Beantwoording van Jan Rap se brief. Oor taal is ek altyd ernstig; ek maak nie grappies nie. Enige taal se woordeskat, en ook dié van Afrikaans, is drieledig.
Eerstens is daar die erfgoed (wat Afrikaans betref, woorde uit 17de eeuse Nederlands.)
Dan leengoed om aan te pas by die tyd en omgewing. Afrikaans het ’n magdom woorde uit Engels, Nederlands, Duits, Frans, Hottentots, Maleis-Portugees, Sotho/Zulu/Xhosa. Daagliks kom nog nuwe woorde by, meestal uit Engels wat netso gebruik word, óf die woordvorm word behou, maar anders gebruik, óf dikwels word die woordvorm verafrikaans. Soms raak van hierdie woorde weer in onbruik wanneer ’n geskikte woord in Afrikaans, (as neologisme), gevind word. ’n Voorbeeld: komper of komputer (leenwoord), word uitgedruk deur rekenaar (neologisme). Om te sê leenwoorde beslaan ’n klein persentasie van die Afrikaanse woordeskat, sal maar net ’n raaiskoot wees.
En dan eiegoed of neologismes. Dit bestaan hoofsaaklik uit woorde wat doelbewus deur gebruikers van die taal geskep word. Bestaande woordmateriaal word gebruik om ’n afleiding of samestelling te maak. Soms het die nuwe woord soos veldbrand versprei, soos vuurhoutjie (Lucifer) of Fanus Rautenbach se bromponie. Soms het dit egter gesneuwel soos knormoer kan getuig.
Wat sintaksis betref, het Afrikaans maar Nederlands gebly, maar ander tale het dit wel effens laat verander. Veral in die vormingsjare van Afrikaans het Hottentots ’n groot rol gespeel. Die invloed van skole met Nederlandse onderwysers was maar gering, en die kinders het op plase maar meestal Hottentotkinders as speelmaats gehad. Toe mense hulle oë uitvee, toe praat hulle anders as hulle Nederlandse vriende oorsee. Die eerste keer wat hierdie nuwe taal opgeteken is, is met die verskyning van Meurant se bekende Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar in Het Kaapse Grensblad. Hierin het hy doelbewus die Boer se taal probeer weergee. Daar is taalkundiges wat beweer, omdat Afrikaans ’n deflekterende taal is, en o.a. die genitiefvorm verdwyn het, die “se”-vorm in Afrikaans Hottentotse invloed is. (vgl. Die kind se ouers, ens.) Engelse invloed kan veral in Afrikaanse woordorde opgemerk word, (ten spyte, of dalk te danke aan Jan Rap se My pen is in my hand.) Dan is daar Engelse idiomatiese taal. Selfs ’n man soos Jan Rap praat van tong-in-die-kies.
Ja, ek dink ook F Marx het sy stukkie geskryf, met die tong in die kies, maar dit was hoofsaaklik maar bedoel om Jan Rap se been te trek. F. Marx sal vinnig sy tong uit sy kies moet haal, want sy geskrewe paragraaf is nader aan moderne Afrikaans as wat Jan Rap dink. As dit gatlektaal is, soos Jan Rap dit beskryf, dan is Afrikaans besig om ’n gatlektaal te word, want hierdie gatlektaal kommunikeer baie beter as die neusoptrektaal wat Jan voorskryf. Ek kan nie onthou dat ek F. Marx se skrywe bepunt het nie. Ek sou in elk geval nie vir taalkunde 0% gee nie; dis dan taalkundig korrek. Dis grammatikaal korrek en strook met Afrikaans se oppervlaktestruktuur.
Wat jou treinspooranaloog betref, wat beteken : “die aanpassing is in lyn met die sleutel van taal”? Van watter aanpassing praat jy, en watter sleutel? Vir my is die analogie onvanpas, tensy jou trein die omgewing se plantegroei haak en saamsleep.
Leenwoorde uit ander tale en neologismes is absoluut noodsaaklik vir enige lewende taal. Dis ook noodsaaklik vir Afrikaans, anders sal Afrikaanssprekendes nie kan saampraat op bv. politieke , ekonomiese en wetenskaplike gebiede nie. As Afrikaans nie gedurig nuwe woorde bykry nie, sal hy nie by die moderne lewe kan aanpas nie. Jy wil hê Afrikaans moet op alle gebiede gebruik word, maar dis onmoontlik met die taal wat Meurant opgeteken het.
Een ding is seker: nie ek of jy of professor wie-ook al kan iets doen aan die rigting wat Afrikaans inslaan nie. Kom ons veronderstel dat daar êrens ’n Big Brother sit wat dit wel kan doen, soos in George Orwell se “1984” met Newspeak, dan sal Afrikaans ’n taal word wat net in die huis gepraat word. Uiteindelik sal dit dan ’n vroeë dood sterf, soos dit in Argentinië uitgesterf het.
Ek sien jy kla omdat Afrikaans altyd aan die agterspeen suig. As jy jou sin kan kry, en alles uitroei wat dan nie suiwer Afrikaans is nie, sal Afrikaans weldra geen speen hê om aan te suig nie.
Groete
Angus


Kommentaar
Angus, jou verduideliking van komper is nie reg nie. Sanlam was die eerste maatskappy in Suid-Afrika wat met rekenaars begin het teen 1957. Toe was die maatskappy nog Afrikaans (niks in Engels mag aan die direksie voorgelê gewees het nie) en 'n computer is van die eerste dag af 'n rekenaar genoem. Die komper benaming het by Die Burger ontstaan en was 'n kunsmatige skepping, wat hulle vir 'n paar jaar erg probeer stoot het, maar dit wou net nie posvat nie.
George
Beste George