Kuberruim

  • 0

Jy met jou netwerk van ondergrondse optiesevesel- en koperkabels,
laat my met mense ver kommunikeer.
Jy laat met jou skakels, beelde, dokumente en vele dinge meer
toe om op webdieners se blaaie te lees, baie waarheid, baie fabels.
Als met behulp van hiperteksoordragprotokol.
Maar snaaks dat ek voel dat daar êrens iets lol.

Duisende virusse in ons kuberruim.
Ontruim, ontruim, sonder versuim!
Jy ontneem my my samesyn.
Jy belemmer my geheue,
terwyl jou gemorspos aan my neul.

Jy’s ‘n siellose monster
en ‘n tegnologiese wonder.
Jy laat my dinge soek waaraan ek nie dink,
speel met my konsentrasie, dis waarvan ek jou verdink.
Ek haat jou outomatiese korreksie 
Danksy jou is ons ‘n ADHD-nasie met disleksie.

Mense raak verslaaf aan die wêreldwye web
met hul boude vasgegom aan ‘n stoel, dis ‘n set.
Vir alles word jy gebruik,
Jy het die naslaan in geskrewe woord gefnuik.
Selfs my woordeboek is aanlyn, 
wat deur behulp van my toetsbord verskyn.

‘n Laggende gesig duik op met liggies soos ‘n dobbelhuis,
Ek weet nie hoe om jou te stop nie en druk op jou, per abuis.
My optiese aandrywer, intern en ekstern,
is deurmekaar, maak geraas, iets blaas met ywer.
Toe sterf my moederbord, klankkaart en skerm.
Ek is lus en slaan jou met my nr 3-drywer.

Alles is verbind aan mekaar
en tog raak niemand aan mekaar.
Dis gesigboek en daai voëltjie-ding,
my spasie, maar skakel gerus in.
Dis my buis, vierkantig,
die kinders raak parmantig.

Wat is aan die gang en vibreer. 
My kop draai al en raak seer.
Te veel om op te noem,
met party het ek myself versoen.

 

Ek soek ‘n pen en ‘n papier.
Ek verkies jou stem
bo die agtergrond van my gekose muur.
Ek voel beklem en vreemd ontstem.
Mense sal my noem uit die oude doos
maar êrens, iewers, voel my siel beroof.

Net soms wil ek nog ‘n ware brief hê,
een wat ek kan koester,
in my bêre-boks weg kan lê
soos ‘n pêrel uit ‘n oester.
Nie in my wolk moet stoor
waaraan ek nie kan vat en voel en hoor.

‘n Sagte aanraking 
in plaas van ‘n emosie-ikoon.
‘n skêr en karton, sny uit die kakkerlak
in plaas van sny en plak.
Ons sintuie vervaag, word vervang,
Alle heil aan die tegnologiese idool.

Elke derde kind by ’n arbeidsterapeut,
goed mevrou, dis nou jou beurt.
En daar sit ons handewringend,
die uitslag: lae spiertonus, oefen fyn motoriese ontwikkeling.
Maar kinders het ophou vroetel en peuter deur simulasie
want die webapplikasies oefen interaktiewe stimulasie.

Hul speel op ons fone, tablette en skootrekenaars.
Dankie tog hul hou hul skaars.
Hul ruk handuit en word gestrem.
En dis ons wat hulle rem
dis onveilig daar buite, 
maak toe die luike.

Sit aan die alarms,
beskerm ons kasarms,
Ons lewens word ingerig vanuit ‘n oogpunt van vrees.
Ja, dis baie erg, sê ons ewe bedees. 
Ons leer ons kinders om op tegnologie te vertrou 
om hul besig te hou.

Met al die webapplikasies 
word ons vervreem van ons naaste. 
met geen ware kommunikasie
maak ons minder op menslikheid staat.
Besef ons ooit die implikasies
van waarmee ons onsself onwetend vul, weblustige sensasie.

Ons woorde word afgekort,
woordeskat het oor die afgrond gestort.
Danksy masjien koppelvlak kompilering van intermediêre tale (MI)
word dinge vir ons gedoen, ons taal outomaties ingevoer 
niks orale of verbale, wat ‘n handige broer.
Mense word vasgevang in ‘n ander wêreld sonder klanke.

So raak ons dom met sosiale omgang.
Party van ons is van geboorte stom,
kan dit bloot net nie doen.
Ek is so en het myself versoen.
En tog is daar duisende wat was
maar stadig verdof het soos die winter se gras.

Ek wil data uitruil
sonder om my siel te verruil.
Sonder die netwerk van riole 
wat my laat voel om te gryp na pistole.
Die verslawende gees
Internet jou bees.

Het ons dan niks geleer,
kan mense nog iets, mekaar, waardeer?
Uitreik na ander
sonder die adverterende brander.
Naasteliefde betoon
sonder die aanvoer van vrees wat om ons woon.

Mense word gebreinspoel,
deur multimediavertoon – dit is so bedoel.
Wat is dan die doel?
Het dit geword, die spoel?
Maar soms is daar ‘n waardige kreet,
Vir www.kony.com wil ons hê.

invisiblechildren.com
Machinegun Preacher

Vir of teen dit weet ek nie,
Jy kan so goed wees, maar die mens die wil nie.
Mens, mense raak al hoe minder
want daar is te veel plekke om te skinder.
Gruweldade deur massamedia uitbasuin
Tot aan die hoogste kruin.

Simpatie, selfs empatie,
word daagliks uitgeroei.
Mense verskeur ‘n siel
en kortwiek ander se groei.
Almal soek ‘n kortpad 
en sien daardeur hul gat.

Maar alles is nie negatief.
My lyn is so vinnig soos donderweer wat klief.
Hier het ek jou dan gebruik om van my woorde te laat rym,
navorsing te doen, maar my dankbaarheid is ‘n skyn.
My opinie van jou is baie stief,
miskien, wie weet, soek iemand dalk, soos ek, ‘n brief.

Maak nie saak nie, hardeware is soos toiletpapier.



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top