Ek sien hom gewoonlik hier teen Vrydag laat. Of vroegaand moet ek sê. Kort voor toemaaktyd. Ek ken hom maar as Jakob Regop. Wel, omdat ek mense altyd eers goed beskou is die eerste indruk blywend. En Jakob is altyd regop moet ek sê. Al het hy homself hier teen halfnege op 'n Vrydagaand slim genoeg gedrink om lank te filosofeer oor goete waarin ek geen belang by het nie.
Hy praat altyd so herhaal-herhaal:
"Meneer, meneer, sal meneer vir my een van meneer meneer se blikkies blikkies van daai lekker lekker ruik spray aangee, asseblief, asseblief?"
"Is die Chase die ding of soek jy Mum-for-men?"
"Nee ekke weetie meneer meneer, ek soek vir die vrou. Sy wil lekker ruik moreoggend as sy uitgaan. Uitgaan."
"Hierdie goed ruik lekker meneer meneer."
"Ek’s nie 'n meneer nie, ou maat, ek’s maar net oester, ok?"
"Dis reg, meneer, meneer het jy nie van daai lekkerruik vaseline nie?" en ek gee vir hom 'n bottel Newden pink Petroleum jelly en hy ruik daaraan en ek sien hoe hy boontoe kyk. En ek wil my nie indink nie. Want ek ken sy mammie en ek weet sy is ten minste drie groottes groter as hy as hy al sy kos opgeëet het.
Ek kyk na sy harde plaaswerkhanne en ek sien hoe hy onvas die los rande uittel. Want as jy stompe het vir vingers gaan dit maar moeilik soms. Hy sukkel 'n tweerand uit en vra vir 'n entjie en 'n boksie metjies en ek staan geduldig en wag tot hy hom aangesteek het want ek sien hier kom 'n ding. Hy beginne praat oor vroulief. Ek vra hom hoe dan nou en hy beduie my hoe lief hy haar het. Maar ... (en dit is sielkundige -/pasiëntvertroue) en ek loop haal my glas van Paul Marais se droë wit wat in elk geval staan en warm word onder die ys. En ek luister.
Hier stap 'n jonge dame in en sy vra vir haar gewone Priceton rooi en Lekkerruik Vaseline vra vir haar of hy nie maar 'n geleentheid kan kry nie. Hy gooi flikkers by haar en ek bekyk hom hoe hy probeer vat-vat hier waar dit saakmaak en sy skerm weg en looi hom met 'n: "As jy weer vat gaan jy kak optel," en hy beduie dat hy bloot net 'n geleentheid soek huis toe. Sy beduie dat daar nie plek innie kar issie en ek sien die agtersitplek is leeg maar dis nie my plek nie.
"Ja, maar ek moet al die pad plaas toe stap," hoor geen oor nie.
"Jy het gewiet hoe om hier te kom en ek sien jy is lankal blink gedrink. As jy wil saamry dan klim net jy in. Daai kan los jy buite."
"Toemaar, ek is orraait, julle is in elk geval deesdae alte wit noudat julle rygoed het. Ek gaan maar hier met oester staan en gesels, ry maar." En toe hulle so wegry beduie hy: "Ry julle binne in djulle se moere in."
Ek het my glas loop volmaak want as jou laaste klant op 'n Vrydagaand so iemand is laat jy hom nie los voor hy nie baie meer gepraat het nie.
oester

