Kragkapingskos: Jafels

  • 4

Foto: Karen Hart

..........
Ek noem dit nie beurtkrag nie – kragkaping is ’n baie beter beskrywing. Die skielike niks en donkerte grens aan misdadigheid. Ek weet dit klink ’n bietjie kras, maar niemand wat al ’n baba in die donkerte moes bad of kos gee of kinders vroegoggend met skoon gesiggies en vol magies by die skool moes kry, gaan aanstoot neem nie.
............

Ek noem dit nie beurtkrag nie – kragkaping is ’n baie beter beskrywing. Die skielike niks en donkerte grens aan misdadigheid. Ek weet dit klink ’n bietjie kras, maar niemand wat al ’n baba in die donkerte moes bad of kos gee of kinders vroegoggend met skoon gesiggies en vol magies by die skool moes kry, gaan aanstoot neem nie.

Ek het nie babas of kindertjies nie. Vir my is die groot uitdaging om Dillie Dollie, oftewel my ma-met-demensie, besig te hou wanneer die televisieskerm donker en stil word. Die vrou wat eens ’n boek ’n dag gelees het, kan nie meer enige sin daarvan maak nie.

Wanneer dit mooiweer is en in die middel van die dag, kan sy op die stoep sit en ure lank die oranje blommetjies van die Kaapse kamferfoelie tel. Maar dis wanneer dit donker is en sy niks het om haar aandag af te lei nie dat die groot moeilikheid begin  ...

Maar dis my probleem. Die eintlike gedoente waarmee ons almal gekonfronteer word, is hoe om midde-in die Eskom-debakel iets lekkers vir die tafel voor te berei.

Ek beny mense wat só ingerig is dat hulle op die ingewing van die oomblik, of net wanneer die krag afslaan, ’n braaivleisvuur in ’n goed-ingerigte braaikamer of bedekte patio kan gaan aansteek.

Vir ou kampeerders en troue volgelinge van Jan Braai is daar feitlik niks wat nié oor die kole gaargemaak kan word nie – die heerlikste potjies, gestoomde groente  ... selfs lekker gebakte brood en poedings. En burgers wat die kitskoskettinggroepe in skaamte sal laat bloos.

Ek het ’n armsalige ou konkatjie-op-wiele wat ek met groot moeite uit sy stoorplek moet gaan haal en buite op die grasperk moet sleep. Dit kan miskien werk op ’n sonskyndag, en as jy gelukkig is, kan jy darem ’n worsie of ’n hoendervlerkie en ’n braaibroodjie oor die skrapse kole gaar kry.

.........
Gelukkig het ek gou besef ’n gevloek en geskel of ’n Martie Martelgat-houding gaan my niks help teen die hinkepinke reus van ’n Eskom nie. Die ou Bybelverhaal, die gelykenis van die tien wyse en tien dwase maagde, het onwillekeurig by my opgekom. Ek wens ek het hul olielampies gehad, maar by gebrek daaraan sorg ek dat ek in elk geval goed voorberei is.
.............

Gelukkig het ek gou besef ’n gevloek en geskel of ’n Martie Martelgat-houding gaan my niks help teen die hinkepinke reus van ’n Eskom nie. Die ou Bybelverhaal, die gelykenis van die tien wyse en tien dwase maagde, het onwillekeurig by my opgekom. Ek wens ek het hul olielampies gehad, maar by gebrek daaraan sorg ek dat ek in elk geval goed voorberei is.

Ek het ’n wonderlike toepassin ontdek (nee, nie daai een nie) wat my presies sê wanneer die krag afgaan en op hoogte hou van elke Twitter-boodskap van die Stad Kaapstad en Eskom. Die gasbottel vir my drieplaatgasstofie is vol en ek het ’n spaar een net vir ingeval. Ek het genoeg batterye vir my lampies en kerse vir my blakers.

Ek het twee ou asbakstaanders in kershouers omskep en in die ruim ingangsportaal, net onder die swaar ou spieël, staan gemaak. Ek het by ’n weggesteekte winkeltjie twee groot ou kerse opgespoor wat netjies in die houers pas. ’n Bietjie mooi om die swaarkry ligter te maak.

’n Mens moet ook leer om anders te dink. Baie van die geregte wat jy op ’n elektriese stoof en in die oond gaarmaak, kan jy met ’n effense kinkel op die gasplate voorberei.

Juis op die dag toe die krag sou afgaan oor die tyd wanneer jy gewoonlik middagete voorberei, laat weet my broer se jongste hy kom by Ouma kuier. En soos ek nou al tot vervelens gesê het, ek was in ’n vorige lewe seker ’n regte Italiaanse mama wat almal heeltyd wil voer. Eskom gaan niks hieraan verander nie, het ek my voorgeneem.

Gelukkig het ek ook lankal geleer om op my voete te dink en soos ’n wafferse MacGyver planne te maak. Met my drieplaatgasstofie en troue vlamverspreider slaan ek toe daar ’n skottel arroz con pollo aanmekaar wat die engele ’n traantjie laat wegpink en die mense aan tafel stom gelaat het van verwondering.

