Macron speel Russiese roulette: Is 7 Julie 2024 die belangrikste dag in moderne Franse geskiedenis?

  • 1

’n Detail van die Pont du Carrousel, Parys. Foto: Jannike Bergh

“Baie van ons landgenote het vandag vir my gestem, nie omdat hulle my idees ondersteun nie, maar om die ekstreemregse gety te versper. Hiervoor wil ek hulle vanaand bedank.” – Emmanuel Macron, oorwinningstoespraak, 2022
* * * 
“Ek beplan al weke hieraan. Ek is verheug. Ek het my handgranaat tussen hulle bene gegooi. Laat ons nou sien hoe hulle vaar.” – Emmanuel Macron, Ouradour-sur-Glane, 10 Junie 2024 (Le Monde, 14 Junie 2024)
 

Inleiding

Op die aand van 9 Junie 2024 het die president van Frankryk, Emmanuel Macron, op nasionale televisie aangekondig dat hy die Franse parlement ontbind. Die toespraak volg ’n uur nadat sy Renaissance-party kwalik 15% teenoor die Rassemblement National (RN) se rekordoorwinning van 31,7% in die Europese parlementêre verkiesings behaal het.

Matigheid of Matignon voor oë?

In pure Macron-styl, waar oordadige arrogansie as beredeneerde selfvertroue voorgehou word, het hy ’n blitsverkiesing uitgeroep – en uiteraard die gewenste skokgolwe regoor die land gestuur.

My vraag aan vriende op die vasteland die volgende dag was: “Maar hoekom nou? Wat is die haas?” Almal se antwoord: “Eerlikwaar verstaan ons glad nie wat aangaan nie.” Dalk wil hy net weer wen nadat hy verloor het? wonder ek. 

Op 10 Junie besoek Emmanuel Macron die plattelandse dorpie Ouradour-sur-Glane, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Nazi-Duitsland beset was, met 1 600 inwoners in 1944 (teenoor 2 500 inwoners vandag). Op 10 Junie 1944, enkele dae na die Geallieerde inval op Normandië op 6 Junie 1944, het lede van die paramilitêre Waffen-SS die dorpie ingevaar en 643 inwoners – mans, vrouens en kinders –  klakkeloos afgemaai; gewone burgers is lewend verbrand of het andersins ontkom aan die skielike stilte van ’n haasgestotter van koeëls.

Dit is dus by hierdie aangeleentheid, die terloopse 80ste herdenking van ’n Nazi-massamoord in Wes-Frankryk, die oggend nadat die blitsverkiesing uitgeroep is, waar ’n kennis van Macron hom nader en amper-lomp vra: “So, dinge darem nie te rof daar nie?” en Macron heel geamuseerd sy antwoord peper met onvanpasthede: “Ek beplan al weke hieraan. Ek is verheug. Ek het my handgranaat tussen hulle bene gegooi. Laat ons nou sien hoe hulle vaar” [lol]. Soos die joernalis Sebastien Fontenelle Macron se selfvoldane uitlating beskryf: Onthutsend brutaal. Pervers, selfs.

1944 is eers oor 20 jaar 100 jaar later; miskien sal dit dan lank terug wees. Vir nou reik Bob Dylan (gebore 1941) nog albums uit. Trouens, 1944 is onlangs genoeg dat Marine Le Pen se party, Rassemblement National (RN), voorheen Front National (FN), deur haar pa, Jean-Marie Le Pen, in die 1970’s gestig is saam met, wel, ekslede van die einste Waffen SS – waarvan een die party se tesourier was. Dit is dieselfde meneer Le Pen van dieselfde party wat Nazi-gaskamers en uitwissingskampe op nasionale televisie afgemaak het as ’n “historiese detail”. ’n Volslae Holocaust denier, dus.

