Mangaung: Kings and Kingmakers – ’n Lekkerlees-opsomming, met reuse-leemtes

  • 0

Mangaung: Kings and Kingmakers
Mandy Rossouw
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795704529

Koop Mangaung: Kings and Kingmakers by Kalahari.com

’n Paar weke voor die grootste ANC-partytjie in vyf jaar en die boeke oor wie wat en waar neem winkelrakke oor.

Mandy Rossouw se Mangaung – Kings and Kingmakers, is een van die boeke wat probeer sin maak van die malligheid.

In dié dunnerige boekie (dankie tog, met soveel ander leesstof om deur te gaan) beskryf sy die agt groot name wat moontlik sal kan bepaal of president Jacob Zuma ’n tweede termyn as ANC- (en staats-) president sal ontvang.

Die agt mense wat sy bespreek, is almal belangrik en sluit in Zuma, adjunkpresident Kgalema Motlanthe en ses ander grootkoppe.

Dit is egter ’n reuse-leemte om nie die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, te bespreek nie. Hy word nie eens in die boek genoem nie. Tog sê Rossouw dat Motlanthe in Polokwane, by die vorige ANC-kongres, toe hy die sekretaris-generaal was, die magtigste mens in die ANC op daardie stadium was. Dis omtrent dieselfde met Mantashe, en nou bespreek sy hom nie.

Dis omtrent dieselfde met vroue. Dit lyk of Rossouw nie dink enige vrou in die ANC is in ’n posisie om die Zuma-Motlanthe-partytjie te beïnvloed nie. Sy bespreek eerder vir Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, wat waarskynlik nie dieselfde invloed het as iemand soos Angie Motshekga nie.

Rossouw  skryf ietwat los en vas, en ’n bietjie meer besonderhede sou ook welkom gewees het. Sy sê byvoorbeeld “rondom 4 000 afgevaardigdes” sal in Mangaung deelneem aan die stemproses. Daar sal egter 4 500 mense stem, om presies te wees.

Oor Gigaba, byvoorbeeld, sê sy ook dat hy daarin geslaag het om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Eskom om te swaai van sukkelende staatsentiteite na suksesvolle ondernemings. Intussen was Gigaba se grootste sukses eintlik Transet. Die SAL is in stormagtige waters en Eskom is net suksesvol danksy reuse-tariefverhogings wat tans groot debat ontlok.

Sy het lof vir Max Sisulu, tans speaker in die nasionale vergadering, as een ANC-leier wat inwaarts kyk vir redes waarom soveel hofuitsprake teen die parlement gemaak word rondom wette wat die parlement deurvoer. Dit is goeie kommentaar. Sisulu is een ANC-grootkop wat dit nog waag om sy kop bo die loopgraaf uit te steek. Dit is waarskynlik omdat hy ANC-adel is dat hy daarmee kan wegkom. Hy kry egter nie ’n aparte bespreking nie.

Rossouw skryf ook oor die muilbandwetgewing wat onder Zuma se bewind momentum gekry het – ’n goeie punt om uit te wys en een wat Adriaan Basson in Zuma Exposed byvoorbeeld bykans ignoreer het.

Sy skryf ook dat die wurggreep wat Luthuli-huis en die Uniegebou op die ANC-koukusse gehad het (onder Mbeki) verby is. Dan sê sy dat die ANC-LP’s deesdae daarop aandring dat hulle met hul gewetes wil stem. Dit staan egter in kontras met wat sy skryf oor hoe die LP’s oor die muilbandwet gestem het. Met dié stemproses in die nasionale vergadering vroeër vanjaar het net twee ANC-LP’s, Ben Turok en Gloria Bornman, eintlik met hul gewete gestem.

Oor Motlanthe skryf sy dat hy die “reluctant president” sou wees. Dis werklik ’n goeie beskrywing. Waarom was hy dus so stil die afgelope paar jaar terwyl Zuma een flater na die ander begaan het? Mense sukkel nou nog om werklik te weet waarvoor Motlanthe staan. Baie dinge verander egter ook in ’n paar weke en sedert Rossouw se boek uitgekom het, het die toekoms vir Motlanthe al donkerder geword. Dit blyk nou dat Motlanthe moontlik nie eens die ANC se top ses sal haal nie en moontlik selfs deur Cyril Ramaphosa vervang kan word in Mangaung. Dit sal weer Motlanthe se kanse om die land se volgende president te word ’n geweldige knou gee.

Dit is hoeka die hoofstuk oor Ramaphosa wat moontlik ietwat meer uitgebrei kon word. Daar word byvoorbeeld nie genoem oor die R20 miljoen-buffel wat die sakeman dié jaar gekoop het en die reuse-uitval waarna dit gelei het nie.

Ander individue wat beskou word as “kings and kingmakers” sluit in Zwelinzima Vavi, wat beskryf word as ’n korrupsie-kampvegter maar anti-Zuma; Fikile Mbalula, tans minister van sport; en Julius Malema. Laasgenoemde twee word bespreek as kampvegters vir Motlanthe.

Die lekkerste waagstuk wat Rossouw neem, is in die Zuma-hoofstuk, waar sy skryf dat die ANC moontlik ’n politieke ooreenkoms met hom kan aangaan waarvolgens Zuma voor die 2014-verkiesing sal uittree as president van Suid-Afrika. “Die ANC sal dan ’n ander kandidaat (Motlanthe/Ramaphosa?) aanbeveel en Zuma sal slegs aanbly as president van die ANC.” Of dit sal gebeur weet nugter, maar dis ten  minste ’n dapper raaiskoot.

Die hoofstukke oor die onderskeie provinsies is ook waardevolle agtergrond voor Mangaung. Kortweg: die boek is die lees werd. Na Mangaung sal dit waarskynlik egter nie wees nie. Te veel het reeds verander.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top