Twee dae later is dit dieselfde ou storie. Twee en ’n halfuur sonder elektrisiteit, juis in die tyd wat ek middagete moet berei en ’n ou skoolmaat laat weet sy ry hier verby en wil gou kom hallo sê. Toe maak ek my staatmakerpastagereg, dié keer met murgpampoentjies in plaas van die sampioene. Die ge-oe en ge-aa van die mense om my tafel was beloning genoeg en ek het lank en lekker tong uitgesteek vir die kromme ou oupa Eskom.

Wanneer dit sepietyd word in die aand en die TV-skerm swart en stil is, stoot ek my ma se rolstoel tot by die lang tafel in die kombuis. Ek steek kerse aan en tooi die hele plek in ’n sprokieswêreld van flikkerende liggies. Saans soek sy niks meer as roosterbrood met roereier nie – élke aand. Maklik genoeg met elektrisiteit, maar so ’n bietjie meer van ’n uit die boksie dink wanneer Eskom die krag afsit.

Ek smeer twee snytjies brood alkant met botter en braai dit liggies in my riffelpan op die een gasplaat. Op die ander kook die ketel vir ’n lekker koppie rooibostee, en op die derde smelt ek botter in die pan vir heerlike donsige roereier.

My ma sit rustig agteroor, hou elke beweging van my dop tot ek saam met haar by die tafel gaan aansit. Dan smaak daardie broodjie soos koningskos. As my selfoon dit toelaat en mooi vol gelaai is, speel ek vir ons die mooiste musiek deur ’n klein klankversterkertjie. Die maaltyd is eenvoudig en die kerse is doodgewoon, maar die herinneringe wat hier om die tafel geskep word, is van onskatbare waarde.

........
Maar die lekkerste van die kragonderbrekings is dat dit genoeg verskoning is vir jafels maak. Met al die gepreek teen brood en al die ander sondige dinge is dit te lekker om te sê: “Ja, maar Eskom ...” en met volle oorgawe jou tande in ’n lekker boepensjafel in te sink. Dink net aan al die lekker vulsels – jy kan tot ’n soet jafel met ’n melktertvulsel maak!
...........

Maar die lekkerste van die kragonderbrekings is dat dit genoeg verskoning is vir jafels maak. Met al die gepreek teen brood en al die ander sondige dinge is dit te lekker om te sê: “Ja, maar Eskom ...” en met volle oorgawe jou tande in ’n lekker boepensjafel in te sink. Dink net aan al die lekker vulsels – jy kan tot ’n soet jafel met ’n melktertvulsel maak!

My gunsteling bly steeds ’n kerriemaalvleisjafel, die lekkerste trooskos wat jy jou kan indink. En, glo my, met Eskom en die koue nat winter wat voorlê, gaan ons baie troos nodig hê!

Karen se kerriemaalvleisjafels

Genoeg vir 4 jafels

2 eetlepels olie
½ ui, fyngekap
½ groen brandrissie, naatjies en pitjies verwyder en fyngekap
1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 eetlepel vars gemmer, fyngekap of gerasper
200 g maalvleis
2 teelepels matige kerriepoeier
1 teelepel tamatiepasta
¼ koppie vleisaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
’n handvol varsgekapte koljanderblare
2 eetlepels gewone volroom jogurt
2 eetlepels blatjang
8 snye brood
botter vir smeer

Steek die gasplaat aan en plaas ’n vlamverspreider onder ’n swaarboompan. Verhit die olie daarin en braai die ui, rissie, knoffel en gemmer saam totdat die ui begin sag word. Roer die maalvleis met ’n vurk by om te keer dat dit klonte maak. Braai totdat die vleis heeltemal verkleur het. Voeg die kerriepoeier by en roer deur. Roer die tamatiepasta by die aftreksel en giet oor die vleismengsel. Geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek die pan en laat vir ongeveer 20 minute liggies prut of totdat die vleis sag is en sy eie dikkerig sous begin vorm. Roer die koljander en jogurt deur en hou eenkant. Smeer botter aan die buitekant van elke sny brood en skep 2 opgehoopte eetlepels kerriemaalvleis en 1 teelepel blatjang in die middel van een sny op die ongebotterde kant en sit die ander sny bo-op met die botterkant na buite. Sit die brood in die jafelpan en druk af sodat die oortollige brood afgesny word. Gebruik ’n skerp mes om die hardnekkige oorhangbrood skoon af te sny. Sit die jafelpan op die gasvlam (die kole werk ook goed wanneer jy braai). Braai ’n paar minute aan die een kant en dan aan die ander kant. Maak die pannetjie oop en lig die jafel met ’n plat mes uit.

Wenk:  Maak eers jou jafelpan ’n bietjie warm oor die gasvlam of kole voordat jy die broodjie insit. Dit help dat die oortollige brood makliker afsny.

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Karen, jy het maar net 'n manier van skryf wat enigiemand en almal sal bekoor. Ek het ongelooflike respek vir jou, dat jy so mooi na jou ma omsien. Die heerlike jafelresep is net 'n bonus!

  • Jan, boepensbroodjie is musiek vir my ore. Maar jafel het al so volksbesit geword. En eintlik, as jy mooi daaroor dink, is die klein kalant 'n regte jafel. Hy is onweerstaanbaar, maar gaan reguit heupe toe.

  • Mich, baie dankie vir jou mooi woorde. Jy sal nooit weet hoeveel dit vir my beteken nie. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top