Om die party te “de-diaboliseer” en die groepering se rassistiese grondslag te versag, het Marine Le Pen die party herdoop na die Rassemblement National (“nasionale samekoms” – eerder “saamtrek” – ’n semantiese make-over), met die 28-jarige skoongesig, Jordan Bardella, as die nuwe leier van die party. Gepantser met intensiewe media training om gaaf en kalm voor te kom, skuil daar egter ’n geskiedenis met Twitter-rekords wat wemel van bewondering vir fascistiese helde uit beide die verlede (Nazi-samewerker, generaal Pétain byvoorbeeld) en die hede, in die vorm van polisiebrutaliteit teenoor mense van immigrante-afkoms. (Bardella, terloops, is van Italiaanse herkoms – nes een uit vier volwassenes in Frankryk ten minste een immigrante-ouer of -grootouers het.)

As Macron se haha-handgranaat-oomblik nou maar “net lomp” kon gewees het; as dit maar “net” nog van die daaglikse minagting kon wees ... Maar nee, binne die konteks van magsoordrag op ’n silwer skinkbord – aan Jordan Bardella, Marine Le Pen se halfgebakte voorwendsel as die toekoms van Frankryk – is hierdie vlak van ontkoppeling (van die President en sy granaat inkluis) duskant abjek.

Die simbiose van Macron en Le Pen

Sedert Macron beide in 2017 en in 2022 in sy oorwinningstoesprake toegegee het dat ’n oorwegende meerderheid kiesers teen die verregse bedreiging gestem het, en homself verantwoordelik sou hou om die “republiek daarteen te beskerm”, het die groeiende gevaar wat Le Pen se beweging inhou, die Macronie basies kunsmatig aan die lewe gehou.

Het Macron sy hand op 9 Junie oorspeel? Of is die Jupiteriaanse mystic besig met iets wat die gepeupel nie verstaan nie?

Onlangse agtergrond

Om sin te maak van die Franse president se potspel waarin hy die land blootstel aan die moontlikheid van die eerste verregse regering in die geskiedenis – generaal Pétain van die Vichy-regering tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgesluit – is dit nodig om die onmiddellike konteks rondom die blitsverkiesing te verstaan. Macron se weddenskap, wat hy voorgee weldeurdag is, plaas sy eie afgevaardigdes se poste ook op die spel – sy protégé, die huidige eerste minister Gabriel Attal, staan veral ’n groot kans om onthef te word.

Om op te som: Die parlementêre verkiesings bepaal die aantal setels vir afgevaardigdes van verskeie partye in die parlement en die senaat. In die geval van ’n volstrekte meerderheid (meer as 50% van die stemme) kan ’n opposisieparty ’n cohabitation met die regerende party vorm; dit gebeur wanneer die eerste minister en die president van twee verskillende partye saam moet regeer.

Dit is belangrik om te onthou dat die parlementêre verkiesings uitgeroep is ná Macron se swakste prestasie tot dusver – in die Europese parlementêre verkiesings. Dit is ook belangrik om kennis te neem van die vorige parlementêre verkiesing wat in Junie 2022 plaasgevind het – kort na die presidensiële verkiesing in April 2022. Die volgende verkiesing sou dus eers weer in 2027 plaasgevind het. Deur die parlement nou te ontbind hoop Macron waarskynlik dat die Franse bevolking hulle trou in hom sal hernu deur weer in groot getalle teen Le Pen – of Jordan Bardella, in hierdie geval – te stem.

Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat die Europese parlementêre verkiesings slegs uit een ronde bestaan en daar nie ruimte is vir introspeksie of aanpassings in ’n tweede ronde nie.

........
Dit is veral belangrik om te weet dat linksgesinde kiesers Macron verpes en spreekwoordelike handskoene aantrek om ’n kruisie langs sy naam te trek, maar tog vir hom stem om dié land, wat, laat ons nie vergeet nie, die wieg van universele menseregte is, en hierdie erfenis, nie te laat wegsink in die niet nie.
........

