kortstondig
word jy mondig
maar dis eintlik net die begin
vir jou: jy moet immers stadig jou eie
mens kan word. leer om te kruip: hoe swaar
hoe baie moet mens kruip voordat jy op
jou bene, jou eie voete staan. net stáán is min
genoeg al is dit bitter min. steier
steier jy dan daarna verder van bank
tot stoel tot tafelpoot. “kyk, sy loop” roep
iemand uit en jy wéét kort voor lank
is jy daar by die venster, kyk deur die ruite,
loer oor die onderdeur. maak oop. die stoep
steek jy oor, die paadjie langs en uit by die hek.
ver agter hoor jy nog hoe iemand skree “stop
haar!” maar jy weet die klein wêreld is verby:
die haar is nie meer sy nie, jy is jou eie ek.
jy het uiteindelik grootgeword, jou naam gekry.

