
Lewendige onderhoud met Afrikaans
(Ligte kom aan en die kamera rol). Dankie, vir u tyd, Afrikaans. Vertel ons asseblief ’n bietjie meer van u self?
Goeiemôre, goeiemiddag en goeienaand! Ek is Afrikaans. Bly te kenne. Jy wil hê ek moet ’n ou ietsie oor myself neerpen? Waar sal ons begin? Seker maar beter as ’n mens by die begin, begin (knipoog vir die joernalis, blaas ’n soentjie uit oor die gehoor se gejuig). Allamagtig, dankie julle!
“Die enigste rede hoekom my voorvaders bestaan het, was om geboorte te gee aan MY. (Die skare besef die ergens van die gesprek en raak stil). Ek beskryf die eerste asemhaling wat die baba neem en die laaste uitblaas van die mense van Afrika, en soms elders. (Groot handeklap). Ek styg hoog bo die lug van Kaapstad se berg en gaan daal saggies op die boer se gebed vir reën in die droë Kalahari. (Die skare se kopknik al te wetend). Ek maak die seer weer reg vir die kind wat val in Kimberley en sy ma wat hom vertel dat alles goed sal wees. (Iemand fluister, “moet dit nie OK wees in plaas van goed nie?”) Ek groei in gebruik en beskrywing van nuwe dinge soos tegnologie en wetenskap, maar vergeet nimmer as te nooit my herkoms. (Die stilte van die skare raak tasbaar.) Ek word vasgepen in die kunstenaar se woorde as sy haar stem mooi maak in die teater. (Die tannie met haar swart hare en rooi bloesie begin ongemaklik rondskuif.) Ek hardloop saam met die wenner wanneer hy oor die wenstreep hardloop. (Die skare kry weer lewe.)
Ek ken geen grense, maar my hart lê in Afrika waar my kerfstok soms belas word met nuwe woorde, nuwe dinge. (Die skare beaam. Taxi, garage, computer.) By die berge van Natal kan jy my soms hoor weergalm. (‘n Klein seuntjie skreeu “uit die blou van onse hemel” uit volle bors, die skare lag.)
Ek bevind my tussen die howzit en kwaai van die jeug. (Van die jeug kyk op van hulle telefoon se skerm... LOL tik hulle) Tussen die jakarandaboom se pers blare wanneer die studente eksamen skryf, kan ek partykeer die opgewondenheid van studente hoor, wanneer hulle my gebruik om vir hulle toekoms vas te pen. Ek lag soms wanneer ek gebruik word om die hond uit die huis te jaag, maar raak ook soms baie hartseer as ek haatspraak moet speel vir iemand. (Die skare beweeg al nader.) Ek staan soms verbaas wanneer die dokter die pasiënt se lewe moet red en my gebruik om die verpleegspan aan te moedig met wat volgende moet gebeur. (“Ahhhhh,” sê iemand uit die skare.) Ek staan vir niks terug nie. My vlerke versprei regoor die wêreld en was al in al die lande van die aarde. (“Ons het familie in Australië!” skreeu iemand). Ek verskaf jaarliks vir derduisende werk en hoop. Ek sê dankie wanneer iemand ’n minderbevoorregte aanmoedig om weer te probeer, net dié keer. Ek kan vereenselwig met koninklikes, maar kan ook die blommeverkoper se geskreeu vir verkope verbeter vir die aand. Die naggeluide wat ek maak dra ’n draai om die sterre en ek weet dat ek nog vir baie lank gaan bly lewe.
(Die skare staan op en juig.)