In Frankryk se eie verkiesings stem kiesers in twee rondes, ’n week uit mekaar. In die tweede ronde word daar gestem tussen die twee kandidate wat in die eerste ronde eerste en tweede gekwalifiseer het. Dit is juis in die tweede ronde van die presidensiële verkiesing in April 2022 dat Macron herverkies is – grotendeels omdat mense by die stembus opgedaag het nie om vir Macron nie, maar teen Marine Le Pen te stem. Dit is veral belangrik om te weet dat linksgesinde kiesers Macron verpes en spreekwoordelike handskoene aantrek om ’n kruisie langs sy naam te trek, maar tog vir hom stem om dié land, wat, laat ons nie vergeet nie, die wieg van universele menseregte is, en hierdie erfenis, nie te laat wegsink in die niet nie. Met ’n immer regs-bewegende Europa kan Frankryk dalk nog toonaangewend vasklou aan vryheid, gelykheid en ‘broederskap’ –  geskoei op die basiese beginsel van medemenslikheid, wat die Franse sosiale model omvou.

Maak Macron ’n strategiese fout?

Volgens Jeanne Bouyat (PhD in politieke wetekenskap aan SciencePo-Parys en postdoktorale navorser by Centre for Education Rights and Transformation aan die Universiteit van Johannesburg), kan die blitsverkiesing gelees word as ’n langtermynplan – en die plan is nie om Bardella te beveg nie. Die plan is eerder om die linkse “blok” onkant te betrap die oomblik toe dit blyk dat hierdie partye se posisie hewig verswak het.

“Macron het waarskynlik ’n potensiele koalisie raakgesien met die meer gematigde Raphaël Glucksman,” verduidelik Bouyat. Raphaël Glucksman is van die Parti Socialiste (Frankryk se tradisionele linkse party – van Hollande, Mitterrand, ens), wat juis tydens Hollande se bewind verbrokkel het omdat die party ’n sentristiese elite se belange vooropgestel het. Dié verbrokkeling het gelei tot die opkoms van La France Insoumise (“Opstandige Frankryk”), onder die vurige Jean-Luc Mélenchon, ’n veel geliefde maar ook hoogs verdelende figuur. La France Insoumise is die grootste party in die huidige verenigde linkse front – en ook landwyd die mees populêre party onder 18–24-jariges.

Macron se inspirasie vir sy Russian roulette-oomblik is dalk gebaseer op die wanindruk of oormatige selfvertroue dat linksgesindes nie om dieselfde tafel kan sit nie, en dat “’n samewerkingsverband met Raphaël Glucksman in ’n meer sentristiese raamwerk sou kon geskied – net om dieselfde antisosiale beleide weer voort te sit.”

Dit blyk dat Macron nie voorsien het dat die linkse groepering so snel kragte sou saamsnoer nie. Dié partye het dadelik werk gemaak daarvan om ’n verkiesingsmanifes as die Nouveau Front Populaire (NFP), of die “Nuwe Volksfront”, op te stel – en selfs die gematigde Glucksman is deel van dié alliansie. Die benaming van hierdie alliansie vind sy inspirasie in die antifascistiese Front Populaire, ’n linkse koalisie van die dertigerjare.

Bouyat voer verder aan dat die ideologiese verskille onder linkses nie só enorm is nie, en dat hierdie verskille veral in die media “verpolitiseer en oordryf is in die konteks van die Europese verkiesings en die Israel-Palestynse vraagstuk”.

Collage: Foto van ’n antifascistiese protes gelei deur ’n Franse werkersvakbond in 1934. Publieke domein, Wikimedia (links); ’n toneel op die Pont Neuf in Parys, geskilder deur Auguste Renoir (1872), Nasionale kunsgalery, Washington (regs).

Liberté, égalité, fraternité? 

Terwyl mens nie noodwendig verregse idees met Frankryk sal (of wil) assosieer nie, bestaan daar wel ’n “fascisme à la française”, verduidelik Bouyat. Daar is die skaduwee van die Nazi-Vichy-era onder Pétain, en die meer moderne stronk van fascisme met die opbloei van die Nasionale Front (FN) van die 1980’s. Hoewel destyds marginaal, het Jean-Marie Le Pen in 2002 met Jacques Chirac in die tweede ronde van die presidensiële verkiesings meegeding (en verloor, met 17% teenoor 83%).

