewe beeld van gebeure gee. Maar nee, ek glo nie daar is 'n 'derde mag' wat opdragte van bo aan joernaliste gee oor wat en hoe berig moet word nie. Dit is eerder te make met die poel van joernaliste.
Jan jy raak 'n sensitiewe senuwee aan. Ek het 'n ruk terug 'n brief geskryf wat glad nie naby die forum gekom het nie. Dit het oor televisie-programmatuur gehandel. Eerstens jy sien nie meer "net wit" advertensies nie. Jy sien nie meer programme waar daar net heteroseksuele persone in is nie. Verstaan my mooi ek het nie 'n "probleem" met homoseksuele persone nie. Ek wil net nie dat dit in my keel afgedruk word nie. Ek weet daar sal nou mense wees wat op hul perde sal spring en my verguis, maar ek beskou dit as subtiele meningsvorming en beïnvloeding.