LitNet Akademies: Helené van Tonder gee haar mening oor die veelduidigheid van tekste

  • 0

Helené van Tonder reageer op die artikel “Oor die veelduidigheid van tekste” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Bernard Lategan.

Met die lees van Lategan se artikel het ek opnuut stomgestaan voor die wetenskap wat my altyd op my knieë hou (nederig én biddend): hermeneutiek. Die verskillende hoeke waaruit Lategan hermeneutiek benader (taalkundig, literêr-teoreties, historiografies en filosofies), belig weer die beduidende invloed wat die prosesse van sin maak waarin ons ons konstant begewe, het op die wêreld waarin ons (dink ons) leef.

Nêrens ontsnap ons hierdie prosesse nie: nie as ons praat nie, nie as ons sms nie, nie as ons tweet nie, nie as ons fliek nie, nie as ons musiek luister nie, nie as ons gedigte skryf nie, nie as ons romans lees nie, nie as ons stories oor gister vertel nie, nie as ons treur oor wat en wie verby is nie, nie as ons ’n toekoms daarstel nie, nie as ons ’n godheid omskryf nie, nie as ons tot ’n God bid nie.

Lategan se veelkantige bespreking van tekste (ook die lys hier bo is voorbeelde van tekste) maak alledaagse goed opnuut kompleks. Dis nie asof ons nié voortdurend interpreteer en uitlê en tot gevolgtrekkings kom nie. Dis net dat ons dikwels vergeet dat ons besig is om dit te doen, of dat ons dit net sowel anders sou kon doen.

Soos Lategan tereg uitwys, is die veelduidigheid van tekste inherent deel van tekste/taal. Dis net meestal te veel moeite of te ontwrigtend om met veelduidigheid te reken.

Ek self is hoofsaaklik geïnteresseerd in die veelduidigheid van tekste gesien vanuit ’n historiografiese hoek. In dié verband ontbreek daar ’n belangrike teks van Ricoeur in Lategan se artikel.1 In Ricoeur se Memory, History, Forgetting (2004) gee hy ’n gesaghebbende oorsig oor historiografie. Hy doen dit in drie dele (soos deur die titel aangedui) wat geskiedenis/geskiedskrywing onderskeidelik vanuit ’n fenomenologiese, epistemologiese en hermeneutiese oogpunt bespreek.

In die eerste deel plaas Ricoeur baie klem op die vreemdheid en verwyderdheid van die verlede (soos ook Lategan na verwys) en die feit dat ons alleen deur middel van ons kwesbare en feilbare geheue toegang tot die vreemde verlede het.

Verder argumenteer Ricoeur dat die manier waarop ons die verlede bereik, dieselfde is as die manier waarop ons fantasiewêrelde betree: deur middel van beelde wat ons oproep. Hoe is dit dan moontlik om te onderskei tussen geheue en verbeelding? Hoeveel van wat ons dink ons van die verlede onthou, verbeel ons ons eintlik? Ten spyte van sy oënskynlik skeptiese siening van geheue, voer Ricoeur egter aan dat ons niks anders as geheue het nie: al is dit al wat ons het, het ons dít ten minste. Daarom moet ons dit gebruik. So laat ons onthou!

In die tweede deel bespreek Ricoeur die aard van historiografiese kennis en die betroubaarheid daarvan, al dan nie. Hy verduidelik hoe geskiedenis as kennis ontstaan vanaf individuele getuienisse van mense wat daar was en onthou, tot die samestelling van ’n argief, die gebruik van die bronne in die argief, die vraagstelling aan bronne en die daaropvolgende antwoorde wat in die argief gevind word, die verklaring van geskiedenis, en die uiteindelike skriftelike representering van die verlede as geskiedenis.