Meer onlangs, onder Hollande en Macron, het die FN se verkiesingsyfers nog vinniger gestyg. “Hierdie dinamika is nie eie aan Frankryk nie, maar kan regoor Europa en wêreldwyd waargeneem word,” verduidelik Bouyat. “Die ekstreemregse opbloei vind plaas te midde van ’n wêreldwye krisis, waarvan die oorsprong neoliberale kapitalisme is.”

“L’extrême-centre” of die ekstreemmiddel, Macron se handelsmerk

Macron se skielike opgang vind plaas tydens die verbrokkeling van die twee tradisionele linkse en regse partye, dws die post-Sarkozy- (regs) en post-Hollande- (links) krisis-era.

In 2017 kom dit vernuwend voor om ’n derde magsblok – nóg links, nóg regs – te skep, en Macron wen gemaklik as ’n gematigde kandidaat, ten spyte van ’n “wasige verkiesingsprogram”, maar ook grotendeels te “danke” aan die verregse dreuning. Macron, wat weggebreek het uit Hollande se Parti Socialiste, se termyn word egter vinnig aan regse oorwegings en ’n uiters outoritêre modus operandi geken. “Dit is om hierdie rede dat daar na die Macronie as ‘ekstreem-sentristies’ verwys word,” verduidelik Bouyat. Die outoritêre regeringstyl van Macron benadeel die sosiale basis van die Franse staat, asook burgerlike vryhede en immigrasiewetgewing – ’n heel ander politieke denkskool as die sosiaal-demokratiese grondslag waar hy vandaan kom; trouens, dit is iets baie nader aan die Rassemblement National se agenda.

Daar is baie om te sê oor Macron se balansstaat van die afgelope sewe jaar – ’n essay op sy eie – maar dit kan opgesom word as monargaal en minagtend van aard, en vind uitdrukking in militaristiese vergrype teenoor die klein gepeupel.

........
“Wat wel seker is, is dat hy nie bang is om mag aan die RN te oorhandig nie en ook nie bang is vir ’n koalisieregering met hulle nie, omdat hy die parlement ontbind het die oomblik dat so ’n scenario die mees waarskynlike was.”
........

Hierdie is die agtergrond vir Macron se dramatiese duik in die Europese verkiesinguitslae, sowel as in die eerste ronde van sy blitsverkiesing (Rassemblement National: 33%, Nouveau Front Populaire: 28% en Macron se Renaissance-party: 21%).

Volgens Bouyat is dit duidelik dat Macron tans nie veel meer vrees nie: “Miskien het hy gehoop dat hy ’n sentristiese koalisie kan vorm en die linkse groepering soveel as moontlik na die rande, die buitekringe, kan skuif. Wat wel seker is, is dat hy nie bang is om mag aan die RN te oorhandig nie en ook nie bang is vir ’n koalisieregering met hulle nie, omdat hy die parlement ontbind het die oomblik dat so ’n scenario die mees waarskynlike was.”

Die besonder goeie resultate van die NFP – na ’n veldtog van slegs twee weke – dui egter ook daarop dat Macron die linkse groeperinge se vermoë om te federeer onderskat het.

Is dit régtig moontlik dat Jordan Bardella eerste minister kan word?

Samewerking tussen partye om die RN in te perk, ’n strategie wat Macron en sy eerste minister, Gabriel Attal, ’n “republikeinse front” gedoop het, is van kardinale belang vir Sondag se verkiesings. Bouyat verduidelik: “Dit hang af van plaaslike onderhandelinge, waar Macron- en NFP-kandidate derde plek behaal het, kies om te onttrek in gevalle waar ’n RN-oorwinning andersins in die geval van ‘driedeling’ waarskynlik sou wees.” Die dryfveer is om so min as moontlik setels aan die RN toe te staan.

