Langtiekie

  • 1

Ek het die eerste keer geleer om ’n lang tiekie te gebruik doerie jare nog as arm student. Want dis die dae toe jy nog iets kon koop met ’n vyfsent en ’n tiensent vir jou lang gesprekke kon waarborg met ’n meisie ver van hier. Toe leer ons om die tien sent en die garingdraadjie en die masking tape te gebruik: Jy het die tiensentstuk met garingdraad ingegooi tot jy voel hy steek vas en dan het jy hom teruggetrek en laat val soos die gesprek gevorder het. En so het jy gepraat tot haar pa die foon doodgedruk het. Ek het nog ’n paar van die ou fone en die nuwe slimfoon generasie verstaan nie lekker hoe mens gebel het deur ’n ronder gedoente te draai nie.

Ek verduidelik vir die klogoete hoe jy later blikners op die koue teels gesit het en later, as dit nanag was, opgekrul in die oranje tiekiebokse gesit en vry het. Want vry oorie foon het ons mos maar gedoen. Later, as die koue deur jou bene begin dring het en jou tanne geklapper het is die koebaaiproses lank en aanhoudend uitgerek: "Sit neer" "Nee, sit jy neer dan sit ek neer" en so is die gesprek vir minute afgesluit. En aangehou.

Later in PW se army het ons mos die ou R1 stuk gebruik as langtiekie. Ek onthou die lang toue by **SAI en die gevloek en skel tot jy later maar die ou R1 gebêre het vir die laatnag en nanag se stille romanse. Want ons was gelukkig genoeg om ’n ou Poskantoor man in ons Bungalow te kon hê en sy spesialisveld was hoe om tiekiebokse te jippo. Jy het mos die ou R1 muntstuk ingegooi en dan die knoppie gedruk tot jy die piep hoor en dan het die foon die R1 geregistreer en basies uitgeskop en jy kon die proses herhaal tot die punt waar jy tot vandag toe kon praat as dinge nie so digitaal geraak het nie.

En nou is dinge digitaal en jy kan nie ’n knoppie druk sonder dat iemand iewers in ’n helder verligte kantoor iewers in ’n straat sonder ’n werklike naam in ’n gebou wat grys en grou en met ’n nuwe naam pryk weet presies wat jy gedruk het en vir wie jy gedruk het nie. Want ek sit en ek dink terug aan die dae van lang tiekie s... Langs lang koppies koffie in ’n kamertjie in ’n lang gang hoor jy die gelui en iemand antwoord tog mos maar altyd. En jy hoor jou stem want dis sy of dis jou ma of dis iemand. En jy hardloop want jy wonder wat by die huis aangaan en jy hoop dis sy en jy weet tog dat sy die een of ander tyd gaan bel en dat sy weet jy het ’n lang tiekie om mee te bel.

Ek sien Telkom kom haal nie meer geld uit die tiekieboks uit nie. Want niemand bel meer op die ou manier nie. Niemand stap meer laataand in die koue om gou vir iemand te loop hello se nie. Selfs die liggie wat net die dials belig het word nie eens meer vervang nie. Want ons het almal so digitaal geraak dat ons vergeet het hoe lyk ’n tiekieboks. Ons praat soveel dat ons vergeet om te gesels. Ons luister nie meer in die nanag nie, ons dink iemand gaan luister na ons.

Ons het so belangrik geraak dat selfs Facebook en Twitter die plek van lang gesprekke ingeneem het. Ek sit voor my vuur met mense wat naby my moet wees en hul fone bly lui. Ek vra of hulle Mixit en hulle beduie nee hulle BBM en ek vra wat dan nou die verskil is en hulle sê mens moet geinvite word en ek sit en dink hoe ongelooflik vinnig dinge verander het sedert ek laas nog mens was. Want daar is deesdae nie eens meer knoppies nie maar net suggesties van knoppies.

En skielik verlang ek na die egtheid van die Tiekieboks en die langtiekie al was dit onwettig. Want jou hello was hello en jou koebaai was koebaai. Jy moes moeite doen om iemand te loop bel en kon nie in ’n geselskap sit en chatroom terwyl die lot van die mensdom of die bestaan van die gode op die spel was nie. Want ek sien mense en hulle swymel oor die vuur en die maaltyd maar ek sien hulle koppe is eintlik by hul 'Berries en ek besef dat ek eintlik moer baie uitmis wat tans op sosiale gebied gebeur.

Sy bel my die volgende oggend en huil oor die boodskap wat sy via Twitter gekry het en ek sê vir haar sy moet kom sit lat ons kan praat om ’n dop en ’n lang glas en ek wonder: As tegnologie mens se lewe so maklik gemaak het, waar de hel het ons verkeerd gegaan?

oester

  • 1

Kommentaar

  • Oester,

    In die 1970's was my skoonsuster se broertjie 'n leerlingtegnikus by Telkom (of watter naam ookal hulle destyds gebruik het). Hy het ook die langtiekie geken en gebruik.

    Die telefoonowerhede het egter metodes ontwikkel om dit op te spoor, seker deur 'n verdagte telefoonhokkie te monitor.  Eendag toe hy nog lekker staan en bel met sy langtiekie, kom staan 'n tegnikus agter hom en trap hom uit. Hy is departementeel aangekla en het byna sy werk verloor. Later het hy hoë ingenieurs kwalifikasies behaal by die Technikon.

    Ongelukkig is hy 'n paar jaar gelede oorlede. Het hom letterlik doodgedrink. Destyds het hy nog nie gedrink nie en was hy 'n briljante student.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top