Laf-verlief-verlore
Ek’s laf-verlief-verlore
soos nog nooit nie vantevore
Ek's been-af op die allermooiste nooi
Ek wil nie graag so wees nie,
maar niks kan my genees nie
my hart galop my ore gloei bloedrooi
As ek aan haar ’n woord wil rep
verstar my strottehoof se klep
my tong slaan teen my onnertanne vas.
’n Koorsigkiem het my bespring
ek dink dis in my harsings in
my ribbes druk my hartslag skoon uit pas.
Ek wil haar as my meisie hê
maar kry dit nie vir haar gesê
my tong is dik my woorde krom en skeef.
My hart wat in my ore klop
laat droog my laaste woorde op
my knieë knak my kennebak die beef.
As ek tog maar die weg kon ken
te volg dat ek haar hart kon wen
verseker sal geen mens my dan kan keer.
Dan stoei ek met ’n seekoeibul
en klap ’n leeu se brulbek stil
dan vat ek haar en los haar nimmermeer.
![]() |