Terwyl Gabriel Attal in ’n verbasend positiewe skuif ’n beroep gedoen het op Franse kiesers om teen die RN te stem, het ander Macroniete, soos die voormalige eerste minister, Edouard Phillipe, kiesers aangeraai om nie vir die RN of die NFP te stem nie – dat kiesers nie onderworpe moet wees daaraan om tussen twee “ekstreme” te stem nie. Maar laasgenoemde linkse groeperinge word boonop verkeerdelik uitgebeeld, deur die media, politici en ander openbare figure, as “ewe ekstreem” as die RN. Dit is uiters misleidend en gevaarlik, want dit is blatant onwaar: Die Conseil d’Etat (staatsraad) het onlangs beslis dat Jean-Luc Mélenchon se France Insoumise-party (LFI) nié “ekstreem” is nie, maar dat die RN wél as ekstreemregs geklassifeer kan word.

Selfs voor die eerste ronde se uitslae het die leiers van die NFP-partye aan alle kandidate die opdrag gegee om te onttrek waar hulle derde gekom het. Dit is byvoorbeeld die geval waar France Insoumise ’n beroep hierdie week gedoen het op hulle kiesers om hulle stem vir Elisabeth Borne te gee – as voormalige eerste minister verantwoordelik vir die omstrede pensioenhervorming beliggaam sy die Macronie se antisosiale politiek. Dieselfde gebaar uit linkse oorde geld vir Gérald Darmanin, die minister van binnelandse sake, wie se termyn veral geken is aan ’n opbloei in polisiegeweld, wat hom dus verskriklik ongewild maak onder jonger, verligte kiesers: Die NFP se kandidaat in Darmanin se distrik in die noorde van Frankryk het dus onttrek om die wedloop aan Darmanin oor te gee, sodat soveel as moontlik stemme nié na die RN gaan nie.

........
Terwyl die linkse groeperinge met doelgerigte helderheid optree om ’n verregse meerderheid te versper, word dié groepering gediaboliseer in Franse hoofstroommedia. Hierteenoor geniet die RN geweldig baie lugtyd.
........

Terwyl die linkse groeperinge met doelgerigte helderheid optree om ’n verregse meerderheid te versper, word dié groepering gediaboliseer in Franse hoofstroommedia. Hierteenoor geniet die RN geweldig baie lugtyd – en nie net Le Pen en Bardella nie, maar veral die uiters konspiratoriese islamofoob, Eric Zemmour. Een van die hoofredes hiervoor is dat Vincent Bolloré, ’n multimiljardêr met verregse oortuigings, ’n monopolie op Franse media het. In ware Murdoch-styl kan Bolloré die poppekas van talking heads beheer – en basies as ’n gebeeldsende veldtog vir Le Pen en Bardella dien, een wat uiters neerhalend staan teenoor France Insoumise en ander kleiner linkse partye, soos die Groen-Ekologiese party.

Die onmiddellike gevolge van ’n verregse regering

Burgerlike vryhede, asook mediavryheid, sal swaar gebuk gaan onder ’n RN-regering, verduidelik Bouyat.

So ’n verregse regering is uiteraard gevaarlik vir alle minderheidsgroepe en ook vroue. Die RN wil onder andere befondsing verminder vir Planning familial, ’n nasionale diens vir vrouegesondheid – dié party se beleide is fundamenteel antagonisties teenoor aborsieregte en gayregte en kan nie onvriendeliker teenoor immigrante of Franse burgers van immigranteoorsprong staan nie.

Die grootste wetshervorming wat Jordan Bardella belowe, wanneer hy nie shooters op TikTok drink nie, is dat indien hy hom aan die helm van die parlement sou bevind, hy sal wegdoen met die regsbeginsel van jus soli (waar ’n persoon se nasionaliteit en burgerlike geboortereg bepaal word deur die grondgebied waar hulle gebore is). Hierdie gedagte is nie ongewoon nie: Lande waar hierdie beginsel geld, sluit die VSA, Kanada, Suid-Afrika en verskeie lande in Suid-Amerika en Asië in. Om hiermee weg te doen, is om weg te doen met ’n regsbeginsel wat terugdateer na die 14de eeu, ’n beginsel wat ook tydens die Franse Revolusie versterk is.

