KZ Mauthausen

  • 0

Ons is vier mense in 'n motor op toer in Oostenryk. Ons ry oos langs die Donau. Die eerste mikpunt is die Klooster by Melk, soos uit die rolpent The Name of the Rose, en daarná kom Wenen met die vooruitsig om Sachertorte in sy oorspronklike tuiste te kan eet. Ons toerbeplanner kyk op haar horlosie. Ons het nog tyd en ons is naby Mauthausen waar 'n groot konsentrasiekamp van die Tweede Wêreldoorlog as museum behou is. Sien julle kans om te gaan kyk?

“Ek sou nogal graag wou sien, weet jy?” sê die toerbeplanner se suster. “So baie gelees daaroor en ek sal vir myself wil sien: Kan soveel wreed dan daar wees?” Duitse burgerskap was vir die susters so onlangs as hulle oupa Ernst. Ek en my vrou verwag dit sal skokkend en selfs grusaam wees, want so is ons oor Nazi-kampe gekondisioneer. Tog probeer ek onthou: Rooikappie sonder die wolf is net 'n dogtertjie wat nie na haar ma se waarskuwings geluister het nie.

Die ingang na die Mauthausen-kamp is 'n groot boog met 'n dubbele houthek in 'n grimmige netjiese muur van granietklip. Die Nazi-embleem van die arend wat bo die hek in yster gemonteer was, is deur die vrygelate gevangenes afgebreek, aldus die pamflet. Ek wonder daaroor, want die bevryders was Amerikaanse soldate en kyk wat het hulle alles uit Bagdad weggedra! Vandag is daar geen gevangenes nie, geen bewaarders nie en min besoekers, maar ek kan sien dat die ander twee toerlede hier weens hul Duitsheid aan die skuldkombers wil help abba.

Anderkant die hek is die voorplaas wat die inligtingspamflet as die "SS garage yard" beskryf. Himmler het hier in April 1941 met 'n kavalkade Mercedes Benze kom parkeer vir 'n inspeksie van die kamp. Dis 'n grou beklemmende reghoek van graniet met trappe na die hoër vlak waar gevangenes aangehou is. Ons volg die pad – om met elke tree te voel ons word gevangenes wat hier afgelaai is en ingeja word. Of die ander twee weens hulle Duitse wortels soos bewaarders voel, weet ek nie. Ek en my vrou laat hulle op hulle eie rondkyk sodat hulle in privaatheid hulle gevoelens kan konfronteer.

Na links loop die pad na die granietgroef, die Wiener Grabe. Die graniet is gebruik om die strate van Wenen te plavei. Na regs is nog 'n poort en wagtorings voordat ons die aller-onheiligste kan betree: die gevangenekamp. Die gevangenes moes destyds eers na 'n area binne die kamp vir kwarantyn gaan waar hulle gestroop, ontsmet en kamp-gereed gemaak is. Jode, Pole, Tsjegge, Spanjaarde, prostitute, homoseksuele en politieke gevangenes.  Iemand wat die kamp gebou het, was trots op sy werk, dink ek, want die hekke is van die mooiste glimmende hout met versierde panele en ysterbeslag. Die twee wagtorings het dakkies wat hulle soos pagodas laat lyk. Sou 'n gevangene dit opgelet het? Dalk het dit  hoop op goeie behandeling laat opvlam?

Kan 'n mens argumenteer dat die kampe aanvanklik korrek en regverdig bestuur is en dat dit hoe later hoe erger geraak het; toe Duitsland die oorlog begin verloor het, die kampe oorbevolk en die kos min geraak het en gevangenes noodwendig laaste in die ry moes staan? Anderkant die mooi deur was daar bewyse wat antwoorde in vrae verander.

Voor ons: 'n Lang geplaveide paradegrond, skoongevee. Net ons en ons gewetes en ons verbeelding bevolk dit met: “Wat?” Die clichés van boeke en rolprente? Niemand skree: “Achtung!” nie. Niemand staan op appèl en antwoord op hulle name sodat vasgestel kan word wie van die uitgeteerde gevangenes vanoggend nié aangetree het nie. Aan die linkerkant is die barakke, 'n lang ry hout bungalows van groen geverfde dennehout met wit vensterrame. Aan die regterkant is die hospitaal, die eetsaal, en in die kelder, die gaskamers en krematorium.

Op pad na die granietgroef toe is daar eers 'n “klaagmuur” met die name van baie gevangenes. Baie Poolse name. Daar is 'n hele paar gedenktekens en beelde ter herdenking op pad na die “Trappe van die Dood”. Die 186 trappe van die dood swenk afwaarts na die vloer van die granietgroef. Die gedenksteen vertel dat die gevangenes met blokke graniet van tot 50 kg op en af moes hardloop om die bewaarders te plesier. Vir nog meer vermaak is die boonste ry omgestamp wat hulle met 'n domino-effek almal teen die trappe laat aftuimel het.

Tot so ver het nie een van ons nog 'n foto geneem nie.

Dis 'n mooi oop dag, maar somber vra hierdie museum en somber kry hy uit sy besoekers. Ons is terug by die barakke; die groen houthuisies met die wit venstertjies. Binne is die beddens soos rakke teen die mure gebou en in die middel van die vertrek staan twee ronde wastrôe wat soos voëlbaddens lyk.

Buite sluit ons vier weer bymekaar aan. “Lyk hierdie huisies met die wit venstertjies nie vir julle ook soos vakansiehuisies nie?” vra ek.

Die toerbeplanner reageer asof my woorde die naald is wat al haar opgehoopte emosies oopsteek. “Hoe kán jy so iets sê! Is jy besimpeld? Weet jy hoeveel mense is hier in jóú oulike huisies doodgemartel!”

Ek weet. Sowat 150 000? Ek weet ook dat hierdie kamp sonder mense stil, roerloos en onskuldig staan.

Toe die wolfin die storie van Rooikappie vir háár kinders voorlees, was hulle baie hartseer omdat Rooikappie en die houtkapper die wolf se maag oopgesny en vol klippe gemaak het, wat hom in die rivier laat verdrink het. “Hoe kon hulle so wreed wees met ‘n wolf wat maar net gedoen het wat wolwe moet?”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top