Krugerwildtuin, my tweede tuiste

  • 1

Daar is so baie positiewe dinge steeds te sê oor die Krugerwildtuin – vir baie Suid-Afrikaners soos ek is ’n besoek daar soos ’n besoek aan enige geliefde, dit laat jou met ’n gevoel van matelose behae. ’n Sonsondergang in die veld, volop voels en wild, vele toeriste vir wie dit steeds die nommer een besienswaardigheid in Suid-Afrika is ... MAAR:

Dit is die klein jakkalsies wat ons as Suid-Afrikaners raaksien en wat pla. Die kampe is oor die algemeen steeds goed, en ek verwag beslis van niemand meer om die hele dag agter ’n besem deur te bring en te vee, vee, vee nie, maar areas om die restaurante en winkels behoort sekerlik silwerskoon gehou te word. Ek was onlangs in Letaba, Satara, Berg-en-Dal en Krokodilbrug en my ondervinding was dat alles net ’n bietjie moeg lyk!

Die vuilgoed groei welig in die paadjie langs die rivier in Letaba se kamp (vir die laaste jaar al), die draad is lendelam en geroes, die tuinslange word nie meer opgerol en buite sig gebere nie, die bedding voor die restaurant het net een of twee droe plante en is maande laas omgespit, klein papiertjies en stompies laat dit vuil lyk buite die winkel. Oor Skukuza wil ek my nie eers uitlaat nie – dit is die hoofkamp in die wildtuin en moet tog seker die wildtuin se beste beeld uitdra. Dit help nie daar is ’n slinternuwe konferensiegerief maar die restaurant se plaveisel lyk of dit weke laas gevee is nie. Is die heinig langs die rivier se volle lengte al nagegaan om te verseker dat niemand weer daar aftuimel nie? Die kampeerplekke word nie gevee wanneer iemand vertrek nie, met die gevolg dat jy self ’n graaf moet he vir die vorige ou se stormwaterslote, sy stompies en bierblikringetjies en as van gisteraand se braai moet jy self optel voor jy jou tent kan staanmaak. Die seephouers in die badkamers is meesal leeg, so ook die papierhanddoeke.

Personeel het altyd in die verlede uniforms gedra, maar deesdae is daar soveel mense in slenterdrag wat saam met personeellede rondhang (by die winkel, by die garage, by die piekniekplekke, in amptelike voertuie) dat jy nie meer weet wie wie is nie. In Krokodilbrug was die opknapping van die badkamergeriewe in volle gang – wanneer die hekke om 18h00 gesluit is moes ons aan die binnekant van die heining kyk hoe soveel van hierdie werkers, sonder uniform of enige ander identifiksasie bloot aan die ander kant van die heining huis toe stap! Krokodilbrug is ’n toegangshek, die gebrek aan indentifikasie en die groot aantal renosters wat in die suide gestroop word behoort rooi ligte te laat flikker! As gas in die wildtuin wil ek ook nie graag personeel sonder skoene besig met selfoonoproepe sien rondsit nie, en in Berg-en-Dal blyk die badkamer vir mense in rolstoele besonder gewild te wees vir ’n middagslapie!

Ek weet die mense doen hulle bes om die renjaers vas te vat, maar daar is deesdae soveel afleweringsvoertuie, besigtigingsvoertuie en ander wat jaag, dat dit blyk ’n verlore stryd te wees. Dit bring my egter ook by die vele voertuie wat na ure in die park rondry. So dikwels sien ’n mens voertuie wat net voor toemaaktyd uit die kamp vertrek, of sien jy hulle op pad na ’n toegangshek maar jy weet voor jou siel hulle gaan dit nie voor toemaaktyd haal nie. In Shingwedzi was daar ’n familie van 10 in die dagbesoekersterrein wat teen vyfuur die middag nog net begin het om hulle vleis te braai, dit het nie gelyk of hulle oornagbesoekers was nie! In Krokodilbrug het ’n motor met vyf passasiers om eenuur die oggend in die rigting van die personeeldorp gery – waarvandaan??

Wat het van die kampbestuurders geword? Dit lyk vir my al te veel asof daar deesdae baie mense is wat die werk moet doen, maar omdat niemand kyk of die pligte en take deeglik uitgevoer word nie, word daar heerlik slapgele. Dit is nie goed genoeg nie, ek wil graag trots wees op die plek wat vir my spesiaal is, maar hoe gemaak?
Wag jy ook steeds vir jou Wild Card??

  • 1

Kommentaar

  • ou mielieboer

    Suki , ek deel al jou frustrasies en bekommernisse en wonder wie gaan ingryp om die park, wat die pronk-bestemming in SA is, te herstel. Verdere groot bekommernis is die kurkdroë krippe wat jy oral in die veld aantref.  Sekere dierspesies is gebiedsgebonde en hoe moet die diere geen drinkwater verstaan nie?

    Wat van al die windpompe wat geskenk is deur die jare tydens "Water vir wild projek", en glad nie onderhou word nie? Tydens September 2011 kon ek talle voorbeelde net rondom Satara noem.

    Ek hoop Parkeraad skrik betyds wakker voordat dit te laat is.

    Die renosterstropery is 'n verdere massiewe probleem. Baie dankie aan almal wat dit probeer beheer, maar ek voel wetgewing ivm strawwe sal drasties aandag moet kry. Ek hoop ons nageslag sal die genot van 'n spelerige renosterkalfie by sy ma ook kan ervaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top