
Foto: Canva
Loopgraaf
Ek sit op Ouklip se muur
en tuur oor die vallei voor my –
’n plek van geheime,
heimwee en trane,
soos heilige grond.
My binneste raak stil.
Ek hoor die gefluister
van die verlede wat seer
binne my kom lê.
Voor my geestesoog sien en hoor ek
manne se krygsdans,
hul oorlogskreet
bulder en eis bloed –
die dood
van die vyand –
vir volk en vaderland.
Die oorlogsveld is oortrek van die reuk
van bloed, stof en geweld.
Vlymskerp swaarde sny diep,
trek die dood.
Die soldaat se liggaam ruk
soos die koeëls
nog ’n mens se siel eis.
Soos die engel van die dood
in my oor fluister,
sien ek die soldaat
wat alleen sterf.
Met sy laaste asem
smeek sy siel om verlossing –
vir volk en vaderland.
Hier op Ouklip se muur
bied ek eer en respek
vir dié wat alleen
in ongemerkte grafte sterf
vir volk en vaderland.

