Dit is nou al letterlik jare en die ou Man het sekerlik al tot stof vergaan. Die dinge wat moes gebeur het gebeur en die veranderinge het gekom en gegaan. Ons ry by die koppie verby en dikwels kyk mens en herinner jouself dat daar skoongemaak moet word. En soos dinge maar is, word dit eers 'n week of twee later gedoen. Want daar is altoos belangriker dinge wat mens maar net moet doen. So gaan die dae en weke oor in maande en jare en Arthur begin stadig maar seker gewoond raak dat die ou Man hom nie gaan vasdruk as hy om die huis stap nie.
Want jy sal onthou dat hy die dood voor oë beduie is as hier ooit iets verkeerd sou gaan. Want Ra Mavenster het goed beduie dat hy nog steeds daar bo van die koppie se kant af gaan dophou. So kom en gaan die personeel en Arthur bly maar want hy het tog belowe dat hy na die nuwe generasie sal omsien. Vra jy deesdae vir iets dan skree Arthur aan "sy manne" dat dit of dat nou gedoen moet word. En glo my, dit word gedoen.
Die ou kaggel se brandplate begin, met die elke dag se vuurmaak in die kombuis, deurbrand. Want 'n ou huis het mos maar die hitte nodig. Die vrouens beduie vir my elke dag dat hulle 'n probleem het met Arthur of Apie soos die wat hom ken hom mag beduie. Ek beduie maar weghand dat dit maar in Apie se aard is, en hy sal weldra die boodskap kry dat jy nie beskikbaar is nie en klaar man gevat het.
"Ja, maar hy is knaend."
"Vat hom vas. As hy vatterig wil raak vee hom met die bakhand. As niemand sien nie, laat die ou man darem voel hoe voel 'n paar pramme."
"Jy en hy maak julle al twee laat. Buitendien, jy verstaan nie, en buitendien, hy weet Jesus (Ivan Jesus) sal hom goed bliksem. Hoekom moet ek altyd teenwoordig wees as hy in die huis moet in? Wat is dit met hom?"
En so luister mens mos en jy luister ook maar nie regtig nie. Tot vandag. Ek beduie vir Arthur om die ou plaat wat deurgebrand is te loop haal en hy staan vas. Trap rond en kou aan iets onsigbaars in sy hol kieste. Ek sweis die nuwe plaat in en soek die ou plaat vir korreksie en voel-voel rond en Arthur staan steeds holkieste en maak of hy help vashou "want hierdie plaat is swaar en djy moet hulp hê met die annerkant se sweis."
"Kry net vir my die bleddie (ander woorde is gebruik) plaat tot hier want ek kan nie hier los nie."
"Ja, maarg...."
"Ja maar wat?"
"Meneerg weet ek kom nie daar alleen nie."
"Waar de fok kom jy nie alleen nie?"
"In die kombuis. Die ou man kyk vir my."
Dit kos my alles los en die plaat laat koud word want Fiela het net vir 'n oomblik verdwyn en het vir Arthur alleen gelos met die spoke in die huis.
Ek sit vir die soveelste maal en wonder, na ons met groot moeite die sweiswerk klaar gekry het hierdie ding met die dooies. En die persepsies en fabels wat rondom hulle geweef is en steeds geweef word. Hoe dood moet iemand wees voor die aanvaarding intree dat die dude inderdaad werklik tot ruste gekom het? Waarom het die dooies steeds, in hierdie eeu waar mense klinies en bo alle twyfel dood verklaar word, onder die grond gebêre word (dalk om doodseker te maak?) en klippe bo-op hulle gepak word, steeds soveel mag oor die lewendes?
Ons sit die brandplaat in met groot moeite want 10 mm staal in op sy beste 'n bliksemse swaar ding en ek sien Arthur kyk witoog oor sy skouers. Net ingeval. En toe wonder ek nie meer nie.
oester


Kommentaar
Oester, moes jou storie 2x deurlees - maar geniet. Dankie.