Wat is die praktiese impak hiervan? Burgerskap sal deur affiliasie verkry moet word, wat burgerregte hewig sal inperk. Hierdie inperkings sluit ook aan by die RN se beplande uitdunning van sosiale en ekonomiese regte vir buitelandse burgers.

Die RN se ekonomiese beleid bly, ten spyte van hulle beloftes aan die werkersklas, volgens Bouyat ook steeds neoliberaal en pro-elite, sonder enige werklike ingryping om die armer klasse se omstandighede te verlig.

Is daar ligpunte in die aanloop tot die blitsverkiesings se finale ronde hierdie Sondag, 7 Julie?

“Wat nie regtig in die media uitgewys word nie, is dat die RN sonder republikeinse bondgenote hier en daar 29% behaal het, eerder as die somtotaal van 33%, en dat die NFP – die grootste opposisie – 28% behaal het,” wys Bouyat uit.

Met 16 miljoen kiesers wat nie in die eerste ronde gestem het nie, is daar twee moontlikhede (en geen sekerhede nie):

  • Die groot wedloop om ’n “republikeinse front” (Macron se woorde), of ’n “versperring” (barrage), aldus die linkse oorde, van die RN te bewerkstellig, mag die RN dalk vir nou net-net buite bereik van ’n volstrekte meerderheid hou.
  • Indien die rekordgetal kiesers van verlede week vergroot – daar is 16 miljoen geregistreerde kiesers wat nie in die eerste ronde gestem het nie – kan dit die RN ook verswak, omdat die patroon in die verlede is dat kiesers wat wegbly, in die RN se guns tel. Dit is egter nie ooglopend waar presies dié 16 miljoen kiesers hulle op die politieke spektrum bevind nie.
........
Die geskiedenis sal Macron verantwoordelik hou vir die manier waarop hy rojaal misluk het in sy belofte om die kieserskorps wat teen die opbloei van neofascisme gemobiliseer en gestem het, en Macron gevolglik in 2017 en 2022 verkies het, te respekteer en te beskerm.
........

Ten einde is een ding seker: Die sentrum het gevou. Macron se beheptheid met die bourgeoisie se belange – sy eie belange – het hom van sy podium af gepootjie, en sy party gaan Sondag baie setels en afgevaardigdes kwyt wees. Die geskiedenis sal Macron verantwoordelik hou vir die manier waarop hy rojaal misluk het in sy belofte om die kieserskorps wat teen die opbloei van neofascisme gemobiliseer en gestem het, en Macron gevolglik in 2017 en 2022 verkies het, te respekteer en te beskerm.

Die onttroning van Macron is goeie nuus vir ’n groeiende antirassistiese en sosiaal en ekologies verantwoordelike beweging wat veral deur jongmense ondersteun word; ’n jonger generasie wie se toekoms deur hierdie waterskeidingverkiesings bepaal sal word.

Die slegte nuus is dat die RN, met die party se nuwe, “effe minder rassistiese” baadjie, hul hoeveelheid setels in die parlement kan verdubbel – teenoor agt setels in 2017 en 89 in 2022 – ’n geleentheid wat Macron pens en pootjies aan ’n party met Nazi-geraamtes oorhandig. Ja, die einste Macron wat homself as die beskermer van die Europese Unie aangestel het.

  • 1

Kommentaar

  • DAVID WILLERS

    Eersteklasartikel. Na die uitslag van gister se tweede rondte is dit die tweede scenario wat plaasgevind het... maar miskien te suksesvol. Die RN is nog steeds die sterkste party, maar nie in die regering nie. Die linkse/groen taktiese vleuel het beter gevaar as wat verwag was. Macron se "centre" het heeltemaal verbrokkel. Daar bestaan nou die gevaar van 'n ekstreem linkse parlementêre magsgryp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top