In die derde deel word historiografie vanuit ’n hermeneutiese oogpunt benader. Ricoeur stel die hermeneutiek van geskiedenis as die voorwaarde vir die bestaan van die fenomenologie en die epistemologie van geskiedenis (soos hy dit in die voorafgaande gedeeltes bespreek). Die voorwaarde vir die bestaan van ’n historiografiese diskoers is die geskiedkundige toestand2 waarin ons bestaan. Die hermeneutiek van geskiedenis is derhalwe ’n poging om hierdie toestand te begryp.

In hierdie deel tref Ricoeur ’n vergelyking tussen die werk van ’n geskiedskrywer en die werk van ’n regter, wat van belang is vir die verstaan van die veelduidigheid van tekste vanuit ’n historiografiese oogpunt. Bewus van die problematiek van objektiewe of absolute kennis waarmee ook geskiedskrywing gekonfronteer word, vra Ricoeur watter posisie die geskiedskrywer dan inneem. Is sy/hy ’n onpartydige buitestander? Indien nie, aan wie moet ons dan die taak van geskiedskrywing toevertrou? Is daar ’n derde party wat buite geskiedenis staan en ’n objektiewe, inklusiewe weergawe van die veelsydige gebeure van die verlede kan neerpen as ’n reglynige, niedubbelsinnige teks? Hierdie droom van geskiedenis is waarskynlik die droom van ’n eenduidige (in teenstelling met veelduidige) weergawe van die verlede. En so ’n weergawe is haas onmoontlik, soos duidelik uit Ricoeur se bespreking blyk.

Sy vergelyking van die geskiedskrywer en die regter is bruikbaar vir die bespreking van die veelduidigheid van tekste, omdat dit aandui hoe geskiedenis (anders as die reg) nie ten doel het om oordele te vel en gebeure uit die verlede af te sluit nie. Die regter word, soos die geskiedskrywer, gekonfronteer met verskillende en teenstrydige weergawes van dieselfde gebeure. Daar word met moeite en deeglikheid ondersoek ingestel na die betroubaarheid van getuienisse. Vir die regter én die geskiedskrywer gaan dit om waarheid en geregtigheid. Die regter het egter die taak om die waarheid te soek en dan ’n oordeel daaroor uit te spreek wat lei tot die uitvoer van sekere stappe van geregtigheid. Die regter sluit dus ’n hermeneutiese proses af. Die geskiedskrywer, daarenteen, breek weer en weer hermeneutiese prosesse oop. Die geskiedskrywer spreek nie oordele uit op grond van bevindings nie, en geregtigheid geskied nie deur middel van straf of kompensasie nie. Vir die geskiedskrywer is die geregtigheid die uitwys van veelkantigheid en die skep van nuwe moontlikhede van verstaan. Ricoeur (2004:320) argumenteer dat die werk van die geskiedskrywer voortdurend onderwerp word aan die “corporation of historians and to the critique of the enlightened public” en onderworpe is aan die “unending process of revision, which makes the writing of history a perpetual rewriting” (320). Die bereidwilligheid om geskiedenis te herskryf is die belangrikste verskil tussen die werk van die geskiedskrywer en die werk van die regter; soos Ricoeur sê: “[T]he judge closes circles, the historian prises them open again” (321). So ’n benadering het nie ruimte vir eenduidigheid nie.

Dalk dra hierdie vergelyking van Ricoeur by tot die afbreek van die negatiewe assosiasies wat met die veelduidigheid van tekste gepaard gaan (soos Lategan in sy laaste afdeling noem)? Ek hoop so.

Bronnelys

Ricoeur, Paul. 2004. Memory, History, Forgetting. Vertaal deur Kathleen Blamey and David Pellauer. University of Chicago Press: Chicago en Londen.

 


Eindnotas

 

1 Ek waag dit om hierdie kritiek uit te spreek omdat Lategan self van Ricoeur gebruik maak. Daar is waarskynlik baie ander tekste wat die moeite werd is om te noem in so ’n repliek waarvan ek eenvoudig salig onbewus is.

2 Ricoeur noem dit “the historical condition”.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top